Só is daar koers gekies al met die son langs

Geplaas deur Gerhard van Huyssteen Saterdag 28 Januarie 2017
Gepubliseer in VivA;

Vra Johan Anker op Facebook: “Waar kom ons aan die woord “oos”? Hoekom moet wes en oos noodwendig staan teenoor noord en suid? Wie het so besluit?”

Dis die jaar 300 VHJ (voor huidige jaartelling). Een of ander ou, kom ons sê maar Wiljahelmaz, en sy gesin woon skuins ten suide van die Elbe, daar doer op die Noord-Duitse Laagvlakte. Sy voorgeslagte het oor ʼn tydperk van duisende jare (sedert ongeveer 4 200 VHJ) vanaf die Urheimat (die gebied ten noorde van die huidige Georgië) verhuis en hulle hier kom vestig. Hy en sy gesin voer ʼn eenvoudige, verwesterste bestaan.

As Wiljahelmaz ʼn bietjie wil gaan stap (ʼn mens moet darem jou 10 000 treë per dag inkry), dring sy vrou, Haduwīg, daarop aan dat hy moet sê in watter rigting hy gaan stap. Die hinterland raak toenemend gevaarlik met al die Vandale en Barbare wat die plek toestroom.

As die son opkom in die ooste, voel Hoekom op sy broosste

Wiljahelmaz het slegs die son as rigtingwyser. Sy rigtingwoorde is dus alles songebaseerd:

  • *aus-to- (ooste): Dit beteken letterlik “skyn-rigting”, met ander woorde in die rigting waarin die son begin skyn of opkom. Dit was vir die klomp Germane die belangrikste rigting, soos tans nog in baie kulture en gelowe.
  • *wes-t- (weste): In Proto-Indo-Europees (die oermoedertaal van Germaans) het *we- “om te sak of af te gaan” beteken, en uiteindelik het *wes- “aand” beteken. Ons herken hierin ook nog die kerkterm “vesper” wat “aanddiens” beteken.
  • *nurtha- (noorde): Die stam van *nurtha- is *ner- wat “links” beteken het. As jy in die rigting kyk waar die son opkom, dan is noord altyd aan jou linkerkant. Eintlik beteken “noord” dus “links van die rigting waar die son opkom”.
  • *sunthaz (suide): Die stam van *sunthaz is *sunnon wat “son” of “die area van die son” beteken. Wiljahelmaz en gesin woon in die noordelike halfrond. Waar ons hier in die land van Homo naledi ons huise laat noordfront vir maksimale sonblootstelling, werk dit presies andersom in daai geweste. Hulle plaasopstalle front suid, in die rigting van … die area van die son!

Intussen, in Rome …

Dié smoor het vir hulle mos baie grênd gehou. Hulle woord vir oos was orientalis, wes was occidentalis, noord borealis (of septentrionalis, as jy jou regtig slim wou voordoen) en suid australis (of meridionalis). Een van die stryde wat Latyn teen Germaans verloor het, was dat Wiljahelmaz se woorde veel makliker was en uiteindelik ook deur baie Romaanse tale geleen is. Byvoorbeeld, “noord” is nord in Frans, Roemeens, Italiaans en Katalaans, en norte in Spaans en Portugees.

Die Latynse australis (“suid”) lyk egter verdag baie op Wiljahelmaz se *aus-to- (“oos”), en nie verniet nie, want dié twee woorde is van dieselfde Proto-Indo-Europese oorsprong. Maar hoe nou gemaak: Die een beteken “suid” en die ander “oos”?

Slaan Google Maps ope, en kyk in watter rigting lê Italië (indertyd die sentrum van Latyn) se simmetrieas, regdeur die brug van die skoen. Suidoos, presies tussen australis én *aus-to-. En verleng nou daai suidoostelike lyn oor die kaart, af en af en af, soos die kraai sou vlieg. Waar kom jy uit …?

Wiljahelmaz sou graag wou weet, had hy maar ʼn goeie internetverbinding.

Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 28 Januarie 2017 verskyn.

 

Lees 1654 tye Laaste modifikasie op Saterdag 04 Februarie 2017 06:31

2 Opmerking(s)

  • Kommentaarskakel Gerhard van Huyssteen Saterdag 04 Februarie 2017 06:35 geplaas deur Gerhard van Huyssteen

    Dit is inderdaad 'n fout wat dikwels gemaak word - ek is sélf dikwels daaraan skuldig. Dit illustreer mooi hoe ons breine analogieë vorm: Germaans - Nederlands - Yslands - Frans - Duits - Sweeds - Italiaans - Spaans ... *Latyns. Dis amper natuurlik om agter elke taalnaam 'n -s te skryf, al is dit verkeerd in gevalle soos Latyn, Esperanto, Xhosa, ens.

  • Kommentaarskakel Em Steyn Sondag 29 Januarie 2017 13:28 geplaas deur Em Steyn

    Die naam van die taal is tog seker Latyn en nie Latyns nie. Ek hoor en sien laasgenoemde nogal dikwels. Is dit gewone mense se onkunde wat hulle Latyns laat sê?
    Emmerentia Steyn

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK