Oor soldate, orrels en engele

Geplaas deur Sophia Kapp Woensdag 08 Februarie 2017
Gepubliseer in VivA;

Werk anderdag deur ʼn lys woorde vir opname in VivA se databasis. Dit gaan oor uitspraak, nie oor betekenis nie, en die onderwerpe loop wyd. En so met die blaai deur amper 12 000 inskrywings is daar een wat my opval, een wat ek baie lanklaas gehoor het: “serfyntjie”.

Ek weet nie of my kind meer weet wat ʼn serfyntjie is nie. Ek weet nie of my tydgenote meer weet wat dit is nie. Dis ʼn ding uit die geskiedenis, so deel van ʼn ouer huishouding soos ʼn kolestoof en ʼn koos onder die katel – die huisorrel, waarop daar saans met boekevat voorgespeel is en dalk op ʼn Saterdagaand saam met ʼn viool en ʼn konsertina in die voorhuis musiek gemaak is sodat die jongklomp op ʼn meelbestrooide stoep kan dans.

Ek lees die eerste huisorrel is in 1735 in Suid-Afrika gebou, in opdrag van goewerneur Jan de la Fontaine. ʼn Kompanjiesamptenaar met die naam van Jan Posse was ʼn orrelbouer van beroep en het die instrument op versoek van die goewerneur vir dié se dogter gemaak. Toe die goewerneur terug is Nederland toe, het die gemeente in die Kaap die orrel by hom gekoop, en dié serfyntjie het kerkorrel geword. Die eerste orrelis wat op hom gespeel het, ene Paul Kraker, was in die week ʼn soldaat in diens van die Kompanjie.

“Serfyntjie” was ons familie se woord vir ʼn huisorrel. En al is “serfyntjie” in die WAT opgeteken, is die regte benaming daarvoor eintlik “serafyntjie” of “serafyn”, ʼn woord wat amper net so verouder is as die instrument. Volgens die Etimologiewoordeboek van Afrikaans kry ons dié woord reeds in Middelnederlands (serafijn) en het dit toe reeds verwys na ʼn engel van ʼn hoë rang. Die woord het natuurlik in Latyn gaan draai (seraphim), maar dit is reeds in Hebreeus te vinde, as ʼn afleiding van die werkwoord saraph, wat beteken “brand”. Dié verwysing slaan op Jesaja 6:6-7, waar die engel met ʼn gloeiende kool aan Jesaja se lippe geraak het en waarna die profeet sy onwilligheid om te praat oorkom het.

Die skakel tussen die orrel, die engele en die soldate het nie by Paul Kraker in die Kaap geëindig nie. In 1791 het nog ʼn soldaat, Johann Ludewig Hodderson, ‘n eenmanuaalorrel vir die Strooidakkerk in die Paarl gebou. Anton Anreith het die houtsneewerk op dié orrel se front gedoen en dit onder andere met serafyne versier.

Ek het ongelukkig nooit ons familie se serfyntjie te siene gekry nie. My oupagrootjie het as oudste seun dié instrument geërf, maar by sy dood moes my oumagrootjie by haar kinders intrek. Al die familiestukke het huise gekry, buiten die serfyntjie. Geen kind of kleinkind het nut of plek daarvoor gehad nie, en sy en die serfyntjie het alleen in die agterplaas van hulle dorpshuisie agtergebly toe die res van haar trek vort is. En omdat sy die kryger was wat sy was, het sy ʼn byl gevat, die serfyntjie in ʼn duisend stukke gekap en dit toe aan die brand gesteek. Want oor haar dooie liggaam sal ʼn familie-engel oor ʼn vreemde mens se huis die wag hou.

VivA-groete

Sophia

 

Bronne:

http://repository.up.ac.za/bitstream/handle/2263/39968/VanSchoor_%20Geskiedenis_2014.pdf?sequence=3&isAllowed=y

http://tardis.dl.ac.uk/FreeReed/organ_book/node4.html

http://www.viva-afrikaans.org/

Lees 711 tye Laaste modifikasie op Woensdag 08 Februarie 2017 07:01

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK