Selfs 'n sluwe linguis vang soms sy baas

Geplaas deur Gerhard van Huyssteen Saterdag 11 Februarie 2017
Gepubliseer in VivA;

Sit ʼn taalkundige in ʼn kroeg, gemoeid slegs met sigselwers en ʼn whiskey.

ʼn Breedbeborsde, betatoeëerde bokbaard kom sit op die kruk neffensaan.

“So, what’s your name?” vra hy ná hy ʼn tapbier bestel het. Sy aksent klink Amerikaans.

Die linguis sug diep, binnensmonds. Om sy erg Afrikaanse naam en van uit te spel aan dese en gene wat nie régtig belang daarby het nie, is erg vermoeiend. Hy kies dus vir sy “restaurantnaam” – die naam wat hy gebruik as hy telefonies besprekings by ʼn restaurant maak.

“Alex Alexander.” Want of jy Afrikaans, Engels of Xhosa is, jy sukkel nie met dié naam en van nie.

“OK, I’m Peter Peterson.”

“Nice to meet you, Peter.”

Stilte.

“Sooo, what do you do for a living?” probeer Baardman die gesprek op gang kry.

Dié keer kom die taalkundige se sug effens hoorbaar uit. Dis die een vraag wat al wat ʼn linguis is vrees, want daar is gewoonlik een van vier opvolgvrae:

  • O gits, dan moet ek seker nou op my taalgebruik let?!” Dié opmerking kom veral in Afrikaanse geselskap voor, en die res van die gesprek kring dan dadelik uit na die Voortbestaan van Ons Taal en die verloedering daarvan deur die jeug. Ek ken maar weinig taalkundiges wat taalpuriste en skoolvosse is; die meeste van ons verheug ons juis in taalverandering, die variëteite van ʼn taal, tale en sprekers in kontak met mekaar. Die misterie van taal lê juis in die randverskynsels, die uitsonderings.
  • Hoeveel tale praat jy?” Daar is ʼn verskil tussen ʼn linguis en ʼn poliglot. Eersgenoemde bestudeer een of meerdere tale, die ander praat/lees/skryf/verstaan meerdere tale. Met die uitsondering van ʼn paar Afrikataalkollegas bemeester die gemiddelde linguis wat ek ken so tussen een (gewoonlik Amerikaners) en drie of vier tale (gewoonlik die tokkelokke). Prof Ernst Kotzé, oud-Taalkommissievoorsitter en ʼn vooraanstaande taalkundige, is twaalf tale magtig, maar hy is die uitsondering op die reël.
  • Mmmmm, so hoe dra jou navorsing by tot ʼn beter wêreld?” Dié ene is moeilik, want dis dalk ʼn vraag waarmee menig geesteswetenskaplike (of enige akademikus) op die een of ander tyd moet stoei. Ek antwoord gewoonlik dat, sonder taalkundiges, ons dit nie gaan regkry om rekenaars te ontwikkel wat slimmer as mense is nie. Daarom is ons noodsaaklik. Dit lei dan die gesprek flink in ander rigtings, veral as die gespreksgenoot met ʼn lyf vol tatoes rondloop.
  • Jy’s ʼn ling… wat??” Die vraag is nie so erg nie, want dan kan ʼn mens darem verduidelik dat die woord uit die Latynse lingua kom wat letterlik “tong” en later “taal” beteken het. En dan is die skakels vlot na “mother tongue” en ander woord wat met lingua verband hou. Of die gesprek hou dadelik op.

Die taalkundige se ma het hom goed opgevoed en hy antwoord Baardbek dus bedeesd: “I’m working in the language industry.”

“Oh, interesting, and in what branch of the language industry? I’m a linguist myself!”

Moet nooit ʼn man op sy baardjie takseer nie …

Eindnota: Met erkenning aan David Lightfoot, Arnold Zwicky en Geoff Pullum by wie ek intertekstueel geleen het.

Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 11 Februarie 2017 verskyn.

Lees 1270 tye Laaste modifikasie op Saterdag 18 Februarie 2017 05:34

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK