Internasionale Moedertaaldag

Geplaas deur Sophia Kapp Dinsdag 21 Februarie 2017
Gepubliseer in VivA;

21 Februarie 2017

 

Ek het grootgeword in 'n familie wat Afrikaans se pynlikste ontluikingsjare beleef het. My oupa was een van dié wat op 'n stoel moes staan met donkie-ore aan omdat hy Afrikaans gepraat het in 'n land wat hom wou verengels. 

Hulle het hard gewerk om Afrikaans te bevorder, my grootouers. In Natal, die provinsie wat vandag nog effe trots is op sy bynaam "The Last Outpost". Dit was nie maklik nie. Hulle is daarvoor gehoon, soms selfs verneder. Maar hulle het op hulle beskeie manier gedoen wat hulle kon vir die taal - seker gemaak hulle drie kinders word in Afrikaans onderrig, Afrikaanse boeke gekoop, Afrikaanse films ondersteun, Afrikaans keurig gepraat.

Maar nie my ouma of my oupa was taalimperialiste nie. Hulle kon albei Zoeloe praat, my oupa so vlot dat jy toe-oë nie sou kon agterkom hy is nie 'n moedertaalspreker nie. En hy het dié taal as 'n volwassene aangeleer, uit noodsaak en uit respek vir die mense wat langs hom in Zoeloeland se suikerrietlande panga geswaai het.

Onthou vandag, op hierdie dag, dat jou moedertaal jou trots mag en moet wees, dat jou hart daarvoor mag klop en dat jy hard mag werk om Afrikaans te beskerm en te bevorder. Maar onthou ook dat dié voorreg almal toekom. Ander mense se moedertale is hulle trots. Respekteer dit.

Die manier om jou taal ten beste te dien, is gewoon om hom te gebruik. Om hom te lees en te skryf en seker te maak jou kinders word in hom onderrig. Om Afrikaanse kunstenaars, skrywers en publikasies te ondersteun. En om, wanneer jy self jou taal aanwend, seker te maak jy werk met 'n geslypte beitel. Want dis net dan wat jou woorde en jou werk in die sterre in loop.

Ek kry 'n klein klein beiteltjie,
ek tik hom en hy klink;
toe slyp ek en ek slyp hom
totdat hy klink en blink.

Ek sit 'n klippie op 'n rots:
- mens moet jou vergewis:
'n beitel moet kan klip breek
as hy 'n beitel is  -

ek slaat hom met my beiteltjie
en dié was sterk genoeg:
daar spring die klippie stukkend
so skoon soos langs 'n voeg:

toe, onder my tien vingers bars
die grys rots middeldeur
en langs my voete voel ek
die sagte aarde skeur,

die donker naat loop deur my land
en kloof hom wortel toe -
só moet 'n beitel slaan
wat beitel is, of hoé?

Dan, met twee goue afgronde
val die planeet aan twee
en oor die kranse, kokend,
verdwyn die vlak groen see

en op die dag sien ek die nag
daar anderkant gaan oop
met 'n bars wat van my beitel af
dwarsdeur die sterre loop.

NP van Wyk Louw

Lees 835 tye Laaste modifikasie op Dinsdag 21 Februarie 2017 07:14

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK