Ken jy dié uitdrukking? Dis in die HAT opgeneem en dit beteken presies wat jy dink dit beteken: Dit wat jy doen, praat harder as dit wat jy sê.
Hierdie beginsel geld veral vir die kinders in ons sorg. Dis ʼn duur les wat ouers en opvoeders moet leer: Dit help nie ons verwag van ons kinders optrede, gedrag, gewoontes, lewenswyses, opvattings, uitkyke, insigte, beginsels en etiese kodes wat ons nie vir onsself aangekweek het nie. Om dit in ʼn moderne idioom te stel: ʼn Kind doen wat jy doen, nie wat jy sê nie.
Ek het onlangs met ʼn groepie skoolkinders te doen gehad wat aan ʼn redenaarskompetisie gaan deelneem. (Julle weet waarvan ek praat, dis elke jaar elke ouer en elke taalonderwyser se terugkerende nagmerrie.) Die kinders was gefokus, toegewyd, bitter intelligent en dwalend. Nie een het ʼn idee gehad waar om te begin navorsing doen nie en het by my opgedaag met blanko eksamenblokke, aan die hand van ʼn juffrou wat hulle in ʼn skoolkombi gelaai het en “kundige” hulp gaan soek het. Toe ek begin praat, het hulle almal verwoed begin notas afneem, toe ek vra watter bronne hulle al geraadpleeg het, het hulle my aangekyk asof ek van hulle verwag het om die wiel te herontwerp. Een het darem op ʼn kol vir my so effe verontwaardig gesê “Ons het gegoogle, tannie!”, maar daar was klaarblyklik ook nie genoeg onderskeidingsvermoë om die koring van die kaf op die wêreld se grootste rommelhoop (ja die internet) te skei nie. Ek het hulle so gekyk en gewonder of hulle dan nie verdien om aan een van die immer groeiende bende tollenaars uitgelewer te word wat skooltoesprake teen betaling skryf nie.
Ek lees William Faulkner het reeds in 1958 gesê dat Amerikaanse skole gedaal het tot die vlak van kinderoppassers. Gelukkig is die man dood, want ek kan my net indink wat hy van dié groepie te sê sou gehad het.
Hoor vir my, ek weet daar is onderwysers wat hulle werk doen. Ek weet daar is ouers en opvoeders wat opvoed en nie net afrig nie. Maar hulle is in die minderheid. Ons sit met ʼn geslag babavoëltjies wat net weet hoe om hulle bekke te rek en te wag vir klaar verteerde kossies om in hulle keelgatte af te gly. Hulle weet nie meer hoe om hulle weg na ʼn biblioteek te vind nie, en as hulle daar kom, weet hulle nie meer hoe om kennis daarin te ontgin nie. Erger nog, as dié inligting nie ʼn uitkoms vir ʼn leereenheid is nie (netjies saamgevat in ʼn kolpuntlys met oulike ikoontjies langsaan), stel hulle nie daarin belang om dit te ontgin nie. Kort voor lank sit ons met ʼn generasie wat dink die wêreld bestaan uit dit wat hulle deur oorlewering, fopnuus op Facebook en ʼn geskinder op Snapchat geleer het. En vir so ʼn generasie is dit moontlik, en selfs vermaaklik, om die korpus kennis, die magdom insigte en navorsing en die kosbare intellektuele erfenis wat oor baie eeue deur kundiges versamel is, te minag.
My vraag is: Waar staan jy in hierdie proses? Teken jy die ikoontjies? Verteer jy die kossies namens die jong denkers in jou sorg? Lei jy nog ʼn generasie grondsluipers op wat in hulle eie nes sit en mekaar warm dinges? Of maak jy soos die ma-arend, wat op die lip van die krans nesmaak sodat sy haar kroos kan grootmaak na die beste van haar vermoë, maar hulle dan uitskop sodat hulle kan vlieg?
Hou op om kinders se toesprake te skryf. Hou op om vir hulle toesprake te koop. Leer hulle dink, sodat hulle self kan toesprake skryf. En as hulle dan steeds nie kan toesprake maak nie, leer hulle om stil te bly. Nie almal hoef openbare sprekers te wees nie. Maar almal moet hulle vlerke kan sprei en met hulle eie kragte kan vlieg.