Om oor taal te klets

Geplaas deur Sophia Kapp Woensdag 29 Maart 2017
Gepubliseer in VivA;

Joey Basson, gereelde VivA-gebruiker, taalonderwyser en administrateur van ʼn gewilde kletsblad Taalstoepie, vra vanoggend: Hoekom word “awesome” nie opgeneem nie? Afrikaanssprekendes gebruik die woord so gereeld dat dit al vir die meeste “gewone” taalgebruikers soos ʼn Afrikaanse woord voel.

Die reaksies op so ʼn vraag is voorspelbaar: “Ja, almal praat so” of “Nee, dit is aaklig”. En dit is hoe die gesprek vloei: voorstanders teenoor teenstanders. Heen en weer, oor en oor, sonder dat daar werklik rigting en uitsluitsel kom.

 

Eintlik is die saak so ʼn bietjie meer verwikkeld as dié twee teenpole van die debat, en dit is dalk goed om so ʼn paar merkers te stel vir toekomstige gesprekke op sosiale media oor “regte” en “verkeerde” taalgebruik.

  • Jy mag praat en skryf nes jy wil. (Ek is nie sarkasties nie, ek bedoel dit.) Jou taal is soos jou voorkoms: Jy mag aantrek wat jy wil en jy mag jou liggaam behandel soos jy wil. Maar as jy ʼn been deur jou neus gesteek het en nooit jou tande borsel nie, kan jy nie ʼn internasionale handelsbank verkwalik wat weier om jou as hulle uitvoerende direkteur aan te stel nie. As jy wil hê mense moet hulle geld vir jou gee om te belê, moet jy ryk lyk. As jy wil hê mense moet jou mening aanvaar, jou kennis vertrou, jou insigte respekteer of jou stories lees, moet jy lyk asof jy dié goed korrek kan formuleer. (Ja, ek weet dis onregverdig, maar ek het nie dié vooroordeel geskep nie, ek wys dit net uit. As jy dit in werking wil sien, kyk wat op gesprekslyne op sosiale media gebeur as iemand ʼn spelfout maak – ʼn persoon wat nie kan spel nie, se mening is sommer ook nie geldig nie.)
  • Geen taal se standaardvorm is ʼn soort ideaal waarheen elkeen hoef te streef nie. Enige taal is baie meer, ryker, wyer en dieper as sy standaardvorm. Die niestandaardvariëteite is die lewende, groeiende, polsende klop van die taal en dit is hierdie variëteite wat die standaardvorm voed. Die standaardvorm is (en dis my definisie) ʼn soort grootste gemene deler waarin die taalgemeenskap met mekaar kommunikeer sonder daar misverstand en bagasie in gesprekke insluip (verwys weer na punt 1 hierbo.) Ter illustrasie: As jy mense goed ken, kan jy hulle groet met “howzit”. As jy om ʼn pos aansoek doen en jy lui jou e-pos in met “howzit, my bra”, kan jy maar dié joppie op jou maag skryf en met jou hemp afvee. Dit punt is: die standaardvorm is in alle omstandighede bruikbaar. Die niestandaardvorme het ʼn plek, maar beperkter gebruiksmoontlikhede. Dit beteken nie jy hoef ʼn waardeoordeel te maak nie, maar jy moet wel kan oordeel.
  • Taalonderwysers en -dosente weet jy kan jou eie moedertaal praat. Hulle werk is om seker te maak jy kan die standaardvorm skryf. Die oogmerk daarmee is nie om jou onnosel of onbevoeg te laat voel nie, die oogmerk is om jou teen vooroordeel te beskerm (verwys weer na punt 1 hierbo). Hulle wil hê jy moet jou man of vrou in die taalgemeenskap kan staan, sonder dat jou medetaalgebruikers etikette om jou nek hang die oomblik as jy jou hand aan papier slaan.
  • Woordeboekmakers doen nie noodwendig niestandaardvorme ʼn guns om hulle standaard te maak nie. Mense gebruik juis niestandaardvorme om solidariteit met ʼn groep te bewerkstellig. (Luister maar na jou eerstejaarstudent wat vir die eerste keer huis toe kom vir ʼn vakansie. Die woordeskat is skielik deurspek met vreemde uitdrukkings. Dis die manier waarop jou kind inskakel.) Die oomblik as ʼn mens dié woorde en uitdrukkings “verhef” tot standaardtaal, ontneem jy die niestandaardvorm van sy funksie. Wat beteken die woord verloor sy trefkrag en daar moet ʼn ander (eienaardige) woord gevorm word om dié funksie te vervul.
  • Soos enige ander sosiale gebruiksartikel, het taal modegiere. Daar is modewoorde, gonswoorde, grilwoorde, stopwoorde, fopwoorde en sommer plein, outydse foefies. As dié klater aanmekaar in woordeboeke opgeneem word, sit ons naderhand met bladsye vol uitgediende twak wat niemand meer gebruik nie. Ons soek ewigheidswaarde voor ons “opneem”.
  • So swaar as wat dit is om te aanvaar, is jy (en jou vriendekring op Facebook) nie verteenwoordigend van die taalgemeenskap nie. Die land is groot en Afrikaans se sprekers kom uit alle gewestes. Woordeboekmakers en liggame soos die Taalkommissie wat oor opname moet besluit, werk deur groot korpora, doen navorsing, lees, soek en toets voordat ʼn woord as standaard aangebied word. Over geset synde: Ons wil eers weet wie presies “almal” is voor ons ʼn woord gaan opneem.
  • Mense praat slordig. En sommige skryf soos hulle praat. Dis nie ʼn sonde of ʼn skande nie, maar dis ook nie noodwendig lofwaardig nie. Dit is nie woordeboekmakers se plig om lui taalgebruikers tegemoet te kom met stopwoorde soos “awesome”, “random” of “cool” omdat mense lui, oningelig of onnoukeurig met taal werk nie. Daar is Afrikaanse woorde vir dié woorde. Baie. Oulikes. Gepastes. Treffendes. En net soos wat jy dalk ʼn baie sterk standpunt stel oor jou menswees as jy met oliebesmeerde jeans en ʼn uitgerekte T-hemp by jou beste vriend se troue opdaag, loop jy ʼn enorme risiko dat jou vriend (en sy bruid, en al die gaste) gaan dink jy is minagtend teenoor hulle, die geleentheid en die instelling. Ja, daar is ʼn tyd en plek vir sulke kleredrag net soos wat daar ʼn tyd en plek vir gemaklike taal is. Maar net soos wat Woolies nie oliebesmeerde jeans en uitgerekte T-hemde verkoop nie, verkoop woordeboeke ook nie slordige taal nie.
  • Taal is in sy wese ʼn gebruiksartikel. Dit is nie mooi, lelik, aaklig, dom, sleg of “bekotsenswaardig” (soos ek deur ʼn gebruiker toegesnou is) nie. Dis woorde en klanke en skrifbeeld en betekenis. Jy kan dalk minder of meer van bepaalde taalgebruik hou of dink dis onvanpas, maar die woorde self is net woorde. Die waarde wat ons daaraan heg, is ʼn subjektiewe oordeel. Onthou dit wanneer jy oor aanvaarbaar en minder aanvaarbaar praat en dink mooi oor adjektiewe soos “aaklig” of “bekotsenswaardig” (wat, terloops, nie opgeneem is nie).
  • Daarbenewens moet ʼn mens ook onthou dat dié einste gebruiksartikel vir elke gebruiker iets anders beteken. Sommige mense gaan dit oppas, ander gaan dit deur hulle dingesse trek. Vir sommige mense het dit groot sentimentele waarde, vir ander is dit iets wat jy kan weggooi as dit nie meer bruikbaar is nie. Wat jy ook al van jou taal dink en hoe jy daaroor voel, is joune om te vereffen. Maar jy moet altyd onthou dat jou sentimente rondom taal ook net joune is. Aanvaar dat mense nie met jou daaroor hoef saam te stem nie.

Gesprekke oor taal is altyd vir taalmakers, taalnavorsers, taalwerkers en taalliefhebbers ʼn riem onder die hart. Dit beteken mense is betrokke, hulle stel belang, hulle gee om. As ons sulke gesprekke reg voer, is dit dalk net tot almal se beswil. Maar moenie dat dié gesprekke die spoor byster raak nie, want dan is dit dieselfde ou vervelige getjorrel: Almal praat so. Ja, maar dis aaklig.

Lees 1286 tye Laaste modifikasie op Sondag 02 April 2017 00:29

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK