Ek het al by my ma geleer ʼn mens moenie ʼn tannie op haar voorskoot takseer nie. My ma bak en brou en brei mos deesdae vanaf Pinterest en allerhande ander geheimsinnige platforms op die Donker Web.
Tannie Linda is heeltemal reg: Inligting oor die verbande tussen die herkoms van “weerga” en “weergawe” is maar skrappies op die ganske web, selfs in die diep en donker gate.
Die Etimologiewoordeboek van Afrikaans (ook beskikbaar in die VivA-toepassing) verduidelik dat “weerga” oorspronklik in Middelnederlands ʼn samestelling was: weder (wat “teen” beteken) + gade (wat tans “eggenoot” beteken, maar oorspronklik “gelyke” beteken het). Jou wedergade (of vandag “weerga”) is dus “jou gelyke wat teenoor/naas jou staan”.
Deesdae gebruik ons “weerga” eintlik altyd met ʼn oortreffende betekenis in sinne waarin daar ontkennings- of negativeringswoorde voorkom, byvoorbeeld “sonder weerga” of “weergaloos”. Jy sal dus nie sommer sê “Gertjan is my weerga” nie, maar eerder “Gertjan het geen weerga nie” of “Gertjan is sonder weerga” of “Gertjan is weergaloos”. Daar is dus niemand wat by die liewe Gertjan kan kers vashou nie.
Die woord “weergawe” het in sy oorsprong weinig met “weerga” te make, want sy grondwoord is die samekoppeling “weergee” wat beteken “herhaal wat gesê is” (soos in “iemand se woorde getrou weergee”). In Nederlands was dit oorspronklik weder (wat “nogmaals” beteken) + geven (wat vertaal word met “gee”). Om van die werkwoord wedergeven ’n naamwoord te maak, verander die klinker \e\ in ʼn \a\, soos ook byvoorbeeld gebeur in “oorneem” > “oorname” (die sogenaamde ablautproses). En in Afrikaans het die Nederlandse klinker \v\ dikwels ʼn \w\ geword, soos ook in duiven > “duiwe”.
Terloops, “gawe” wat “talent” of “aanleg” beteken (soos in “die gawe om stories te vertel”) kom ook oorspronklik van geven (“gee”): dit is ʼn talent wat vir jou gegee is. En iemand wat gaaf is? Oók van dieselfde stam geven! ʼn Gawe kêrel is ʼn outjie wat geskik is om gegee te word, om in die publiek aangebied te word. Die gawe Gertjan is sonder weerga, want hy het die gawe om stories te vertel.
“Weergawe” se paadjie loop dus van wedergeven > wedergave > “weergawe”. Dit beteken “reproduksie”, soos in “die nuwe weergawe van ʼn ou liedjie”, of “Zuma se weergawe van die werklikheid”.
Die woorde “weerga” en “weergawe” het dus in wese niks met mekaar te make nie en kan mekaar allermins in sinne vervang. Ons kan dus nie sê “Zuma se *weerga van die werklikheid is sonder *weergawe” nie.
Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 1 April 2017 verskyn.