VIVA SE BLOGS

Kinkelspeurtog na 'Oerknoep' se oorsprong

Geplaas deur Gerhard van Huyssteen Saterdag, 08 April 2017
Gepubliseer in VivA;

“So ’n katspoegie noord van Steinkopf op die N7, die pad vanaf Kaapstad na Windhoek, tussen die glooiings wat uitreik na die hoogtes voordat die 25-tot-30-kilometerafdraand na Vioolsdrift en die Gariep begin, staan daar ʼn bordjie – groen met wit letters: Oerknoep.”

Só skryf emeritus dominee Petrus Kotzé en vra: “Van waar dié Oerknoep, Gehasi?”

Gaan loop staan soek nou vir Oerknoep op Google Maps en jy kry die melding: “Ons kon Oerknoep nie kry nie.” Ná ʼn omvattende soektogte in al wat ʼn pleknaamwoordeboek is, kan ek ook meld: “Ek kon Oerknoep nie kry nie.”

Petrus waag versigtig ʼn raaiskoot: “Jare gelede, voordat daar buitengewoon gebaande paaie was, het die oumense met donkiewaens transport gery langs daardie roete.  Wanneer daar ʼn breek in die tui plaasgevind het en ʼn knoop genoodsaak was, is ʼn hoerknoop gemaak. Sit dit ons dalk op ʼn spoor?”

“Hoerknoop” staan wel in die WAT, en dit verwys na 'n soort seemansknoop. Die kanse is redelik skaars dat dié term daar sou kon uitspoel. Nie heeltemal onmoontlik nie, maar onwaarskynlik.

Ek gaan klop vir hulp aan by prof Christo van Rensburg, voorkenner van Khoi-Afrikaans.

Ons sou die -knoep gedeelte kon teruglei na die Khoiwoord !ab wat “rivier” beteken. Die ! is ʼn klapklank wat in Khoi-Afrikaans ʼn k geword het, en ons kry dus !ab > kab vir “rivier” – vergelyk byvoorbeeld Gam+kab (Leeurivier) of Ou+kab (Droërivier). Die b aan die einde toon wisseling met ʼn p (beide is manlike uitgange in Khoi), en dan word kab > kap. Maar daai !-klapklank het nog ʼn ander gevolg. Probeer om “kap” te sê met ʼn klapklank aan die begin. Daar kom duidelik – in die mond van die Afrikaansspreker – ʼn n voor die a uit. En ons kan dus maklik vorder van kap > knap

Prof Gawie Nienaber het al toentertyd aangedui dat vokaalonderskeidings in Khoi in mekaar vloei, en daarom is knap > knup > knoep moontlik. En so is die tweede helfte van die woord dalk al ontrafel: -knoep beteken miskien “rivier”.

En Oer-? Prof Christo wys daarop dat dit dikwels gebeur het dat ʼn rivier na ʼn stam genoem is. Sy waagstuk in die donker is dat Oer- verband hou met die Goringhaikwas (oftewel Van Riebeeck se Kaapmans). Hulle het nie net versplinter na Knysna se wêreld toe nie, maar ook na die Oranjerivieromgewing. En inderdaad, in Griekwavertellings hoor mens die naam Oerie dikwels. of dink aan “Die predikasies van Jacob Oerson” (Thomas Deacon). Perdalkies is die Oer- in “Oerknoep” dus ʼn verwysing na die Goringhaikwas en kan ons “Oerknoep” dus as ‘t ware vertaal met “Goringhaikwasrivier”?

In ʼn verskuilde, obskure gaatjie van die interwebs ontdek ek, jou wrintiewaar, nog ʼn leidraad: ʼn Gebruiker het nege maande gelede aangedui dat daar ʼn droë rivier is wat die N7 kruis, net daar waar Petrus aangedui het die bordjie staan. En die naam van die rivier? Oerknoep.

Maar hier strand die soektog helaas – ons kan nóg her, nóg der. Prof Christo het bloot ʼn teorie. Nou hoop ons maar daar is ʼn slim leser van daai wêreld wat vir ons meer inligting kan stuur. En natuurlik ʼn selfie by die padnaambordjie.

Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 8 April 2017 verskyn.

Lees 2355 tye

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.


NUUSARGIEF

FACEBOOK