Agtergrond
VivA is ʼn navorsingsinstituut en diensverskaffer vir Afrikaans in digitale kontekste en is ʼn geregistreerde maatskappy sonder winsoogmerk. VivA se hoofbesigheid is om die gebruik en gehalte van Afrikaans plaaslik en internasionaal uit te bou deur:
- die beskrywing en bestudering van Afrikaans in sy volle omvang;
- die ontwikkeling van omvattende digitale en ander hulpbronne, hulpmiddele en platforms; en
- die lewering van praktiese Afrikaanse taaldienste deur middel van tegnologie.
VivA se stigterslede is:
- die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK);
- die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV);
- Die Dagbreek Trust; en
- die Noordwes-Universiteit (NWU).
VivA se produkte en dienste sluit onder andere in:
- Woordeboekportaal, waar gebruikers in ʼn verskeidenheid woordeboeke (en databasisse wat intern ontwikkel word) na woorde kan soek;
- Taalportaal, waar gebruikers meer kan leer oor die fonologie, morfologie en sintaksis van Afrikaans;
- Adviesportaal, waar gebruikers direk vrae kan stel aan die taaladviseur;
- Korpusportaal, waar gebruikers in ʼn groot versameling tekste na patrone van taalgebruik kan soek; en
- Inligtingsportaal, waar gebruikers blogs kan lees, inligting oor simposia kry, ensovoorts.
VivA beoog om hierdie aanbod verder uit te brei, onder andere met ʼn sterker fokus op die ontwikkeling van spraakkorpusse en ʼn uitspraakwoordeboek, asook om die volgende nuwe portale tot stand te bring:
- Onderrigportaal, met onder meer ʼn skoolgrammatika, aanlyn aanleerderskursus (ontwikkel deur die Universiteit van die Vrystaat), leermateriaal vir onderwysers en leerders, podsendings en slypskole;
- Tegnologieportaal, wat insluit tegnologiedemonstreerders wat bydra tot ʼn veeltalige samelewing.
Ten einde dié aanbod te ontwikkel, uit te brei en te bedryf, wil VivA ʼn junior of senior taalpraktisyn vir ʼn termyn van drie jaar aanstel.
Verantwoordelikhede
Die hoofverantwoordelikhede van die taalpraktisyn is die Onderrigportaal, Tegnologieportaal en Korpusportaal, asook die ontwikkeling van die Groot Afrikaanse Uitspraakwoordeboek.
Spesifieke verantwoordelikhede sluit in:
- Konseptualisering en implementering van die Onderrigportaal, met ʼn spesifieke fokus op die ontwikkeling van: (a) ʼn hoëkwaliteit- aanlyn skoolgrammatika; (b) leermateriaal vir onderwysers en leerders; en (c) ʼn verskeidenheid webinare en podsendings
- Konseptualisering en koördinering van die Tegnologieportaal se implementering (in samewerking met VivA se tegnologievennote) (geen programmeerkennis word vereis nie)
- Koördinering van alle aktiwiteite met betrekking tot die insameling, transkribering en beskikbaarstelling van spraakkorpusse (in samewerking met VivA se tegnologievennote en die Universiteit van Pretoria)
- Koördinering, implementering en beskikbaarstelling van die Groot Afrikaanse Uitspraakwoordeboek, insluitende skakeling met vennote, medewerkers en belanghebbers, asook finale kwaliteitskontrole
Ander verantwoordelikhede sluit in:
- Ontginning van korpusmateriaal, spesifiek met betrekking tot die samestelling van ʼn skoolgrammatika en ander leermateriaal
- Ontwikkeling en kwaliteitskontrole van (interne) leksikografiese databasisse
- Dien in die eindredaksie van die Taalportaalprojek
- Skryf van gereelde blogs op VivA se (sosialemedia)platforms
- Skakeling met VivA se vennote en medewerkers waar nodig vir die uitvoering van pligte
- Bystand aan VivA se taaladviseur om van tyd tot tyd taaladvies te verskaf en slypskole aan te bied
- Begeleiding van (ʼn) assistent(e) se werk (indien nodig)
- Hulp met bemarking van VivA se produkte en dienste, inklusief maar nie beperk nie tot optredes by openbare geleenthede soos kongresse
- Aktiewe betrokkenheid by die ontwikkeling, opstelling en instandhouding van VivA se korporatiewe identiteit, webblad, databasisse, programmatuur en kommunikasiekanale
- Verantwoordelikhede soos van tyd tot tyd ooreengekom met die uitvoerende direkteur van VivA
Minimum kwalifikasievereistes en vaardighede
- Toepaslike B-graad of gelykwaardige kwalifikasie
- Grondige taalkundige kennis, met spesifieke verwysing na die grammatika van Afrikaans
- Taalpraktykervaring, met ʼn spesifieke fokus op taalonderrig, leksikografie, en/of toegepaste korpuslinguistiek (junior: ten minste vyf jaar ervaring; senior: ten minste tien jaar ervaring)
- Volledig tweetalig (Afrikaans en Engels), met lees- en begripsvaardigheid in Nederlands
- Bewese skryfvaardigheid (bv. in die joernalistiek, kreatiewe skryfkuns of akademiese omgewing)
- Vermoë om onafhanklik te kan werk, kreatief en innoverend te wees, inisiatief te kan neem en plooibaar te wees
- Hoëvlakrekenaargeletterdheid, met spesifieke verwysing na Microsoft Windows en Microsoft Office
Aanbevole kwalifikasievereistes en vaardighede
- Toepaslike nagraadse of gelykwaardige kwalifikasie
- Bewese spesialisering in Afrikaanse toegepaste en/of beskrywende taalkunde
- Gevorderde taalvaardigheid in ander Suid-Afrikaanse tale en/of Nederlands
- Ervaring in openbare optrede (soos byvoorbeeld klasgee)
- Gevorderde rekenaargeletterdheid met spesifieke verwysing na kennis en beheersing van HTML en XML, databasisbestuur (byvoorbeeld TLex, Autshumato TMS of ander soortgelyke programmatuur), asook reëlmatige uitdrukkings (“regular expression”) (kennis van ʼn programmeertaal is ʼn bonus)
Werksomgewing
- Dit sal van die taalpraktisyn verwag word om sy/haar eie werkplek te verskaf (byvoorbeeld tuis). As sodanig is hy/sy nie gebonde aan ʼn spesifieke plek in Suid-Afrika (of elders) nie.
- Gegewe die virtuele aard van VivA se werksaamhede en die spesifieke verantwoordelikhede van die taalpraktisyn, sal dit van hom/haar verwag word om van tyd tot tyd te reis, asook om gereelde virtuele vergaderings by te woon.
- VivA sal die taalpraktisyn volledig toerus met die nodige apparatuur (slimfoon en skootrekenaar) en programmatuur, asook toegang tot die internet. Die taalpraktisyn sal ook ʼn (e-)biblioteek van bronne kan opbou uit fondse wat beskikbaar gestel word.
Kontrak
- Voltydse vastetermyndienskontrak sonder voordele
- 1 Julie 2017 tot 30 Junie 2020 (onderhandelbaar)
Vergoeding en byvoordele
- R180 000 tot R440 000 per jaar, met jaarlikse verhoging volgens die ATKV se norme
- Geen byvoordele nie
- Normale jaarlikse verlof, soos bepaal deur arbeidsregtelike regulasies
Navrae, aansoeke en sluitingsdatum
Rig navrae aan Gerhard van Huyssteen
E-posadres: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
Skypeadres: geebee100100
Telefoon: 082 562 4814
Om aansoek te doen, stuur jou volledige CV voor 05 Mei 2017 om 17:00 aan Gerhard van Huyssteen by bostaande e-posadres. Daar sal van kortlyskandidate verwag word om vanaf 15 tot 19 Mei 2017 beskikbaar te wees vir virtuele toetsing en onderhoude.
VivA behou die reg voor om geen kandidate vir onderhoude te nooi nie, of om nie ʼn aanstelling te maak nie.
Laai hierdie advertensie in PDF-formaat af.