Hoe sou ’n man, vir sy mense by die huis, dié rāra avis beskryf? ’n Eienaardige voël met lang bene en mooi geveerde vlerke, wat soos die wind kan hardloop, maar wat nie kan vlieg nie.
’n Griekse soldaat, Xenophon, wat saam met sy makkers die toenmalige Persië probeer binneval het, het tuis kom vertel van die strouthoi hai megalai – letterlik die “reusemossies” – wat hulle langs die pad gewaar het. Yslike voëls wat só vinnig hol, ’n Griek te perd kon nie ’n enkele een vang nie.
Die historikus Herodotus maak in van sy optekeninge melding van krygers in Afrika, gewapen met skilde van die leer van strouthon katagaion, “mossies wat grondlangs hardloop”.
Aan dié rare voëls gee die Griekse skrywer Diodorus Siculus in die laaste eeu voor die begin van die huidige jaartelling toe maar die naam strouthiokámēlos – die “mossiekameel”. En mossiekameel is die wetenskaplike naam, Struthio camelus, van ons gewone volstruis tot vandag toe.
Volstruis – of voolstruis, soos die woord oorspronklik in Afrikaans geskryf is – is dus eintlik toutologies.
In sy Etimologiewoordeboek van Afrikaans sê Gerhard van Wyk dat ons die vorm voolstruis die eerste keer by Arnoldus Pannevis kry. In 1880. Die bron word nie vermeld nie, en met ’n bietjie speurwerk, vermoed ek, sal ’n mens dié woord dalk ook in ouer bronne aantref.
Op die voorblad van Die Afrikaanse Almanak, ’n publikasie van die Genootskap van Regte Afrikaners, waarvan die eerste uitgawe in 1877 verskyn het, is die Genootskap se leuse en wapen afgedruk.
Dié wapen, ontwerp deur G.R. von Wielligh, word in die GRA se manifes soos volg beskryf:
“Boan staat Verenigde Suid Afrika. Ja, so vêr moet dit kom : ’n vrije nasie met ’n eije taal. [...] In die middel is ’n hart : die saak gaat va ons hart uit. [...] Onderan staat de titel en die datum van die Genootskap op ’n rol van perkament. [...] Rondom is die opbrengste van ons land. Die Wijnrank an een kant vertoon die Wijnboerderij ; die Korenghalm an die ander kant, die Korengboerderij ; die Os en die Skaap en die Perd, die Veboerderij ; die Voolstruis, die Voolstruisboerderij ; en onder op die grond, ’n Diamand om te toon, dat Afrika rijk is an kostbare stene en metale ook.”
Toutologies, want voolstruis, uit vogelstruis, is saamgestel uit “voël” (vogel) plus “groot voël” (struis). (Hoewel die etimologie nie daarin terug te vind is nie, herinner vol-, die eerste deel van vandag se volstruis, ook aan die Franse vol (“vlug”), wat as heraldiese term ’n gestrekte vlerkpaar aandui, soos die “vlerkies”, byvoorbeeld, op ’n vlieënier se pet of uniform.)
Afrikaans se volstruis, uit voolstruis, is ’n vervorming van vogelstruis, uit die Nederlandse struisvogel; ’n toutologiese samestelling met struis, waarvan ons die verbleekte betekenis via Laat Latyn, struthio, tot by die Ou Griekse strouthós van Afrodite kan naspeur.
Nes die -strich van die Engelse ostrich.
Engels kry sy ostrich van die Ou Franse ostruce (in Moderne Frans is ’n volstruis ’n autruche). Die Franse woorde kom uit Middel-Latyn, ostrica en ostri
Nog voorbeelde van sulke toutologiese vorme in Afrikaans, dit is woorde waarvan die betekenis van een van die dele verbleek het en nie meer duidelik aangevoel word nie, is walvis, tortelduif en spinn
Bibliografie
http://ahdictionary.tumblr.com
Fredericq, Paul. 1913. Zuid-Afrika. Verspreide schetsen. Gent: Julius Vuylstekefonds