So gebeur dit dat dit my taak is om deur elke inskrywing in die Woordelys te lees. Nou, dis ʼn bietjie soos om die Bybel deur te lees – jy weet jy moet seker een of ander tyd in jou lewe so iets doen, maar daar is darem dele (soos daardie klomp voorskrifte in Levitikus en die ellelange stamregisters in Matteus) wat jou na die Pauliniese briewe of ʼn Psalm van Dawid laat hunker. Maar ek het nie ʼn keuse nie, ek moet kommas en kolletjies en kursief nagaan, en ek moet fyn kyk.
En daar tref ek die -krasieë. Dis nou die stelsels. Regeringstelsels. Magstelsels. Stelsels van staatsbeheer, oor die bevolking, die land, die staat en die staatskoffers. Die “-krasie” is immers ʼn erfstuk uit Grieks, waar “kratos” beteken het “mag” of “heerskappy”. Al die -krasieë slaan daarop.
Van hulle ken ʼn mens, want elke laerskoolkind moes in Geskiedenis deur hulle ploeg:
- aristokrasie – heerskappy deur die “bestes” (“aristos” verwys in die Grieks na die beste, edelste, dapperste, eerlikste)
- demokrasie – regering deur die burgers self (“demos” beteken “gewone mense”)
- outokrasie – absolute beheer (“auto” beteken “een” of “self” in Grieks)
Maar, het ek opgelet, daar het intussen so ʼn paar interessantes bygekom waarvan ek nie in Geskiedenis geleer het nie:
- plutokrasie – waar die rykes regeer (“ploutos” beteken “rykdom”)
- oglokrasie – waar die laagste maatskaplike klas ná ʼn opstand aan bewind kom
- tegnokrasie – heerskappy deur tegniese ghoeroes, wat hulle gevorderde kennis inspan om die Kreti en Pleti te beheer
Ongelukkig was dit nodig dat die Taalkommissie onlangs ‘n ander -krasie in hierdie nuwe uitgawe opneem. Nie omdat ons vreeslik baie daarvan gehou het nie, maar omdat die taalgemeenskap kennelik dié woord in Afrikaans nodig het:
- kleptokrasie – ʼn “regering deur diewe”, soos dit in die HAT staan
Daar is nog ʼn -krasie wat glad nie opgeneem is nie – een van die opnamekriteria wat die Taalkommissie voor oë hou by opnames, is sosiale sensitiwiteit. Die kanse dat dit binne die afsienbare toekoms opgeneem sal word, is dus skraal. Maar ek plaas dit hier, want dit is wel in die WAT én in die HAT opgeneem, en volgens etymonline.com is dit reeds sedert 1829 ʼn woord in Engels. En myns insiens het ons dit nog nodiger as “kleptokrasie”:
- kakistokrasie – ʼn regering deur die slegstes (“kakistos” beteken in Grieks “die slegstes”)
Op daardie noot: Ek lees in dieselfde Woordelys dat “gaip” ʼn Afrikaanse woord is. Ek was ʼn Natalse stadskind en het nie ʼn idee wat dit beteken nie, en ek moet op VivA se webwerf gaan naslaan. Daar kry ek die volgende verduideliking: “onverfynde, agteraf persoon”, moontlik ʼn omvorming van “ghaip”, die Khoi-woord vir “maanhaarjakkals”.
Op dieselfde webwerf kry gebruikers toegang tot Skryfgoed se Tesourus, wat aandui dat “gaip” ʼn sinoniem is vir (onder andere) ʼn dwaas, stommerik, mamparra, swaap, lummel, pampoenkop, skaap, sot, ʼn swaap of ʼn jaap. Of ʼn poeph*l.
Ek laat dit aan jou oor om te besluit hoe die gaip in die -krasie se hef steek. Slaan gerus op VivA webblad (www.viva-afrikaans.org) of slimfoontoepassing (kyk in die iStore en op Google Play) na as jy wil weet hoe die “kloaka” in die prentjie pas.
Bronne:
- VivA se Woordeboekportaal (viva-afrikaans.org)
- etymonline.com
Indien jy enige taalnavrae het, kan dit per e-pos gestuur word na Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. of per WhatsApp by 062 126 0295.