Maar ek hou my smoel, want ʼn stil smoel is ʼn heel smoel.
My geïnternaliseerde vrese oor die politieke eenogigheid van ons samelewing word bewaarheid toe oompie Zoempie weer op sy ou ramkie met net een snaar tokkel: “Placards at the marches depicting monkeys, indicated that our white counterparts view black people as less of human beings or sub-human.”
Ons moet die keiser maar vergewe, want ek vermoed sy lakeie het hom slegs ANN7-beelde van die optog laat sien.
Soos wat ek in die gemaksugtigheid van my voorhuis kyk na foto’s van die optogte – nie net van ANN7 nie – val een ding my op: Dit wemel van Afrikaanse woorde en tekste op die plakkate van die bruin, swart en wit optogters.
My eerste instink is om verheug te wees. ʼn Aspek van Afrikaans wat dikwels deur anti-Afrikaanse politici verswyg word, is dat Afrikaans ook ʼn belangrike taal in die Struggle was.
In die boek Ons kom van vêr – bydraes oor bruin Afrikaanssprekendes se rol in die ontwikkeling van Afrikaans (onder redaksie van Michael le Cordeur en Wannie Carstens; Naledi) skryf Franklin Sonn: “Afrikaans is nie net die taal van apartheid nie; Afrikaans is ook die taal van die Struggle en versoening. Dit is ook ’n aanduiding dat Afrikaans deel is van ons swart- en bruinwees, maar dat dit ons ook vasbind aan ons wit taalgenote.”
Maar dan, as ek verder en dieper kyk, pla iets my tog van die Afrikaans in die optogstrate.
Al wat gebruik word van die taal waarin ek my brood en botter in die sweet van my aangesig verdien, is die vloek en skelwoorde. “Zuma is a …”, en vul dan enige growwe naam vir liggaamsdele of -prosesse in. En orals die gewraakte “Voetsek”.
Ek krimp ineen. Hoe lank gaan dit nog duur voor die k-woord op ʼn Afrikaanse plakkaat verskyn?
Geen wonder Zuma sien deur sy ANN7-bril rassistiese optogte nie, want in sy kop is Afrikaans gelyk aan rassisme.
Ek is maar net ʼn Afrikaanssprekende wat hoop en bid dat my dapper medelandgenote Afrikaans goed en verantwoordelik in Struggle 2.0 sal gebruik. Want as ek ʼn politieke aktivis was, sou ek seker met plakkate met Afrikaanse liefdesgedigte rondgeloop het.
Met geen effek in die groter politieke kattemaai nie.
(Patrick Allan verskaf op Lifehacker tien wenke om beter plakkate vir optogte te maak.)
Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 22 April 2017 verskyn.