VIVA SE BLOGS

Metafore maak konsepte meer verteerbaar

Geplaas deur Gerhard van Huyssteen Saterdag, 29 April 2017
Gepubliseer in VivA;

Die meeste van ons het op skool geleer dat ʼn metafoor ʼn sogenaamde stylfiguur is – iets wat digters gebruik om hulle gedigte meer poëties te maak. Byvoorbeeld, in haar bundel Visums by verstek (2011) gebruik Joan Hambidge Suid-Amerika as metafoor van haar geliefde – net soos wat die kontinent hartstogtelik (maar ook vol teenstellings) is, so is haar geliefde “… soos Venezuela wat geen visas toestaan.”

Maar metafore is nie net digters en gedigtelesers beskore nie. Vanaf die 1980’s het daar ʼn sterk denkstroom ontwikkel dat gewone taalgebruik deurspek is van metafore. Ons gebruik elke dag konkrete dinge om meer abstrakte sake mee te verwoord.

Die Esther Greeff-prys van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns is onlangs aan prof Nerina Bosman (Universiteit van Pretoria) toegeken vir haar navorsingsartikel in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe getiteld “EET en DRINK in Afrikaans – 'n leksikaal-semantiese ondersoek”.

Nerina Bosman

Sy ontleed groot versamelings elektroniese tekste (korpusse) om vas te stel hoe ons in Afrikaans abstrakte konsepte meer konkreet maak deur dit as handelinge van eet en drink uit te druk.

Byvoorbeeld: Toe ek onlangs ʼn foto van my nuwe babahondjie, ʼn bruin poedel met die naam Sommer, op Facebook plaas, skryf iemand: “Die oulikste klein ding!!! Sal haar sommer opvreet!!” As jy ʼn bietjie daaroor nadink, is dié uitlating enigsins grusaam. Ek ontvriend dadelik Hannibal Lecter se niggie, die hondevreter.

Maar nee, verduidelik Bosman in haar artikel, ons druk dikwels emosionele of intellektuele bevrediging uit as handelinge van eet en drink. Hier is nog twee voorbeelde uit haar korpusse: “Hy eet, drink en slaap skaak”, en “Ons het die skoonheid van die Oos-Vrystaat ingedrink”. Of dink maar aan Salomo wat gesê het ons moet dronk word van die liefde.

Ons druk oorwinnings, nederlae en vernederings uit as eet of drink: “Mannas het Colleges 14 - 3 verslind”, “Hy het my vandag darem gekou op die tennisbaan”, of “Sy het swaar aan die nederlaag gesluk”.

Intellektuele aktiwiteit word dikwels gelyk gestel aan eet en ander aksies wat daarmee verband hou. Nuwe idees is soos kos wat opgedien word (“Elke jaar of twee word daar ook ’n nuwe denkrigting opgedis”). Jy kry dan die geleentheid om die idee te verken (“Die aand sit Koos en sy vrou aan hulle afsonderlike gedagtes en kou”), of selfs om lank daarmee om te gaan (“Die fliek bied baie om aan te herkou”). As jy die idee verstaan, internaliseer jy dit (“Ons gewone burgers sluk nie meer aan die storie nie”), sodat dit uiteindelik volledig deel word van jou (“Hoe anders gaan die klubgenerasie en die MTV-koolkoppe die boodskap hoor en verteer?”).

Dink ook aan al die idiome in Afrikaans wat met eet en drink te make het. As jy alles glo wat vir jou vertel word, eet jy dit vir soetkoek op. As jy iemand verdra, sal jy baie van hom opeet. Skuldgevoelens vreet of knaag aan jou.

In die tweede paragraaf het ek (onbewustelik) die woord “deurspek” (soos om ʼn skaapboud met spek te stop) gebruik om te verduidelik hoe taal gebruik word. Ek sal een van my ABBA-langspeelplate verwed dat 95% van lesers nie daaraan as ʼn metafoor gedink het nie.

Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 29 April 2017 verskyn.

 
 
 
Lees 10288 tye Laaste modifikasie op Saterdag, 06 Mei 2017 08:46