'Vuil taal' lewer interessante staaltjies op

Geplaas deur Gerhard van Huyssteen Saterdag 06 Mei 2017
Gepubliseer in VivA;

Vloekwoorde en sogenaamde “vuil taal” het my – as taalkundige – nog altyd gefassineer. Dalk omdat ek in ʼn huis groot geword het waar vloek die Eerste Doodsonde was, of dalk omdat vloek soveel van die menslike psige verklap.

Hier is ʼn paar tipiese navorsingsvrae: Hoekom vloek mense? Wie vloek en wie vloek nie, en kan ons dit op grond van geslag of ouderdomsgroep voorspel? Wanneer word watter vloekwoorde gebruik? Is daar ʼn spesifieke deel in jou brein wat verantwoordelik is vir vloek? Wanneer word ʼn woord ʼn vloekwoord? Is daar sistematiek in die betekenis van vloekwoorde? Ensovoorts, ensovoorts, ensovoorts. Ten minste drie PhD-studente kan op dié vrae afstudeer.

Die Afrikaanse taalkundige prof Ilse Feinauer (Universiteit van Stellenbosch) het in 1981 haar meestersgraad met die onderwerp “Die taalkundige gedrag van vloekwoorde in Afrikaans” verwerf. Daarin het sy ʼn klomp onderwerpe oopgeskryf, waaronder vloekwoordinlywing – die fenomeen dat ons ʼn vloekwoord in die middel van ʼn woord kan invoeg, byvoorbeeld “asse-bleddie-blief” of “onge-flippen-looflik” (maar nie *as-bleddie-seblief of *on-flippen-gelooflik nie).

Dit was die eerste Afrikaanse verhandeling wat ek ooit in my lewe van hoek tot kant gelees het.

Selwers het ek in die 1990’s in my meestersgraadverhandeling die metaforiese basis van seksuele uitdrukkings in Afrikaans ondersoek, asook hoe sulke woorde in Afrikaanse woordeboeke hanteer word. (Die voorbeelde is helaas te skunnig vir publikasie in ʼn Saterdagkoerant.)

Onlangs word my belangstelling weer opnuut geprikkel toe ek die uitstekende boek What the F: What Swearing Reveals About Our Language, Our Brains, and Ourselves (Benjamin K Bergen; Basic Books, 2016) lees. In die besonder trek die hoofstuk oor handgebare wat as vloekwoorde gebruik word my aandag.

Wat emoji’s vir geskrewe taal is, is gesigsuitdrukkings en handgebare vir gesproke taal. En soos wat ons woorde het om mee te vloek, so het ons handgebare om visueel uitdrukking aan dieselfde gedagtes te gee.

Die bekendste obsene handgebaar is beslis die ene waar jy jou palm na jouself toe draai en dan die middelvinger “floep!” die lug in laat skiet. Daar is ʼn bekende mite dat dié gebaar sy oorsprong in 1415 by die Slag van Agincourt had toe die Engelse triomfantlik hulle middelvingers vir die Franse gewaai het om aan te dui dat hulle steeds die pyl-en-boog (“yew”) kan aftrek en skiet (“pluck”). En al die Engelse het vermakerig geskree: “Pluck yew, pluck jew!” Maar dis net ʼn storietjie, want die eerste vermelding van dié gebaar vind ons al in ʼn komedie van die Griek Aristofanes in die jaar 423 VHJ.

Ek leer in Bergen se boek vir die eerste keer dat dit in Engels “the bird” genoem word, en jy sê dan: “You flip someone the bird.” Nog nooit van gehoor nie!

En in Afrikaans?

ʼn Informele ondersoek op Facebook bring die volgende patroon aan die lig:

Jy [wys/gee/gooi] (vir) iemand [ʼn/die] [vinger/middelvinger/zap]

Die meeste mense is dit eens dat dit iets beteken wat gepaardgaan met die uitdrukking “maak soos ʼn polisiekar…”

Die beskrywendste segswyse kom egter, soos gewoonlik, uit ʼn kindermond. Anna Davel vertel dat ʼn vriend van haar se kindertjie in ʼn padwoede-insident tussen haar pa en ʼn ander motoris daarna verwys het as “vloekvingertjie gooi”.

Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 06 Mei 2017 verskyn.

Lees 5033 tye

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK