Wetenskap en joernalistiek is moeilik maats

Geplaas deur Gerhard van Huyssteen Saterdag 13 Mei 2017
Gepubliseer in VivA;

Bilingual speakers more flexible thinkers, think of time differently – study

Dié kop oorstroom die afgelope week my Facebook.

Fopnuus en klik-aas word normaliter met politieke beriggewing of infoadvertensies geassosieer. Die ander kandidaat is soms wetenskaplike beriggewing. In dié verband merk die bekende taalkundige Mark Liberman op:

"On the whole, the whole system of science and engineering does a pretty good job of creating knowledge and technology. On the whole, the media do a pretty good job making information available to the public. Put them together, and the whole is noticeably less responsible than the parts."

Hoe verder ek lees, hoe meer kom ek agter dat Mark heeltemal gelyk het: Die kop het eintlik niks met die gerapporteerde studie te make nie!

Die twee navorsers waaroor dit hier gaan, Emanuel Bylund (nogal van die Universiteit Stellenbosch) en Panos Athanasopoulos, het drie eksperimente gedoen: een met Sweedse moedertaalsprekers, een met Spaanse moedertaalsprekers en een met sprekers van beide tale.

Die Swede konseptualiseer tyd as lengte (ons sê in Afrikaans ook byvoorbeeld “ʼn kort tydjie gelede” of “oor ʼn lang tyd”), terwyl die Spanjaarde tyd uitdruk in hoeveelhede (soos ons ook byvoorbeeld “baie/min/genoeg tyd” kan oorhê). Die tweetalige respondente in hulle studie kon maklik tussen dié twee metafore spring, sonder om die metafoor van die een taal in die ander taal te gebruik.

Wat hulle oorspronklik met hulle eksperimente wou aantoon, is dat taal ʼn invloed kan hê op mense se voorstelling van tydsverloop (ter ondersteuning van die bekende Whorfhipotese). Hulle kom egter tot die gevolgtrekking dat taal se effek op hoe mense dink nie ʼn óf-óf-fenomeen is nie, maar eerder hoogs dinamies en konteksgebonde is. Die menslike verstand is dus nie geprogrammeer volgens jou moedertaal nie, maar jy kan juis maklike spronge maak tussen die metafore van twee verskillende tale.

Dit is die gevolgtrekking van die oorspronklike wetenskaplike artikel – niks meer, niks minder nie.

Dit beteken hoegenaamd (en ek wil dit beklemtoon: hóé-gé-náámd) nie dat tweetalige mense “more flexible thinkers” – soos die kop suggereer – as eentalige mense is nie.

Hierdie "insident" is eintlik 'n pragtige gevallestudie in die verhouding tussen die wetenskap en joernalistiek, en die invloed daarvan op lesers. Wetenskaplikes doen navorsing en publiseer resultate in 'n gerenommeerde wetenskaplike tydskrif. Die wetenskaplikes se universiteit sien dan 'n geleentheid om persdekking vir die universiteit te kry en publiseer dan ʼn kwasipopulêre berig daaroor op die universiteit se webblad. Die arme navorsers word dan dikwels forseer om bevatlike uitsprake te maak, sodat “die gewone mense dit kan verstaan”. En daar loop alles skeef …

Want vervolgens rapporteer die hoofstroommedia oor die navorsing, iemand in die nuuskantoor moet ʼn verteerbare kop skryf, en dan kry jy goed soos: “Bilingual speakers experience time differently from people who speak only one language, study finds”, of “People who speak two languages actually experience time differently”.

Tot slot word dié koppe dan aangegryp deur die wêreld en wyd versprei. Net soos wat fopnuus versprei word om 'n bepaalde ideologie te ondersteun, so word sulke koppe ook versprei om 'n bepaalde ideologie te versprei. En daarmee moet ons (as wetenskaplikes én lesers) baie, baie, baie versigtig wees ...

Bron:

Bylund, Emanuel & Athanasopoulos, Panos. 2017. The Whorfian Time Warp: Representing Duration Through the Language Hourglass. Journal of Experimental Psychology: General. doi:10.1037/xge0000314.

Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 13 Mei 2017 verskyn.

Lees 892 tye Laaste modifikasie op Saterdag 20 Mei 2017 07:56

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK