Die behoefte aan standaardisering van internasionale plekname het in 1871 uitgeloop op die eerste Internasionale Geografiese Konferensie wat in Antwerpen plaasgevind het. Die doel van hierdie en daaropvolgende konferensies was om uitgangspunte te formuleer vir die eenvormige skryfwyse van aardrykskundige name.
Ná die Tweede Wêreldoorlog is dié funksie oorgeneem deur die Verenigde Nasies se Ekspertgroep vir Geografiese Name (UNGEGN). Die befaamde Suid-Afrikaanse naamkundige Peter Raper was van 1991 tot 2002 voorsitter van dié ouguste liggaam.
In die boek Schrijfwijze van buitenlandse namen wys die Algemeen Nederlands Persbureau uit dat die skryfwyse van buitelandse geografiese eiename reeds in die laaste paar dekades voor 1987 (toe die boek uitgegee is) beïnvloed word deur “internasionale verkeer, dekolonialisering [!] en die daarmee gepaardgaande bewuswording van ʼn eie, nasionale identiteit”. Voeg hierby die globalisering van die drie dekades sedert 1987, en ons bevind ons tans in ʼn tydvak waar eiename so na as moontlik aan die brontaal geskryf word.
In die onlangse verlede het die Taalkommissie ook in Afrikaans begin wegbeweeg van oormatige verafrikaansing van eiename. Jy sal byvoorbeeld nie meer Tsjaka in die AWS aantref nie, maar slegs Shaka; eerder Fukushima as Foekoesjiema. En in die nuwe AWS wat in Augustus deser verskyn, slegs China en nie meer Sjina nie, met daarnaas ʼn omvattende lys plekname uit die Ooste, wat deur ʼn voormalige voorsitter van die Taalkommissie, prof Ernst Kotzé, opgestel is.
In dié verband volg ons dus die internasionale tendens, naamlik om te translitereer. In plaas daarvan om te vertaal (sê nou maar New York as Nuwe York) of oor te klank (wat Nieu-Jork sou oplewer), probeer ons liewer om so naby as moontlik aan die brontaal te bly. Die land Oʻzbekiston Respublikasi word gevolglik Republiek Oezbekistan in Afrikaans.
Woorde soos Koninkryk en State en Eiland word steeds in Afrikaans vertaal, waarvan Republiek en variante daarvan die prominentste is. In Afrikaans geld die tradisie steeds dat ʼn mens die volgende patroon volg: Republiek {Landsnaam} – sonder ʼn “van” tussenin. Ons skryf dus Republiek Ierland, Volksrepubliek China, Bondsrepubliek Duitsland, Demokratiese Volksrepubliek Laos, en so meer.
Maar hoekom dan Republiek van Suid-Afrika? Wel, na regte moet dit eintlik Republiek Suid-Afrika wees. Maar toentertyd, toe wet 32 van 1961 uit Engels na Afrikaans vertaal is, het iemand (of ʼn klomp iemande) nie gekonsentreer nie en toe word Republic of South Africa klakkeloos vertaal as Republiek van Suid-Afrika! En vandag nog dra ons die taalglips met ons saam.
Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 20 Mei 2017 verskyn.