Die peetkind wat in die wyk lê

Geplaas deur Sophia Kapp Donderdag 29 Junie 2017
Gepubliseer in Nuus;

Ek kry gister ʼn navraag van ʼn VivA-gebruiker: Wat wil die mense op dié vorm hê? Aangeheg by die navraag is ʼn foto van ʼn vrywaringsvorm wat haar dogter van die skool af gebring het, wat die ma moet invul en teken. (Die vorm is deur die skool versprei, maar deur die Wes-Kaapse Provinsiale Regering uitgereik.) Daarop moet sy die naam invul van haar “seun/dogter/wyk”. Die ma is verstom. Watse wyk wil hulle hê? Haar kiesafdeling of die gemeente se wyk? En wat wil die Provinsiale Regering daarmee doen?

Ná ʼn paar sekondes se kopkrap (dit was laatmiddag en ek was moeg) besef ek die “wyk” is ʼn verkeerde vertaling van “ward” (wat in Engels ʼn pleegkind of ʼn wyk kan wees). Ek verduidelik die saak, die ma is gerus dat daar nie ʼn gowwermintsbeampte agter haar vullisblikke skuil om aan te teken hoeveel tamaties sy in ʼn week weggooi nie, en die Kaap is Hollands.

Of nie Hollands nie.

As ʼn vertaler besef ek maar te goed hoe vinnig sulke foute insluip. ʼn Mens is moeg, die dag is lank, die meeste vertalers in staatsposte is oorwerk, soms beleef ʼn mens se brein gewoon net ʼn kortsluiting en dan gebeur sulke goed.

Maar daar is ook die ou-ou klitsgras: Soms wil maatskappye en instansies geld spaar deur een vertaler aan te stel wat sommer al die vertaalwerk kan behartig. Want die vertaler is mos tweetalig. En kan mos in enige rigting vertaal.

Die feit is, vertaalwerk doen jy in een rigting: in jou moedertaal in. Dit maak nie saak hoe slim jy is of hoe goed jy jou tweede taal beheers of hoe duur die woordeboek is waaruit jy vertaal nie, die beginsel bly staan dat ʼn tweedetaalspreker die taal nie soos ʼn eerstetaalspreker beheers nie. En dan kry jy ʼn griller soos “ward” wat sommer “wyk” word.

Dit laat my dink aan ʼn ou familiegrappie wat steeds loop en met groot smaak by troues en begrafnisse oorvertel word.

Kroonstad, vroeë vyftigerjare. Dis platteland en dis Afrikaans, en Engels is ʼn vreemde taal en ʼn Vreemde Taal. Selfs die paar verloopte Engelse op die dorp praat Brits met ʼn Afrikaanse aksent. Die voorgeskrewe boek wat die kinders in graad 8 moet lees, is vir hulle geslote, maak nou nie saak hoe die juffrou verduidelik nie. En in plaas daarvan om onbekende woorde of uitdrukkings na te slaan, wil die manne eerder rugby speel of onder by die rivier by die werkbank wat hulle van spoorwegplanke gebou het verder aan hulle tuisgemaakte pistole werk (dis ʼn ander storie vir ʼn ander dag).

Op ʼn dag is die juffrou se lont op en sy stuur die kandidate huis toe met ʼn vertaalopdrag: Elkeen kry ʼn passasie uit die voorgeskrewe boek om in Afrikaans te vertaal sodat hulle dit vir die res van die klas kan verduidelik.

Die meeste van hulle kom reg. So op ʼn plan. Maar een perd is op skool omdat hy vir die eerste span haak, nie omdat daar enige vooruitsig op akademiese ontwikkeling is nie, en sy passasie is ʼn uitsiglose gemors. Die juffrou weet dit en sy laat vir hom deur die les sweet. Vyf minute voor die klok hom kon verlos, stel sy hom aan die woord. Hy lees, stotter, hakkel, hoes, hik, proes, pik, tot by die einde waar hy voorlees: “Hulle het daar aangekom vleiskas en geluid.”

Die juffrou frons. Die kinders kom uit hulle Vrystaatsomerhittelomerigheid boontoe om asem te skep en te wonder waarvan Nommer Twee praat. Gryp die Engelse bronteks: “They arrived there safe and sound.”

Ek het ʼn vermoede Nommer Twee werk dalk deesdae by die Wes-Kaapse Provinsiale Regering as vertaler.

[Vir dié lesers wat in die elektroniese eeu gebore is: ʼn Vleiskas is ʼn outydse patent waarin ʼn mens vleis gebêre het. Dit was ʼn kas van planke wat met seil oorgetrek is met water in ʼn boonste kompartement wat stadig deur die seil gesypel het en deur verdamping koeligheid veroorsaak het. Die Engelse woord daarvoor is ʼn “meatsafe”.]

Lees 622 tye Laaste modifikasie op Saterdag 01 Julie 2017 06:54

1 kommentaar

  • Kommentaarskakel Henry Welman Saterdag 08 Julie 2017 10:50 geplaas deur Henry Welman

    Baie dankie vir hierdie heelike stuk, Viva-Sophia! Met verwysing na jou verduideliking hierbo oor hoe vertaling eintlik werk ("... in jou moedertaal in.") het ek gewonder of ek vir my en my Afrikaanssprekende kollegas jammer moet, simpatie mee moet hê of trots op onsself moet voel. In die onderwyspraktyk (hier in die Vrystaat) het ons maar die taak om vraestelle te vertaal, geërf. Dit sit nogal 'n hele hewige verdere las op ons skouers hoor! Dankie vir jou interessante verduideliking oor vertaling en veral vir die lieflike storie wat volg oor die "safe". Ek onthou laasgenoemde baie goed uit my kinderdae! Dankie vir Viva-Afrikaans. Dit is 'n kampioenwebwerf!

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK