Nie alles wat rooi is, is ’n posbus nie

Geplaas deur Jana Luther Sondag 23 Julie 2017
Gepubliseer in VivA;

Rampant?!

Rapport se gebruik van dié woord in die kop van ’n berig oor die Leeus se Superrugby-sege voorverlede Saterdag in Durban het verlede week ’n hele paar lesers op hulle agterpote gehad.

“Sies Rapport vir jul taal. Ja, ons weet die Kapenaars het soms unieke taalgebruik, maar ‘Rampante’ Leeus (Sport, 16 Julie) is nie aanvaarbaar nie,” maak Johann Roodt van Gordonsbaai in ’n brief gister op Netwerk24 se meningsblad kapsie nadat daar vroeër ook in die Facebook-groep Taaltameletjies (vir mense wat professioneel met Afrikaans werk) hieroor gedebatteer is. 

Oudkoerantman Org Potgieter wat op Facebook die aandag op dié koerantwoord vestig, skryf dis vir hom ’n “raaisel” hoe so 'n “gedrog” verby sub en proefleser kon kom: “Die Skotse Leeu is tradisioneel die ‘Rampant Lion’, [dit] word deur sommige ook as hul nasionale vlag beskou. Maar daar is darem ’n horde Afrikaanse sinonieme wat [dié] leenwoord tog seker oorbodig maak?” So voel Org en ander lede van die groep.

Het die beswaardes en beswaarmakers gelyk? Waarom laat Rapport se eenmalige gebruik van hierdie woord die maanhare so rys? Sou dit ’n gevolg wees van die anglisismevrees wat in die verlede by taalwerkers ingedril is?

Pharos vertaal in sy groot Afrikaans-Engels-Engels-Afrikaanse woordeboek die Engelse rampant met 1) “wild, woes, verwoed”; 2) “buitensporig, verregaande”; 3) “woekerend, geil, welig”; 4) “(algemeen) heersend, onstuitbaar”; 5) “ongehinderd”; en 6) (as heraldiese term) “klimmend”.

Sou die koerant, in plaas van rampante te gebruik, dus ewe goed oor Suid-Afrika se “wilde/woeste/verwoede Leeus”, of ons “onstuitbare Leeus”, of ons “klimmende Leeus” kon berig het? Ja, hy sou seker kon.

Maar, soos die taalkenner wyle Johan Combrink altoos gesê het: “Bloot omdat iets rooi is, is dit nog glad nie te sê dis ’n posbus nie.” Bloot omdat rampante soos Engels se rampant lyk, wil nog glad nie sê dat dit van Engels kom en uitsluitlik tot Engels behoort nie.

Betekenis

In Oxford se gratis aanlyn woordeboek word van die byvoeglike naamwoord rampant, en die bywoord, rampantly, twee betekenisse vermeld. Die eerste (gewoonlik negatiewe) betekenis – “(ongehinderd) gedy/floreer” – word (indien nie van plante gesê nie) veral figuurlik ten opsigte van iets onwelkoms (wat “versprei soos kakiebos”) gebruik; die woordeboek noem politieke geweld en inflasie as voorbeelde. Daarnaas word die afkeurende gebruik ook na “onbeteuel(d)” en “bandeloos” uitgebrei, met seks as voorbeeld. Die tweede (positiewe) konnotasie is die heraldiese betekenis waarna Org verwys; die gebruik van rampant om ’n dier aan te dui wat as regopstaande uitgebeeld word; op sy (linker)agterpoot, met sy voorpote en sy ander (regter)agterpoot en stert in die lug, soos die Skotte se bekende leeu.

Herkoms

As heraldiese term kom dié woord uit Middel-Engels, wat dit op sy beurt gekry het uit die Ou Franse rampant, die teenwoordige deelwoord van ramper, wat “sluip” beteken het; en ook “om regop te kom, op te rys”, soos ’n roofsugtige, kwaai, briesende wilde dier. Die oorsprong van die Ou Franse woord kan ons nog verder terugvoer, na Frankies.

Dis dus altyd belangrik om te onthou dat Engels sy woorde van heinde en verre gekry het (en steeds kry), net soos Afrikaans se woorde van heinde en ver gekom het (en steeds kom). Van die Middeleeue af tot in die 17de eeu was die Romaanse Frans in Europa, in beide Nederland en Groot Brittanje, die toonaangewende taal. In hierdie tyd is sowel Nederlands (die Nederlands waaruit Afrikaans ontwikkel het) as Engels sterk deur Frans beïnvloed. Met die gevolg dat honderde Afrikaanse en Engelse woorde vandag op mekaar lyk: absoluut, advertensie, agent, aktief, ambisieus, bagasie, balkon, bom, briljant, dans, distrik, dokument, dosyn, elegant, familie, formeel, fort, fontein, geologie, goewerneur, groepkaap, kalm, kamp, kapel, kaptein, kasteel, klerk, klimaat, kommunikasie, kopie, kostuum, krediet, kristal, kritiseer, kroon, kwaliteit, letter, maker, manier, model, nommer, omelet, paar, pasiënt, plan, plantasie, plesier, populêr, professor, proses, present, prys, rond, sertifikaat, som, sosiaal, stasie, tert, trompet, universiteit … Al hierdie woorde, en nog baie meer, het Afrikaans via Nederlands uit Frans binnegekom. Nes die talle woorde in Afrikaans wat op die Franse agtervoegsels -aal, -ansie, -asie, -eer, -ent, -ensie, -êr, -eur, -ie, -ier, -oen, -uur en -teit eindig.

Min Afrikaansgebruikers weet vandag nog uit watter tale al ons woorde kom. Gebruikers wat Afrikaans se geskiedenis nie ken nie, beweer daarom maklik, en dikwels ten onregte, dat minder gebruiklike woorde uit Engels oorgeneem word.

Ja, rampant word in Engels baie meer as in Nederlands en Afrikaans gebruik, maar sy wortels kan tot by Proto-Germaans teruggevoer word. En ’n korpussoektog in die bronne van die Virtuele Instituut vir Afrikaans lewer van rampant wel enkele trefslae op:

Korpus

In die Afrikaanse Wikipedia (wat nou ook op VivA se korpusportaal deursoekbaar is) word Gustav Preller aangehaal, ’n joernalis, historikus, skrywer en literêre kritikus wat in die bevordering en erkenning van Afrikaans ’n leidende rol gespeel het. In ’n private memo oor teenstand, destyds, teen die generaals Louis Botha en Jan Smuts se beleid om Boer en Brit met mekaar te probeer versoen, skryf hy in 1914, toe hy adjunk-hoofredakteur van die koerant De Volksstem was: “Konsiliasie is eenvoudig rampant, dikker en taaier en walgliker as ooit.”

Die ander twee trefslae in VivA se korpusse, is albei deur nog ’n taalkundige “gepleeg”. In sy werksherinneringe, 3 klutse kwyt, verwys wyle Anton Prinsloo, in lewe ’n bekende en geliefde taalkenner en ’n voormalige lid van die Afrikaanse Taalkommissie, na Mikro se roman Die ruiter in die nag: “Op die omslag van die boek wat ek in die veertigerjare in Heilbron gelees het,” skryf hy, “is die ruiter op ’n perd rampant in silhoeët teen ’n volmaan afgebeeld.” In sy woordeboek van Afrikaanse eponieme, Die aap in jou koffie, gebruik hy weer dié woord, wanneer hy verwys na Colombina, ’n karakter in die Italiaanse Commedia dell’Arte: “Nieteenstaande haar naam wat ‘klein duifie’ beteken, is sy ’n rampante koekoek – sy is Harlekyn se minnares en die eggenote van Pierrot.”

Org se argument dat "daar nie so 'n woord in Afrikaans bestaan nie" hou dus nie steek nie. Maar moet ons, omdat ons rampant in Afrikaans so selde teëkom, dalk tog Rapport se gebruik daarvan as verkeerd beskou; vra dat die koerant dit in die toekoms nie weer mag, of liewer nie moet of behoort te gebruik nie?

Ek dink nie so nie.

Kommunikasie

Nog iets waaraan Johan Combrink ons dikwels herinner het, is dat kommunikasie tel, nie oorsprong nie. By taalgebruik moet dit altyd gaan oor 100% kommunikasie, die eerste keer, het hy gesê. As die leser(s) van ’n teks ’n woord van Germaanse herkoms (bv. aanbeveel) beter gaan verstaan as ’n woord van Romaanse (bv. Franse) herkoms (bv. rekommandeer), is dit beter om die Germaanse woord te gebruik – ás die twee woorde presies dieselfde beteken. As ’n Germaanse woord en sy Romaanse eweknie ewe goed bekend is (bv. mening en opinie, openbaar en publiek, wedstryd en kompetisie), gebruik die een wat jy verkies – ás hulle dieselfde beteken. As die leser(s) ’n Romaanse woord (bv. radio) bo ’n Germaanse woord (bv. die verouderde draadloos) verkies, gebruik die Romaanse woord – mits albei die juisste betekenis wat jy as skrywer in gedagte het, ewe goed oordra.

In rampant se geval is van die deelnemers aan die Taaltameletjie-debat van mening dat die eerste sien van die woord in Rapport ’n steurnis in kommunikasie veroorsaak het.

Die teenargument – wat ek steun, en wat in die Facebook-debat, m.i., deur die regsgeleerde-skrywer Jean Meiring besonder goed verwoord is – is dat Rapport se gebruik van rampant in die subopskrif van sy rugbystorie heeltemal in orde en funksioneel was: Dit trek die aandag, en dit gee die presiese betekenis weer wat die skrywer in gedagte gehad het, waarskynlik beter as enige van die afgewaterde sinonieme hier bo.

Jean motiveer sy standpunt so (ek haal hom aan, want ek kan dit nie beter stel nie): “Ek het ’n reusebroertjie dood aan Anglisismes, maar ek moet sê hierdie gebruik hou ek nogal van. Dis tog duidelik 'n verwysing na die heraldiese beeld van die leeu op sy agterpote. Dis nie 'n direkte vertaling van die gepopulariseerde weergawe van die woord in Engels nie (wat iets soos 'woedend' of 'stuwend' beteken). Ek meen daar’s nie ’n ander Afrikaanse woord wat daardie beeld – en al sy historiese nasleep – sou kon aandui nie. En ek hou van die klank. Dit klink Afrikaans. […] Daar’s iets speels en verrassends aan die gebruik hier waarvan ek hou. Dis duidelik nie ’n [a]ngliserende analfabeet wat die kop gepen het nie. Eerder ’n slimmerd wat willens en wetens ’n skaduwoord loop soek en haal het. Aan hom seg ek: doe weer zo. […] Ek gaan dit binnekort trag te gebruik!”

Ek ook.

Funksionaliteit

Rampant verdring geen inheemse woord nie; dit vul ons woordeskat aan en ek sien geen rede waarom ons dit in die rooi bus moet stop nie. Ek stem dus, soos Jean, ook nie saam met Machteld Minnaar nie wanneer sy skryf: “Ek kan jou ’n brief gee [rampante] gaan oor 99% lesers van die sportblad se koppe gaan. En is die eerste doel nie tog om duidelik te kommunikeer nie? So in my boek is hierdie [woord] eenvoudig nie gepas vir die sportblad in ’n dagblad nie.”

Ek kies Jean se kant, wat meen “koppe kan en moet juis bietjie uitdaag”, en sien geen rede hier waarom ’n koerant soos Rapport die “rampante” verdomming van baie van sy lesers (wat ’n mens soms vermoed wanneer jy dit waag om van die leserskommentaar onderaan berigte te lees) moet aanhelp nie. Uit die konteks behoort ’n ingeligte leser wel die betekenis van die woord te kan aflei.

“Koerantlees is nie pap-eet nie. Ek onthou goed die slag toe ek die eerste keer, as skoolseun, die woord brassery in Die Burger raakgelees het,” skryf Jean. “Dit was matriekvakansietyd en die storie had dit oor die doen en late op Hermanus. Ek kon aflei wat die woord beteken, maar het my tot die woordeboek gewend. As koerante nie meer sulke klein opskuddinkies veroorsaak nie, hoe triestig sou dit nie wees nie. Uitdaag en speel, veral op die sportblad. In die Londense koerante is dit juis waar die meeste taalspel plaasvind.”

Ja. So word die taal verryk.

Taalverryking

In Neerlandistiek.nl, ’n aanlyn tydskrif vir taal- en letterkundige ondersoek, skryf die Nederlandse fonoloog Marc van Oostendorp in een van sy gereelde blogs verlede week toevallig oor die verskil tussen die taalbeskouing van die Nederlanders en dié van die Franse. Ek het gedink die volgende uittreksel uit sy blog sluit goed aan by dié meningsverskil ter plaatse:

Vir die Franse is hulle taal ’n kultuurproduk, iets wat deur ’n elite geskep word. Die Nederlanders, wat lank op die Franse kultuur gerig was, is vir dié gedagte nie heeltemal ongevoelig nie, skryf Van Oostendorp, maar tegelykertyd was die Nederlanders se idee van taal nog altyd biologieser, as iets wat behoort tot die individu, as iets wat leef. Hy haal Multatuli aan, wat lank as een van Nederlands se belangrikste stemme beskou is, en ek vertaal dié skrywer se woorde ten slotte vry:

Ek lê my toe op die skryf van lewende Hollands. Maar ek het skoolgegaan. […] ’n Individu leer veral sy taal van ’n skoolmeester, wat jammer genoeg is. Maar skoolmeesters moet die taal nie maak nie. Hulle self behoort dit te leer van die mense wat die taal praat en skryf. Dan weer moet skoolmeesters nie alles wat die mense praat en skryf goedvind nie. Hulle moet sif en kies; dit wil sê: Hulle moet geen skoolvosse wees nie.

 

Lees 2483 tye Laaste modifikasie op Maandag 24 Julie 2017 08:40

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK