Van varke en verraaiers

Geplaas deur Sophia Kapp Vrydag 18 Augustus 2017
Gepubliseer in Nuus;

Verlede week is die nuwe Afrikaanse woordelys en spelreëls amptelik bekendgestel. Lekker swierige geleentheid op Media24 se Nasdak, met sy fabelagtige uitsig oor die baai en die berg en 'n geurige groentekerrie waaroor ek hier in die noorde maar net kan sit en droom. Dit was ook gepas dat daar so 'n bietjie luister aan die geleentheid verleen is – die bron is per slot van rekening 100 jaar oud, en vir so 'n mylpaal mag 'n mens maar jou spykerhakke onder uit die kas grawe.

Maar die groot lekkerte aan die geleentheid (vir my) was die lesing wat huidige en oudkommissielede die oggend kon bywoon waar prof Christo van Rensburg 'n kort oorsig oor die ontstaan van die bron self gegee het: Daar het hy vertel van die toutrekkery tussen die Nederlandsgesindes en diegene wat geglo het Afrikaans behoort die amptelike taal van die Unie te wees, die geknoei en gekonkel om die Akademie te oortuig om spelreëls te publiseer, en die uiteindelike kompromieë wat aangegaan moes word om te keer dat die spulletjie nie onomkeerbaar kwaad raak vir mekaar en dalk nog afstig nie. Interessant, interessant!

Die merkwaardige deel aan dié geskiedenis is die rol wat CJ Langenhoven gespeel het in die vestiging van Afrikaans as 'n skool- en skryftaal. Onthou nou, ek het grootgeword in 'n huis en familie waar CJ Langenhoven se boeke in die glasboekkas uitgestal is. Ek het Brolloks en Bittergal ingekry saam met Mariebeskuitjies en melk voor slaaptyd. My oupa het in Sagmoedige Neelsie se leeftyd Arbeidsgenot toe gery en die man se hand loop skud uit erkentlikheid vir die rol wat hy gespeel het om Afrikaans in skole ingevoer te kry. In ons familie wat hy 'n held.

Maar hy was meer as dit, hy was 'n skrywer. Iemand wat die taal van sy hart en sy volksgenote in stories gaan neerskryf het wat hulle kon verstaan. Iemand wat 'n “geradbraakte” Nederlands verhef het tot 'n outonome taal met aansien, status en 'n literêre nalatenskap. Laat ons nie vergeet dat die taal wat ons vandag ken, met sy stories en woordeboeke en spelreëls en letterkunde nie maar net toevallig gebeur het nie. Standaardisering is nie 'n sommerso-proses nie, dit verg kundigheid en dit verg werk.

Maar dit verg ook die insig om te begryp dat enige standaardvorm van enige taal nie die volledige taal is nie. Soos prof Rufus Gouws van US dit so mooi gestel het: Standaardisering beteken nie dat die taal die standaard word nie, dit beteken dat een deel van die taal gestandaardiseer word. Daar is, rondom hierdie standaardvorm, soos die atmosfeer om die Aarde of die grond onder 'n oerwoud, 'n magdom taalgoed wat die hele tyd aan die werk en aan die woeker is, kosbare goed in die monde van gewone mense, wat op die standaardvorm inspeel en dit voed. Sonder hierdie sogenaamde “slordighede” raak 'n standaardvorm verouder, verstok en verdroog. Sonder vernuwing gaan enigiets dood. Sonder die “slordighede” aan Nederlands, het ons vandag nie Afrikaans gehad nie. Die einste taal wat ons vandag so koester, was op sy dag 'n ander taal se niestandaardvariëteit.

Daarom het dit my so dronkgeslaan toe ek die aand laat in my hotelkamer kom en 'n e-pos kry van iemand wat my uittrap omdat ek (as lid van die Taalkommissie, neem ek aan) Afrikaans uitverkoop het. Ek is 'n verraaier en 'n joiner, het die persoon gesê, iemand wat toelaat dat die taal oorval word deur anglisismes en ondergrawe word deur Kaaps.

Dis vir my moeilik om so 'n argument te snap. Kaaps is nie iets wat Afrikaans kan ondergrawe nie. Dit is Afrikaans. Dis so deel van Afrikaans as my oorlede oupa se Bosafrikaans en my kind se Tukkiesafrikaans. Om Afrikaans in 'n kampie te plaas en te maak asof dit net aan een groep behoort en net op een manier geskryf mag word, is om jouself sommer net daar uit die taaldebat uit te haal, want die onaangename waarheid is dat baie min mense (die klaer ingesluit) die vermoë het om elke oomblik van elke dag volledig en foutloos Standaardafrikaans te praat en te skryf. Ons praat almal slordig en ons spel almal per geleentheid verkeerd. Maak dit ons Afrikaans enigsins minder geldig?

Die e-pos het my dadelik laat terugdink aan Dalene Matthee se Moerbeibos. Ek het die storie gelees toe hy gepubliseer is (1987) en nie weer onder oë gehad nie. Maar ek onthou nog helder die insetsel reg aan die einde van die boek, waar sy met die storie klaar was maar toe vertel het van die lelies, die Bos se geheim, wat later deur die owerhede afgekamp is sodat hulle nie deur toeriste en die bosdiere verniel sou word nie. Kort daarna is al die lelies dood omdat die bolle gevrot het. Wat die owerhede nie begryp het nie, is dat dit deel was van hulle groeisiklus dat die bosvarke elke jaar die bolle uitgrawe en sodoende nuwe groei aanmoedig.

Aan my e-posgenoot wat so ontsteld was oor my gesindheid moet ek dus sê: Dit is wel moontlik om iets tot vrotwordens toe te bewaar. Afrikaans het lug nodig, en son en reën en die vrugbare aarde waaruit hy gevoed word. En soms 'n paar bosvarke wat rof met hom te werk gaan ook. Moenie dat dit jou so ontstel nie, dis tekens van lewe en vernuwing. En wie weet, dalk is die gruwelike spelfoute in jóú e-pos waaroor ek die piep wou kry dalk oor 100 jaar nog die nuwe Standaardafrikaans.

 

Lees 763 tye

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK