Belê in kind se toekoms op die debatverhoog

Geplaas deur Gerhard van Huyssteen Saterdag 19 Augustus 2017
Gepubliseer in VivA;

Verlede naweek het die ATKV se nasionale redenaars- en debateindstryd by die pittoreske Goudini Spa naby Worcester plaasgevind. Huis- en niehuistaallaer- en -hoërskoolleerders in kleurvolle skoolregalia het van heinde en verre gekom om mee te ding om die gesogte titel as beste redenaar of debatspan.

Aangesien ʼn paar ATKV-lede hulle menings oor die aard en toekoms van die kompetisie teenoor my gelug het, besluit ek om eerstehands te gaan waarneem hoe sake staan.

Loop ek Barnard Beukman, Beeld se redakteur, ook by Goudini Spa raak. Hy sluip egter incognito daar rond, want sy seun is een van die deelnemers. Dié en sy spanmaat is vurige (dan wel vernietigende) vertogers van ʼn verhoging in BTW. Ek snap daar geen snars van nie, maar is bly dat vandag se kinders dit wel kop. Uiteindelik stap dié tweetjies dan ook met die hoogste louere weg. (Geluk, Barnard!)

Drie algemene waarnemings:

  1. Die laaste woord oor die formaat van die kompetisie is nog lank nie gespreek nie – veral met betrekking tot sogenaamde gekoopte toesprake (hoewel jy geen hond die hare gaan afmaak met ʼn gekoopte toespraak op dié vlak nie). Dit is myns insiens besonder prysenswaardig dat die ATKV voortdurend die kompetisie evalueer, tekortkominge identifiseer en dan die nodige aanpassings maak. En die organiseerders is glad nie bang om na kritiek en voorstelle te luister nie; vergelyk ook byvoorbeeld die diepteartikel in die jongste uitgawe van Taalgenoot. (Laat hoor gerus van jou as jy ʼn ingeligte mening oor die saak het!)
  2. Die psigososiale waarde van die kompetisie is ver bo dié van korale (tot die mate wat korale natuurlik psigososiaal van waarde is). Een van die pa’s vertel hoe die kompetisie hom en sy seun nader aan mekaar gebring het. ʼn Vriend van ʼn vriend vertel die ander dag vir my hoe sy kind se selfvertroue geblom het: Om ervaring in openbare optrede te kry, is van onskatbare waarde; vir die R600 wat die toespraak hom gekos het, is daar MasterCard.
  3. Die kinders se taalgebruik in die onvoorbereide toesprake en debatsgesprekke (ʼn oor-en-weer-geredekawel wat ruim 20 minute duur) is werklik verstommend. Slegs een oukie het “huidiglik” gebruik (dan wel ongeveer 10 keer in 3 minute), terwyl ek verwag het dat dit veel meer frekwent in gesproke taal sal voorkom. Dis egter duidelik dat ons maar voortaan vir lief moet neem dat ons probleme en sake kan “aanspreek” – elke tweede spreker gebruik “aanspreek” só. As Joan Hambidge en Adriaan Basson dit in geredigeerde, geskrewe taal mag gebruik, wie is ons dan nou om die kinders daaroor oor die vingers te tik?

Ek weet nie of dit steeds so is nie, maar toe ek op skool was, was die debats- en redenaarsaande (én -kinders) nou juis hip and happening nie. Trouens, ek weet nie of ek vandag eintlik vriende met my sou gewees het nie. Maar twee van my debatsmaatjies van toe het dit hoog geskop: Die ene is ʼn befaamde glanspersoonlikheid; die ander ene ʼn supersuksesvolle en bekende advokaat.

As jy só ʼn kindertjie is: Byt vas, druk deur en belê in jou toekoms! Want eendag gaan jy ook ʼn MasterCard hê ...

Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 19 Augustus 2017 verskyn.

 
 
Lees 1606 tye Laaste modifikasie op Saterdag 19 Augustus 2017 16:07

1 kommentaar

  • Kommentaarskakel Em Steyn Sondag 20 Augustus 2017 20:18 geplaas deur Em Steyn

    Die “huidiglik”-perd is al flou gery. Ons kan artikels skryf tot die kuberruim kraak; ons kan verduidelik tot ons blou in die gesig is – die sprekers van Afrikaans gebruik “huidiglik” spontaan en sonder voorbehoud. Die enigste rede waarom dit nie in die korpusse voorkom wat die TK raadpleeg nie, is dat puntenerige teksredigeerders dit pligsgetrou verander.

    Taalmense sê graag elke taalverandering begin by ’n taalfout – soos die skryfwyse van “weereens” bewys het. Sprekers van Afrikaans het “huidiglik” by die poorte laat inkom. Die woordeboeke, taalgidse en so meer kan dit nou ook maar doen.

    As ons “aanspreek” in ander betekenisse as om “met iemand te praat” kan aanvaar, kan ons netsowel “huidiglik” aanvaar en ons energie huidiglik en in die toekoms aan ander sake bestee.

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK