Tjil ’n bietjie en laai vir jou ’n podsending af

Geplaas deur Gerhard van Huyssteen Saterdag 26 Augustus 2017
Gepubliseer in VivA;

My vriend Rob dink ʼn e-vakansie is iets waar jy ʼn virtuelerealiteitskopstuk opsit en dan besoeke bring aan allerlei eksotiese eilande, vergeleë stede en obskure museums – alles in die gemak van jou voorhuis.

Die woord “e-vakansie” blyk egter iets anders te beteken: Dit is ʼn rusperiode waarin jy doelbewus nie van elektroniese kommunikasietegnologie gebruikmaak nie. Jy neem dus as ‘t ware ʼn blaaskans van e-pos, Facebook, Twitter, en dies meer.

Ek neem tans ʼn radioblaaskans.

Van tjokkertjiedae af is ek byna obsessief oor radio. Ek vind dit een van die fassinerendste en diversste mediums van vermaak. Dis stemme in jou kop wat jy byna oral met jou kan saamdra (sonder om mediese behandeling daarvoor te ontvang).

Maar vir ʼn geruime tyd al is daar te veel geruis as ek die radio aanskakel. (Of dalk is die geruis net in my kop?). En ek noem dit nou maar by die naam, hopelik sonder om aanstoot te gee:

  • RSG is van kindsbeen af my gunstelingradiostasie, maar dié het té voorspelbaar, té resepmatig vir my smaak geword. (Dis my probleem, nie hulle sʼn nie.) Boonop, elke keer as ek op 101-103 FM inskakel, is ek so vreesagtig dat ʼn aankondiging van die program – en ek kan die woord byna nie skryf nie – Tjil gedoen gaan word, dat ek eintlik glad nie kan ontspan nie. Lieflike program, maar die naam Tjil?
    Hallo vriendin! Hoop jy tjil biki. Hê ʼn lekke daggie!
    Ek kan nie ...
  • As jy van voorspelbaar wil praat, dan steek die groot tweetalige, kommersiële radiostasies soos Jacaranda FM natuurlik ywerig hulle handjies op. Dat Despacito per noodsaak 23 keer per dag gedraai moet word, is een ding; die geforseerde gelag van die kameeaanbieders ʼn ander ...
  • Gemeenskapsradiostasies – soos Groot FM in my omgewing – het gewoonlik iets lekker huisliks, iets tuisgebaks aan hulle klank. Terwyl hulle inhoud dikwels minder voorspelbaar is, is hulle opvangs ewe onvoorspelbaar: As jy hierdie kant om Checkers ry, hoor jy hulle nog, maar nie as jy daardie kant om ry nie.

En so, tydens my radiovakansie, ontdek ek die wonderwêreld van oudioboeke en podsendings (“podcasts”, of soos RSG dit noem: potgooie). Radio-op-aanvraag (“radio on demand”) is deesdae die in ding: Jy besluit waarna jy wil luister, wanneer jy daarna wil luister.

Applemense het dit maklik, want iTunes is gebou vir podsendings. Dié van ons wat halsstarrig teëskop teen Apple het baie ander keuses. Ek gebruik byvoorbeeld die toepassing Podcast Addict. Jy laai dit gewoon af, soek na temas wat jou interesseer (byvoorbeeld <Afrikaans> of <linguistics>), teken in (meestal gratis) op die podsendings, laai dit af as jy aan Wi-Fi verbind is, en luister dan wanneer jy wil, waar jy wil na die podsendings.

Ek is byvoorbeeld ingeteken op RSG se podsending van Die tale wat ons praat. Nou hoef ek nie meer Sondagoggende my wekker te stel om te onthou om daarna te luister nie. En ek hoef ook nie die "tjil"-woord te vrees nie ...

By VivA het ons ook begin met ʼn verskeidenheid podsendings oor Afrikaans. Gaan luister gerus en laat weet ons wat jy dink. En laat weet veral wat jóú behoeftes is.

Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 26 Augustus 2017 verskyn.

Lees 888 tye Laaste modifikasie op Saterdag 26 Augustus 2017 07:05

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK