Nuwe gids vir termskeppers

Geplaas deur Jana Luther Maandag 28 Augustus 2017
Gepubliseer in VivA;

In die taalkundewêreld is die naam dr. Mariëtta Alberts ’n huishoudelike naam. Sy is veral bekend in terminologie- en leksikografiekringe, met ander woorde by die mense wat woordeboeke maak en termlyste saamstel. Gerhard van Huyssteen het haar onlangs by ’n kongres raakgeloop en met haar oor haar spiksplinternuwe boek gesels:

GvH: Mariëtta, dit is ’n pragtige boek. Terminology and Terminography: Principles and Practice. A South African Perspective. Baie geluk. Dit is werklik ’n mooi boek. Verduidelik gou vir ons: Wat is die verskil tussen “terminology” en “terminography”.

MA: “Terminology” is basies die wetenskap, die beginsels van terminologie. Dit word soms ook die terminologie self, die terme self genoem. “Terminography”, of “terminografie” daarenteen, is die werk: die praktyk van hoe om ’n vakwoordeboek saam te stel.

GvH: Kan ons dus sê, soos wat leksikologie teenoor leksikografie staan, so staan terminologie teenoor terminografie?

MA: Presies. Terminografie is die praktyk van hoe om vakwoordeboeke saam te stel. Maar dis ’n nuwe term wat redelik onlangs eers deur die internasionale ISO-komitee (ISO/TC 37) in werking gestel is. Tevore het ons “terminologie” gebruik vir die werksaamhede sowel as vir die beginsels.

GvH: En die verskil tussen leksikografie en terminografie?

MA: By leksikografie is die beginpunt die woord; daar wil ’n mens die betekenis van die woord kry. By terminografie werk ons van die term af, waar jy eerstens die konsep, of die begrip, moet beskryf. Wanneer ’n mens die konsep verstaan; dan kan jy ’n term skep ... Jy benoem dan die konsep. Gewoonlik werk ons van ’n brontaal af. In Suid-Afrika is die brontaal meestal Engels, maar enige taal kan ’n brontaal wees. As ’n mens dan die term gevind het ... As jy die kern van die begrip het en jy kan dit in jou brontaal definieer; dan skep jy ’n term. En dan moet daar ekwivalente in die ander tale geskep word.

GvH: Om dit prakties te maak: Kan iets soos “stoel” ’n term wees? Is “stoel” net ’n gewone woord, wat dus in ’n gewone woordeboek hanteer word? Of is “stoel” ook iets wat jou, as terminograaf-terminoloog, sal interesseer?

MA: Dit hang van die konteks af. Die verskil tussen ’n woord en ’n term is verskriklik klein. Dis eintlik ’n kontinuum: van die een punt na die ander. Dink byvoorbeeld aan ’n term soos “hart”: “Hart” kan die beginpunt wees van, sê nou maar, ’n koolkop; dit kan ’n hart wees op ’n speelkaart; dit kan die orgaan wees ... ’n Mens kan sê: “Ek gee jou my hart.” So, daar het jy verskillende betekenisse vir dié een woord. Maar die oomblik as dit in die mediese praktyk gebruik word; dan is dit ’n term. Dieselfde met “stoel”: As “stoel” doodeenvoudig is: ‘iets waarop ons sit’; dan is dit nie werklik ’n term nie. Dan is dit ’n woord. Maar wanneer dit in ’n vakgebied, soos meubelmakery, gebruik word; dan gaan jy “stoel” moontlik as ’n term beskou.

GvH: Om dus saam te vat: Terme word binne vakspesifieke kontekste gebruik, terwyl woorde algemeen gebruik word, maar ook terme insluit. Dus: Woorde sluit ook terme in, maar terme is goed wat net binne spesifieke kontekste gebruik word.

MA: Dis korrek.

GvH: Mariëtta, dié boek van jou: Dit is ’n pragstuk van 640 bladsye; met illustrasies, ensovoorts. Waar het die idee van die boek vandaan gekom?

MA: Ek het baie jare lank opleiding gegee in terminologie. Dit is iets wat nie eintlik deesdae meer gedoen word nie. Terwyl ek by die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad was, het ek deur die land gereis en aan verskillende departemente, staatsdepartemente en privaat instansies en universiteite, terminologie-opleiding gegee. Daar was selfs ’n stadium waar ek van PanSAT af na die UP (die Universiteit van Pretoria) gesekondeer sou word om ’n terminologiesentrum daar te begin. Maar nou word terminologie nie eintlik meer as sodanig, as ’n vak, aangebied nie. Hoewel ons ’n groot behoefte aan terminologie het. Veral in die Afrikatale moet terme geskep word, terwyl baie mense nie weet hoe om dit te doen nie. Daarom het ek besluit om my ou lesings te benut. Ek het probeer om alles op so ’n wyse aan te bied dat enige iemand dit kan verstaan. Ongelukkig net: Ek het die boek in Engels geskryf, want in Engels is die mark soveel groter. Maar ons hoop dit sal in Afrikaans vertaal word.

GvH: Ons moet definitief werk maak daarvan, Mariëtta. Dus, dis eintlik deel van jou lewenstaak; dit waarmee jy jou besig gehou het wat nou in boekvorm verskyn. Op wie is die boek gerig?

MA: Die boek is gerig op enige student wat graag terminologie wil bestudeer. Ek wil graag hê dat universiteite die boek moet gebruik om mense te leer, waarskynlik nagraadse studente, dat hulle nie net leksikografie bedryf nie, maar ook terminografie. Maar dit sal ook vir die taalpraktisyn van groot waarde wees. Ek sê altyd dat elke persoon wat in ’n werksituasie is, daagliks met terme te doene kry. As hulle hulle eie terme, dié terme wat hulle daagliks gebruik, kan standaardiseer; dan sal daar nie kommunikasieprobleme wees nie. So, enige persoon wat terme wil skep, wat sy/haar eie terme, en die gebruik daarvan, wil standaardiseer, kan die boek gebruik.

GvH: Is daarin, byvoorbeeld, die beginsels van hoe om ’n term te skep? Aan watter taalkundige vereistes ’n term moet voldoen? En so aan? Kry ’n mens ook sulke, praktiese raad in die boek?

MA: Ja. Hoe om terme te skep. Daar is byvoorbeeld ’n bylaag: Hoe om ’n vakwoordeboek saam te stel. Verskillende aspekte, byvoorbeeld outeursreg, word gedek, want dit is een van die probleme waarmee ’n terminograaf, en leksikograwe ook, sukkel. ’n Mens kan nie sommer enige definisie, byvoorbeeld van die internet af, gebruik en dink jy kan dit in jou eie boek publiseer nie. ’n Mens moet altyd daaraan dink dat daar ook op terminologie outeursreg kan wees. Maar nou het jy die probleem dat ’n reguit lyn net op een manier gedefinieer kan word: die kortste afstand tussen twee punte. Wie het die kopiereg daarop? Dit het ek onder andere bespreek. Ook die e-terminografie: Hoe rekenariseer ’n mens. Dan ook, onder andere, die ISO-standaarde: standaardisering en normering van terminologie. Want by terminologie werk ’n mens met standaarde. ’n Term moet gestandaardiseer wees om kommunikasie te bemoontlik.

GvH: As ek so deur die inhoudsopgawe blaai, dan kan ek nie wag om my hand op die boek te lê nie. Waar kan mense dit kry? En weet ons naastenby wat dit kos?

MA: Terminology and terminography principles and practice: A South African perspective (ISBN 978-0-9947129-0-5) is uitgegee deur MLA Publications (tel: 021 813 9414; Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.) en word van 8 tot 10 September 2017 by die Jozi Book Fair bekend gestel. Dit kos R695. 

 

 

 

 

 

 

 

Lees 857 tye Laaste modifikasie op Donderdag 31 Augustus 2017 23:04

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK