VIVA SE BLOGS

Puberfoendies van die Taal, wys julle staal!

Geplaas deur Gerhard van Huyssteen Saterdag, 09 September 2017
Gepubliseer in VivA;

Daar hang ʼn swanger spellinglug in die skole. Dis daardie tyd van die jaar wat al wat ʼn landswye spellingkompetisie einde se kant toe staan.

Die twee bekendste kompetisies is die Sanlam WOW-spelkompetisie en die ATKV se Spelathon. En nou is daar nóg ʼn geleentheid vir die jong taalfoendies om te wys dat dit ook finansieel lonend kan wees om iets van taal te weet.

Die nuwe seisoen van kykNET se taalspelprogram, Op die Spel, gaan slegs hoërskooldeelnemers hê. In die vorige seisoen het woelwaters gewys het dat hulle al te goed weet waar Dawid die wortels gegrawe het. Toe laat weet kykNET se mandataris: Maak ʼn nuwe reeks met slegs kinders!

Aanvanklik het die vervaardiger, Homebrew Films (wat onder andere Kokkedoor, Koekedoor, Kokkedoortjie en nou ook Koekedoortjie vervaardig het), die net wyd gesprei: van laerskool tot universiteit. Toe die inskrywings egter begin instroom, besef hulle dat die belangstelling té groot is; die 2018-reeks sal slegs uit hoërskoolpubers bestaan.

 
  Op die Spel II-deelnemers (2017)

Tot eerskomende Vrydag (15 September) het leerders nog die kans om in te skryf by opdiespel.tv. As ek nou ʼn kannetjie was, het ek my daarheen gehaas, want die prysgeld is buitensporig aantreklik. Per episode wat jy wen, sleep jy so ʼn wanstaltige R10 000 die ateljee uit. En dis nou bo en behalwe die R5 000 wat jy as naaswenner per episode kan losspel, pryse vir jou skool, of al die ander HAT-woordeboeke en VivA-pryse wat jy kry deur bloot deel te neem. Boonop staan ʼn graad 11- of 12-leerder die kans om met ʼn Atterbury Trust-universiteitsbeurs ter waarde van R150 000 weg te stap!

En ekke? Arme ekke moet die vrae opstel ...

Nou kyk, so goed soos wat die kinders kan spel, so aggressief-gramstorig is hulle ouers. Onlangs was daar byvoorbeeld ʼn fanatieke vader wat aangedring het dat “geevalueer” korrek is, want “die meeste mense skryf dit so”.

Hoe besluit ʼn mens of ʼn woord maklik, gemiddeld of moeilik is om te spel?

In die aanloop tot ʼn navorsingsprojek aan die Noordwes-Universiteit het ek en kollega Martin Puttkammer vir vyf verskillende mense 303 woorde elk gegee om in een van bogenoemde drie kategorieë te klassifiseer. Die ooreenstemming tussen hulle is skokkend laag (Fleiss se k = 0.21): Wat die een dink maklik is om te spel, dink die ander een is moeilik. Laat die taak dus liewer oor aan ʼn rekenaar.

Vervolgens kombineer ons verskeie masjienleeralgoritmes (waaronder sogenaamde perseptrons en ewekansigebesluitnemingswoude (daar’s nou ʼn lekker een om te spel!)) om ʼn outomatiese klassifiseerder te maak wat die klus hopelik beter kan klaar. Op grond van 27 verskillende faktore, vertel die komper vir ons dat “geelhoutboom” en “polisiemotor” (elk 12 letters lank) maklik is om te spel, “sportmanskap” en “Victoriaanse” gemiddeld is, en dat “kontinuïteit” en “geïntimideer” moeilik is. Lyk vir my #legit.

Maar rekenaars – soos mense – is ook maar feilbaar. Onse slimme klassifiseerder reken “obstinate” en “fotokopiëring” is báie maklik, terwyl “koolstof” en “barbaar” moeilik is.

Maar wie is ek nou om met die rekenaar te stry? Ten minste het ek ʼn gefundeerde basis om my vraagkeuses te verantwoord. Nou maar hoop al die kort-van-draadtes stem saam ...

Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 09 September 2017 verskyn.

Lees 2612 tye Laaste modifikasie op Saterdag, 09 September 2017 05:13

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.


NUUSARGIEF

FACEBOOK