Kommentaar se kloutjie pas nie by artikel se oor

Geplaas deur Gerhard van Huyssteen Saterdag 14 Oktober 2017
Gepubliseer in VivA;

Gedurende die afgelope week skryf Andries Bezuidenhout op Netwerk24 ʼn artikel oor sy gewaarwordinge tydens die “Week van de Afrikaanse Roman” in België en Nederland. Pragtige foto’s daarby, wat ʼn mens laat verlang na Vlaamse friete (wat jy moeilik slaptjips kan noem) en Hollandse bitterballe (ronde kroketjies wat jy saam met bier versnaper).

So misplaas soos wat my verlange na Lae Landse lekkernye is na aanleiding van Andries se artikel, so misplaas is die kommentaar onderaan sy artikel op Netwerk24. Of miskien lê die fout by my? Perdalkies moet ek weer gaan vir leeslesse, want ek kan nie die kloutjie van die kommentaar by die oor van die artikel uitbring nie.

Ek interpreteer die artikel as 'n skets van hoe die Afrikaanse letterkunde (spesifieke dan poësie) op eie pote staan in ʼn wêreldliteratuurkonteks – sonder enige spesiale behandeling of voor(oor)deel. Afrikaanse literatuur moet in dié konteks gewoon meeding met Engelse, Russiese of Franse geskrifte. Niks geen spesiale behandeling vir Afrikaanse skrywers nie: As jou teks en storie sterk genoeg is, sal jy die pyp kan rook; indien nie, sal jy die onderspit delf. Dis tog heerlik bevrydend: kwaliteit über alles.

Ek interpreteer die artikel as 'n skets van hoe Afrikaans- en Nederlandstaliges tóg mekaar se letterkundes kan lees, sonder dat 'n vertaler noodwendig tussenbeide hoef te tree (ofskoon dit so te sien toenemend nodig is). Die letterkunde word ʼn duikweg waarlangs daar groter insig kan kom in mekaar se leefwêrelde, veral in gevalle waar daar nog naïewe idees oor byvoorbeeld Afrikaans bestaan. Soos dalk die geval mag wees aan die regterkant van die grag en leivoor, merk Andries terloops op.

En ek interpreteer die artikel as 'n skets van hoe poësie (ongeag die taal) in die Lae Lande onderhou en ondersteun word, ten spyte van 'n kwynende, jonger leserspubliek. Maar dat podiumdigkuns en hiphop nuwe lewe blaas in een van die oudste kunsvorme.

En dan volg die kommentaar onderaan die artikel ...

Dit gaan oor “hoe die Engelse die Afrikaners verdruk en uitgemoor het in die konsentrasiekampe”; dat die “klomp Kase” se goedgesindheid onbelangrik is, “net so min as wat dit die Boere gedurende die ABO gehelp het”’; dat die “klomp Kaaskoppe verniet maak of hulle heilig is”, want “hulle het maar ook baie aangejaag soos baie ander kolonialiste”. Andries word uitgekryt (miskien geloof?) as een van die “Afrikaanse liberale kommentators” wat gou is “om ʼn negatiewe etiket [aan taaltrots] te koppel”. Sy artikel word deur een van die kommentators opgesom as “Boere bashing [sic] met 'n klomp kaaskoppe was ook dink die Afrikaners is 'n sleg klomp”. En les bes: “In goeie Afrikaans aan daai groep kies n vinger” [sic – of dalk weet ek ook nie meer wat “goeie Afrikaans” is nie ...].

My kloutjies is ver weg van my ore. Ek sit ʼn ander bril op. Lees weer – die artikel én die kommentaar. Steeds geen verbande nie, niks nie. Ek bel Media24 en vra of daar dalk iets tegnies skeefgeloop het, of die kommentaar van ʼn ander artikel dalk onderaan Andries se artikel verskyn het. “Nee,” verseker hulle my, “alles is klopdisselboom.”

Toe besef ek twee goed:

Een: Die stemdikmakers het waarskynlik net die kop van die artikel gelees. “Hier is Afrikaans en sy digkuns nog ʼn sondebok” is die misleidende kop wat die subredakteur gekies het. Subredakteurs móét besef dat waar die by sy heuning uitsuig, suig die spinnekop sy gif uit. Maar lesers moet warempel ook ʼn bietjie volwassenheid aan die dag lê en ten minste ʼn artikel behoorlik lees – al is dit net ter wille van die kloutjies en die ore.

Twee: Die deuntjie wat wit bitterballe en swart galbrakers sing, is een en dieselfde: Kom ons leef in die verlede, want ons is te bang vir die toekoms. So hard soos wat swart agitators “the legacy of apartheid” skree, so hard skree wit woedenaars “die Ingelse en konsentrasiekampe”. Hoe kan ons van swart mense verwag om “aan te beweeg” en te vergeet van apartheid, as ons self nog nie die gebeure van meer as honderd jaar gelede kan vergewe en vergeet nie? Dis vinkel en koljander, die een beweeg so min aan soos die ander. Die pot verwyt die ketel ...

Maar veel erger: Daar blyk net een deuntjie te wees om te tokkel, want die ramkietjie het net een snaar. Maak nie saak of die artikel oor ʼn bootreis, ʼn Sondagmaal of ʼn poësiesentrum in België handel nie, die gif uit die spinnekop se pen word gesuig uit ʼn onvergewensgesinde verknogtheid aan die verontregtings van die verlede.

Ek sug, klik Netwerk24 se webblad weg en onderneem – vir die soveelste maal – om nie weer kommentaar onderaan webartikels te lees nie.

My kloutjies én my ore pyn ...

Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 14 Oktober 2017 verskyn.

Beeld logo

Lees 794 tye Laaste modifikasie op Saterdag 14 Oktober 2017 06:27

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK