‘Lae Lande’ inderdaad nie 'n anglisisme nie

Geplaas deur Gerhard van Huyssteen Saterdag 21 Oktober 2017
Gepubliseer in VivA;

Merk iemand genaamd Leser in ʼn SMS aan Beeld die afgelope naweek op: “Ek geniet Gerhard van Huyssteen se rubriek. ... Soos vele ander praat hy verkeerdelik van die Lae Lande. Hierdie gedrog is ʼn baie goeie voorbeeld van ʼn Anglisisme. Die regte term is Neder Lande [sic].”

- - - - - - - - - - -

Beste Leser

Eestens: Baie dankie vir die kompliment, en dankie dat jy my se rubriek lees. Ons niepolitieke rubrikante is maar te bly as mense ons skryfsels lees, want soms is ons bang lesers is slegs geïnteresseerd in menings oor die Zuptas, die Nederduitse Gereformeerde Kerk en die Cheetahs. (Die Bulle is helaas nie meer nuuswaardig nie. Treurige dae ...)

Tweedens: Dankie ook vir die kritiek – dis altyd welkom en waardevol!

Derdens: Ek moet helaas van jou verskil oor die naam “Lae Lande”: Dit is nié ʼn anglisisme nie. Trouens, “Die Nederlande” (vas geskryf, want “neder-” is nie ʼn losstaande woord in Afrikaans nie) sou dalk eerder ʼn anglisisme kon wees as dit gebruik word as vertaling vir “The Netherlands”, net soos wat *Uniegeboue (in plaas van “Uniegebou”), *Kaapse Wynlande (in plaas van “Kaapse Wynland”) of *KwaZulu-Natalse Middellande (in plaas van “KwaZulu-Natalse Middelland”) puriste die herrie in maak.

Maar hoe staan sake met die benaming “die Lae Lande” (Nederlands: de Lage Landen; Engels: the Low Countries)?

Die Lae Lande verwys hedendaags meestal gesamentlik na Nederland en België; soms slegs na Nederland en Vlaandere (die noordelike deel van België); soms na Nederland, België en Luxemburg (die sogenaamde Beneluxlande); soms na die Beneluxlande plus die Franse Nederlande (die Franse gebied bo die Somme). “Die Lae Lande” is dus ʼn bietjie soos “die Derde Wêreld”: inherent meerduidig, aangesien dit nie na ʼn vaste staatkundige gebied verwys nie.

Histories gesien is die benaming nóg moeiliker. Ek het ure lank deur my geskiedenisboeke en Wikipedia gewaad, en ek is min wyser. Daar was die Spaanse en die Oostenrykse Nederlande; die Noordelike en die Suidelike Nederlande; die historiese Nederlande (meervoud) teenoor die hedendaagse Nederland (enkelvoud). (Siestog, sterkte vir hulle as daar ooit grondhervormingseise sou wees!)

Die Romeine het na ʼn deel van hierdie grondgebied verwys as Germania Inferior (Onder-Germanië of Neder-Germanië) – teenoor die gedeelte ten noorde van die Ryn, Germania Superior (Bo-Germanië of Opper-Germanië). In dié gebiede, weet die Romeine te vertelle, was teutonicus die taal; verder noord- en ooswaarts was germanicus die gangbare taal.

Teutonicus se paadjie loop terug na theodiscus, wat verder terugloop na die Germaanse byvoeglike naamwoord þeudisk. Dié het “volks-”, soos in “volkstaal”, beteken. Uit þeudisk ontstaan die Middelnederlandse variante duutsc en dietsc, wat nog later Duits en Diets word, en waaruit die Engelse hulle Dutch kry.

Geografies is daar onderskei tussen Hoogduits (die taal in die hoogliggende Suide), Middelduits (van die middelste gedeelte van die gebied) en Nederduits (die taal in die laagliggende Noordweste).

En so, beste Leser, sit ons hede ten dae nog steeds met die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Daardie “Nederduits” verwys dus na die taal van die Lae Lande en het in wese weinig met Duitsland, die Duitsers of die taal Duits (soos ons dit vandag ken) te make.

Groetnis

Gerhard

Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 21 Oktober 2017 verskyn.

Beeld logo

Lees 747 tye

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK