Genoeg is genoeg

Geplaas deur Jana Luther Sondag 22 Oktober 2017
Gepubliseer in VivA;

Afrikaans het baie idiome. Baie van hulle is erfgoed; vertoonstukke in ’n taalmuseum wat vertel van die kultuur van die sprekers van die taal in vroeëre tye, soos wyle Johan Combrink dit gestel het. Gaan kyk ’n mens hoe en waar van dié idiome ontstaan het, verstaan jy hulle ’n bietjie beter; en as jy ’n moedertaalspreker van die taal is, verstaan jy ook ’n klein bietjie meer van jouself.

In ’n vorige blog het ek geskryf oor Afrikaanse uitdrukkings en gesegdes wat na die Griekse en Romeinse mitologie teruggevoer kan word; na fabels, die Bybel, en die Middeleeue; na die natuur, die seevaart en die agrariese leefwyse van ons voorouers. Maar nie al Afrikaans se idiome is ’n skat waarop ek noodwendig trots is nie.

As klein kind het ek van my grootouers ’n rympie-raaisel geleer:

Op die Pienkel-Ponkel-Berg staan ’n pienkel-ponkel-huis.
In die pienkel-ponkel-huis woon ’n pienkel-ponkel-man.
Die pienkel-ponkel-man het ’n pienkel-ponkel-vrou.
Die pienkel-ponkel-vrou het pienkel-ponkel-kinders.
Die pienkel-ponkel-kinders het ’n pienkel-ponkel-meester.
Die pienkel-ponkel-meester het ’n pienkel-ponkel-lat.
En die pienkel-ponkel-meester
slaan die pienkel-ponkel-kinders
met die pienkel-ponkel-lat
dat die bloed so spat. 
 

Vanoggend berig Netwerk 24 oor ’n bevinding, Donderdag, van die hooggeregshof in Johannesburg; dat ’n pa wat sy seun geskop en geslaan het, omdat dié glo na pornografie op die internet gekyk het, nie die verweer van “ouerlike tug” kan gebruik nie: “Pak slae [is] nou ’n misdaad,” sê die hof.

Dié uitspraak is wyd verwelkom, maar ook gekritiseer. En ek dink by myself skielik aan dié rympie, én ook hoe dit my onlangs weer opgeval het hoe baie van Afrikaans se idiome met lyfstraf verband hou – meer as 200 inskrywings in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, wat nog maar by S trek. Al word baie van hierdie uitdrukkings ook skertsend gebruik, al doen baie van hulle vandag verouderd aan ... Saam roep hulle ’n te lang tyd van beperkte vryheid in die geheue terug; ’n kultuur van “wie nie wil hoor nie, moet voel”; ’n paternalistiese geslag wat teëspraak nie geduld het nie, wat geglo het “ondergeskiktes se wil sit in die horssweep se punt”.

In Afrikaans, sê die WAT (sonder enige afkeurende, afwysende of veroordelende etikette), kan iemand ’n afgehekste pak slae kry; ’n afgedankste loesing. In Afrikaans kan ’n mens iemand afransel of afroffel of skrobbeer; ’n stout kind afklop, afstof; sy/haar lyfie (deeglik) afwas; hom/haar (met ’n sambok) afros.

Oor “nalatigheid” kan jy iemand afwater; sy/haar agterkant/agterwêreld afborsel, dit (en die lewe) vir hom/haar goed warm maak. Jy kan iemand aan die agtervoet vat en sy/haar agterplaas sonder koek en koffie laat verjaar.

In Afrikaans kan ’n mens iemand op sy baadjie laat kry, en/of op sy bas. Ons grootjies het ons oupas en ons oumas, en baie van ons ouers, op een been(tjie) laat spring; hulle gereeld laat bok- en riemspring. Van oortreders is die broek warm gemaak. “Stout” kinders is van kleins af oor die knie getrek; hulle het seepsop (of siepsop) en braaiboud gekry; dadels, of (warm) kaiings, op hul karmenaadjies, sê die WAT.

’n Drag slae op sy d- of diederiks het menige jong seun die kotiljons (of koddeljons of korreljon) laat dans. Oor “ongehoorsaamheid”, “parmantigheid”, en alles en nog wat, het ouers kinders, mans vroue, werkgewers werknemers laat deurloop en les opsê.

Vir dit en dat is mense geklink, geklits, geklop; deurgedruk en deurgedraf, met ’n lat en meer. Andersdoenendes en -denkendes hoor nog: Pasop, jy gaan jou ding teëkom, dan kry hulle klaar op hulle donner of donder of donderment, én/of op hul ribbekas. “Oortreders” word op hulle duiwel gegee, en (volgens die woordeboek) geslaan dat die donsies waai.

As jy ’n kind is, en “stout”, kan jy maar weet: Kry Ma of Pa jou in die hande, gaan jou duisternis vir jou aangeklam word. As jy ouer is, en ’n “ernstige(r) oortreding” begaan, kan jy jou maar vetsmeer, want dan kry jy dit met die seekoei(sambok) of kats hotagter. 

Ou gewoontes roes nie, sê die spreekwoord, en ou, gevestigde gewoontes word nie sommer afgeleer nie. Wie self onder die plathand, of die plak of platriem, of ander se opstoppers deurgeloop het, kán straks dink, selfs in 2017 nog, dat ’n flink(e), gedugte, herriese, selfs heilige (!) pak slae, “op sy tyd”, goeie, selfs die beste medisyne is; dat “ongehoorsame wetters” dit op hulle grootjies moet kry; dat kinders, deur hulle op te foeter, reggefoeter kan word.

In die sosiale media, in ons kommentaar onderaan koerantberigte, bly ons Afrikaanses mekaar insout; kort-kort vat-vat hulle mekaar aan die hakskeen. Ry weer voor my in, jou bl...; ek gooi jou nie net ’n vinger nie; ek dons jou op; ek maak (van) jou ’n frikkadel; jou (ou)ma sal jou vir ’n eendvoël aansien; ek maak jou ...

Ek; ek ook, sê vroue; en mans. Tussen ons gee bendes mekaar op hul herrie. As jou vyand nie jou doppie laat klink nie, kry iemand anders se dwaalkoeël jou.

Maar ons idiome laat dit klink soos grappies, grappies uit die oude doos wat dit wat opgedons is, nie meer kan opfieks nie.

Hiervoor kort Afrikaans moderne(r) idiome; ’n nuwe versameling wat die grimmigheid van dié tyd in die taal van die tyd kan help afkeer. Skryf joune in by Varsgebek

 

Lees 935 tye Laaste modifikasie op Sondag 22 Oktober 2017 21:17

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK