Kom ons praat maar weer oor “aanspreek”

Geplaas deur Jana Luther Sondag 05 November 2017
Gepubliseer in VivA;

Onder invloed van Engels wat moeilikhede “address” word vraagstukke in Afrikaans al dekades lank “aangespreek”, ten spyte van deurlopende pogings oor net soveel dekades heen om dié gewraakte woord uit die taal te weer.

So skryf wyle J.J.J (“Tripel-J”) Scholtz, in lewe taalindoena van Die Burger, op 30 September 1991 (ek sou dié rubriek graag weer wou gaan opdiep het, maar die historiese bewussyn van ons taal en identiteit het Media24 in die doofpot gestop – wat ’n enorme verlies vir Afrikaans is dit nie):

Aanspreek deug nie in dié sin nie. Dit beteken om […] iemand voor stok te kry of te berispe. Die verkeerde gebruik van dié woord maak ons dus eintlik ’n berispende gemeenskap. […] ’n Vraagstuk word nie aangespreek nie. Dit kan doodgewoon bespreek word, aangeroer, behandel, aangepak of gehanteer word. Daar kan ook op so ’n saak ingegaan word. Dit is alles wat op Afrikaans gedoen kan word met iets wat op Engels “address” word.

Soos Scholtz, toentertyd, hou baie hedendaagse taalgebruikskundiges oor die ongewensdheid van “aanspreek” steeds voet by stuk. Maar hond haaraf, dié maak hulle nie juis nie. Die spraakmakende gemeenskap (“ons, wat Afrikaans produseer, dit daagliks opnuut fabriseer, in ons dorpe en stede, voorstede en townships, in ons huise en op straat”) praat soos die woorde oor onse lippe rol, en laat ons nou maar eerlik wees: “Aanspreek” kan lank al nie meer uit Afrikaans geweer word nie, ook nie uit die skryftaal nie: 

  • Hy het dit duidelik gestel aan die paneel dat dié voorstelle fundamenteel nie die kern van die probleem aanspreek nie.
  • Hoe sou jy hierdie probleem aanspreek?
  • Hierdie is een van die eerste dramas in Afrikaans wat ’n maatskaplike probleem aanspreek, eerder as historiese gebeurtenisse.
  • Lakseermiddels en enemas veroorsaak verliese van belangrike voedingstowwe en is slegs ’n korttermynoplossing, aangesien dit nie die oorspronklike probleem aanspreek nie.
  • Dis wanneer jy aanval. Dis wanneer jy aggressief die probleem aanspreek. 

Na voorbeelde soos hier bo (met ook ander tekens van beïnvloeding deur Engels) hoef ’n mens in VivA se taalkorpusse nie ver te soek nie. Gaan tel maar ook op Netwerk24.

In die plek van die holruggeryde “aanspreek” sou die skrywers en hulle redakteurs ander woorde kon gekies het: Voorstelle kan op die kern van ’n probleem betrekking hê; daartoe deurdring. Vrae kan gestel word oor watter benaderings tot ’n probleem verkies word. Dramas kan maatskaplike probleme belig, dit uitlig en ontgin. Lakseermiddels en enemas teiken nie noodwendig die oorsaak van dermaandoenings nie; smoor ontsteking nie in die kiem nie; skyn dalk te help, maar is nie die doeltreffendste metodes om maagsiektes te bekamp nie. As ’n mens aggressief is, is jy moeg vir praatjies, is jy waarskynlik reeds by waarsku verby. Om in so ’n bui ’n probleem eens en vir altyd uit die weg te ruim, wil jy dit tog sekerlik, soos die spreekwoordelike bul, by die horings pak? Of nie?

Waarom tog – met soveel verskillende segswyses te kies en te keur – elke tweede liewe kwessie “aanspreek”? Omdat ons so baie praat? So min gedoen kry, dalk? Deesdae. In ingerygde vergaderings, dagin, daguit?

En is dit nou regtig so verkeerd? Om probleme aan te spreek.

Afrikaansgebruikers se voorliefde vir dié woord weerspieël ’n ewe interessante verskynsel in Engels. Gaan kyk ’n mens met Google Books se Ngram Viewer na hoe probleme tussen die jare 1800 en 2000 in Engels benader is, kry jy dié grafiek ter insae:

 address

In Engels kan ’n mens (nes in Afrikaans, dus), onder meer, probleme “approach” (hulle benader), “face” (onder die oë sien, trotseer), “handle” (hanteer; hulle gal vir hulle werk), “tackle (aanpak of pak) … Maar eensklaps, in die middeljare sestig van die vorige eeu, kom “address” as ’t ware van nêrens en skiet die hoogte in, by sinonieme en verwante woorde verby, tot boaan die gebruiksfrekwensielys.

By wie, waar, sou dit begin het? wonder ’n mens. Waaraan sou dié skielike gewildheid van “address” in Engels te danke – of dan te wyte! – wees? Dit sal ’n mens deur navorsing kan vasstel. Maar dit help dalk verklaar waarom die gebruik van “aanspreek”, ook in Afrikaans, so vinnig en so stewig posgevat het.  

Nee. Om in Afrikaans ’n probleem aan te spreek, in plaas van ’n ander, sterker aksiewoord te gebruik, is nie so verkeerd nie. (In die sesde uitgawe van die HAT is dié betekenis reeds opgeneem; wel nog as anglisisme gemerk.)

Net b… vervelig.

Ja, woordekonomie is belangrik, maar ekonomies omgaan met woorde beteken nié om dieselfde, beperkte klein woordeskat in soveel moontlik situasies aan te wend nie. ’n Goeie aanduiding van taalvaardigheid is juis die omgekeerde: die vermoë om met en in so min woorde moontlik so veel as moontlik te sê. Sprekers en skrywers wat werklik goed kommunikeer, beskik nie net oor ’n ruim woordeskat nie, maar ook die vermoë om uit ’n groeiende versameling taalbousels, op basis van die konteks en situasie, telkens die beste, mees gepaste een te kies. Dit verg werk, en oefening, en kreatiwiteit; daarom verskuif, verruim, vereng, verdig woordbetekenisse ook oor tyd.

Dat “aanspreek” in Afrikaans ’n betekenis bygekry het, al is dit in navolging van die Engelse idioom, is nie vreemd nie. Dis gewoon deel van die normale proses van taalverandering. Baie ander woorde loop dié pad; het oor eeue heen dié pad geloop.

Waar lê die knoop dan? Myns insiens nie by die woord self nie, maar by die rampante gebruik daarvan (ja, rampant). Oor en oor. Geyk. Saam met ander woorde en uitdrukkings wat ’n mens in Afrikaans net so tot vervelens toe hoor – die sinjale van ’n krimpende woordeskat wat luiheid en traak-my-nieagtigheid in die eie taal ál verder in die hand werk.

Onthou wat Van Wyk Louw van die beiteltjie gesê het? 

Verál as jy Afrikaans as ambag gekies het. In die woordarsenaal van ’n skrywer en/of taalwerker wat in en met die geskrewe vorm van ’n taal sy/haar brood verdien, hoort naas goeie verklarende en vertalende woordeboeke van eietydse taalgebruik ook sinoniemwoordeboeke en tesourusse, wat nie stof vergaar nie. Dié in VivA se woordeboekportaal is gratis tot jou beskikking. 

Lees 1457 tye Laaste modifikasie op Sondag 05 November 2017 23:22

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK