Ek lees weer en besluit toe maar dat my Engels seker nie goed genoeg is nie. Ek is immers ʼn Vrystaatse boorling.
Ek bel VivA se taaladviseur, Sophia Kapp. Vertalings van tekste val buite haar posbeskrywing, maar ek vra mooi of sy asseblief kan help. Sy is immers ʼn geakkrediteerde vertaler en boonop ʼn eertyds bekroonde dosent in die vertaalkunde.
“Gee vir my ʼn vertaling wat so na as moontlik aan die bronteks is,” vra ek.
“Stuur aan,” sê sy.
Tien minute later kry ek haar e-pos terug. (Danksy vervangingsasteriske in ʼn swetterjoel vloekwoorde kon sy die NWU se gemorsposfilters systap. Sy beken ook dat sy haar in die afgelope tien minute aan onwettige alkohol oorgegee het.) Hier is haar vertaalpoging:
“Die oogmerk is om die vestiging te fasiliteer van 'n teleskoperende perspektief op die sensitiewe en kontroversiële onderwerp van tale, van(uit) regeringswetgewing, beleid, onderwys, sake, en dan ingefokus op die vraag hoe moderne elektroniese tegnologie gebruik kan word om te bemiddel tussen die immer groeiende en konflikterende oogmerke van erfenisbewaring, dekolonisering, inklusiewe groei en sosiale geregtigheid, globalisering en die onvermydelike ineenvloeiing van eens gesegregeerde kulture wat lei tot kodeverwisselde, hibriede menslike tale.”
Sophia sluit haar e-pos af met die vrywaarskuwing dat die vertaling volgens die GIGO-beginsel gedoen is: Garbage in, garbage out. En daarmee slaan sy die spyker op die kop van ʼn probleem wat veel groter is as die vertaling van ʼn paragraaf.
Populistiese politici beskuldig akademici (soos ek) dat ons besig is met irrelevante navorsing. Want #EverythingMustFall. As navorsers dan sulke diep knieknikke maak dat hulle onderrokke victoriaans uithoepel, kry jy denkdiarree soos hier bo: Garbage in, garbage out.
Die geskiedenis wys oor en oor dat dit die verantwoordelikheid is van joernaliste (soos Jacques Pauw nou), kunstenaars (soos Brink en Breytenbach in die onlangse verlede) en akademici (soos Kopernikus eeue gelede) om in woeste tye nugter te bly. Hou kop, maar nie jou bek nie. En waak veral teen garbage in, garbage out.
NS: Ek vermoed die eintlike vraag van die beoogde simposium is heel sober én besonder relevant: “Hoe moet spraakherkenners aangepas word om taalvermenging in Suid-Afrikaanse tale te kan hanteer?”
Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 11 November 2017 verskyn.