Onafwendbare verandering

Geplaas deur VivA-redaksie Dinsdag 21 November 2017
Gepubliseer in VivA;

Fred Pheiffer, voormalige redakteur van die HAT en woordeboekmaker by OUP, skryf vir VivA oor taalverandering en die invloed van Engels op Afrikaans. 

In ’n taal buiten Engels word ’n anglisisme beskou as ’n woord of uitdrukking wat deur Engels geaffekteer is. Dit is dus ’n taalverskynsel wat die invloed – vir sommige per definisie slegte invloed – toon wat Engels op ’n taal het. In ons konteks behels dit in die besonder die invloed wat Engels op Afrikaans het. Die beïnvloeding van een taal deur ’n ander taal is egter ’n natuurlike taalproses, en is een van die algemeenste maniere waarop taalverandering plaasvind. Taalverandering kom in enige lewende, aktiewe taalgemeenskap voor, en is as sodanig onkeerbaar. Wanneer ’n taalgemeenskap onaktief raak, soos in die geval van Latyn wat geen moedertaalsprekers meer het nie, gaan die taal “dood”. Op eie bodem het die meeste van ons Khoisantale uitgesterf omdat niemand hulle meer praat nie. Party van hierdie Khoisantale is betyds getranskribeer of op band vasgelê. Soos in die geval van Latyn bestaan daar dus ’n rekord van hulle. Nietemin het dié tale nie meer aktiewe taalgemeenskappe nie, en daarom het sulke tale staties geraak. Hulle het stil gaan staan in die tyd en verander nie meer nie. 

Die beïnvloeding van een taal deur ’n ander taal vind egter net onder bepaalde omstandighede plaas. In die eerste plek moet die sprekers van die taal feitlik daagliks die ander taal hoor of die skrif daarvan sien. Maar meer nog, dit moet vir hierdie sprekers nodig wees om die ander taal te verstaan en te kan gebruik. Om op skool te slaag, om werk te kry, om winkel toe te gaan, om te weet wat die owerhede sê en van jou verwag. Om die internet te gebruik of selfs, sê maar, om te gaan fliek. In die sosiolinguistiek word daar gepraat van dominante tale en, nou ja, tale wat nie dominant is nie. Hoe het dit gebeur dat sommige tale ander tale domineer? Dit is ’n situasie wat in die koloniale tydperk ontstaan het, toe die koloniale moondhede – Portugal, Spanje, Engeland, Frankryk en Nederland – groot dele van die wêreld oorheers het. Die koloniale onderdane is gedwing om die taal van die koloniale meester te leer gebruik.

Dit, terloops, is hoe Afrikaans ontstaan het, toe die Khoi, die slawe en die Franse Hugenote die Hollands van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie moes aanleer om by die samelewing aan die Kaap te kon aanpas. Omdat hulle Hollands egter nie in ’n formele konteks soos in dié van ’n skool aangeleer het nie, maar in informele situasies soos op die markplein, in die kombuis, en op die plaas, het hulle die taal “skeef” aangeleer. Dis ’n proses wat in die taalgeskiedenis en sosiolinguistiek kreolisering genoem word, ’n taalvormingsproses wat hom telkens herhaal in situasies waar ’n inheemse taalgemeenskap gedwing word om by ’n dominante koloniale taal aan te pas. Die produk van só ’n kreoliseringsproses is ’n nuwe taal wat soos die koloniale taal voorkom, maar waarin daar aspekte van die inheemse taal behoue gebly het, soos uitspraak, woordeskat, idiomatiek en selfs sinsbou.

Aan die begin van die 19de eeu is die bordjies egter verhang, toe die Kaap deur die Britte oorgeneem is, en die Kapenaars by ’n nuwe taalsituasie moes aanpas. Die vryburgers het al verder en verder van die Kaap weggetrek om die Britse invloed te probeer ontkom, maar die ontdekking van goud en diamante in die binneland het die Britse koloniale drang net versterk. Ná die Anglo-Boereoorlog is Britse beheer oor Suid-Afrika as geheel gekonsolideer. Hoewel die Nasionaliste in die tweede helfte van die 20ste eeu Afrikaans tot gelyke vlak met Engels verhef het, het hulle dit op grond van rasse-eksklusiwiteit vermag, wat Afrikaans uiteindelik meer kwaad as goed gedoen het. Ná 1994 het Engels de facto die amptelike taal van Suid-Afrika geword, ’n situasie wat die taalgemeenskappe van Afrikaans en die ander inheemse tale vir lief moes neem.

Dit is in dié konteks wat anglisismes aan die bod kom. Die Afrikaanse taalgemeenskap moet homself probeer handhaaf teenoor Engels as dominante taal, nie net van die ekonomie nie, maar ook van ander hoë gebruiksfere soos die staatsdiens, die reg, en opvoeding. Bowendien het Engels ’n onaantasbare status as wêreldwye taal van die ekonomie, die media, en vermaak. Suid-Afrikaners wat vooruit wil kom in die lewe, moet bedrewe wees in Engels. Hulle hoef nie in dieselfde mate bedrewe te wees in hul eie of enige van die ander tale van Suid-Afrika nie. Die voordeel van twee- of meertalige te wees – hetsy intellektueel, kultureel of kommunikatief – is nie hier ter sprake nie.

Tydens die Nasionale bewind van die vorige eeu is groot ophef gemaak van Afrikaans as ’n kulturele prestasie, as simbool van volksidentiteit. ’n Sterk anti-Engelse sentiment het daarvoor gesorg dat Afrikaanse taalsuiwerheid verbete nagejaag is. In dié proses is enige woorde of uitdrukking wat na Engels gelyk het, gebrandmerk as anglisisties. Daarmee is uit die oog verloor dat heelwat van die gewaande “Engelse” inhoud van Afrikaans uit Nederlands kom en deur Jan van Riebeeck saamgebring is Kaap toe. Tydens die 16de en 17de eeu het Nederland ’n kulturele Renaissance beleef – die land se Goue Eeu – en daar was groot bewondering vir die klassieke Griekse en Romeinse kultuur onder sy skrywers en kunstenaars. Ook die Nederlandse taal is “veredel” met ’n stewige inspuiting klassieke woorde uit Grieks en Latyn. Dit is hierdie woordeskat wat Afrikaanse taalpuriste onnodig – en verkeerdelik! – as Engelse beïnvloeding uit die taal wou weer. Die bedreiging wat Engels vir Afrikaanse taalsuiwerheid ingehou het, was dus oordrewe. Om van jong Afrikaanse taalgebruikers te verwag om net soveel erg aan taalsuiwerheid te hê as Afrikaanssprekendes van ’n geslag of twee gelede, is daarom ongevraagd.

Neem verder in ag dat Afrikaans, via Nederlands, en Engels ’n gemeenskaplike oorsprong het. In die 6de eeu woon daar in die Wes-Europese kusgebied tussen die Rynvallei en die Deense skiereiland die Angele, die Sakse, die Friese en die Franke. Hierdie stamme praat Ingweoonse en Istweoonse dialekte van Wes-Germaans. Die Angel-Sakse het na die Britse Eilande getrek en uit hulle dialek het Engels uiteindelik ontwikkel, terwyl die Franke die Nederlanders se oudste voorsate was. Gevolglik is daar talle taalhistoriese raakpunte tussen Afrikaans en Engels – semanties, sintakties en morfologies – en is dit te verstane waarom die een so geredelik op die ander sou begin inspeel by die herontmoeting op die suidpunt van Afrika. Maar aangesien Engels die dominante een is, is dit veral Engels wat Afrikaans sou beïnvloed, nie andersom nie.

In die lig van bostaande argumente – dat taalverandering as sodanig onafwendbaar is en ’n aanduiding is dat ’n taal lewendig is; dat Afrikaans en Engels taalhistories na verwant is en mekaar dus maklik kan beïnvloed, baie makliker as tale wat glad nie verwant is nie; dat Engels ’n dominante taal is, nie net nasionaal nie, maar internasionaal, en vaardigheid in dié taal dus ’n ekonomiese vereiste is; en dat die aandrang op Afrikaanse taalsuiwerheid tydens die vorige sosio- en kultuurpolitieke bedeling oordrewe was en nie meer aan ’n jonger geslag Afrikaanssprekendes opgedring kan word nie – kan mens nog ’n oordeel vel oor die voorkoms van anglisismes in ’n Afrikaanssprekende se taalgebruik en dit as onsuiwere taalgebruik stigmatiseer? As mens in ag neem dat veral onder die jonger geslag ’n leeskultuur, veral ’n Afrikaanse leeskultuur, baie verswak het, dat die onderrig van formele grammatika op skool erg afgewater geraak het, en dat die taal van die populêre kultuur en die sosiale media wêreldwyd Engels is, moet die antwoord op dié vraag nee wees. Die gehalte – die suiwerheid – van jou gesproke en geskrewe Afrikaans raak jou eie keuse. Waar ’n maatskappy of openbare instelling Afrikaans van ’n hoër gehalte vereis, is dit taak van professionele taalpraktisyns om só ’n diens te lewer.

Lees 2599 tye Laaste modifikasie op Dinsdag 21 November 2017 20:34

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK