Goed, goed, laat ons ook eerlik wees: Die uitgewer, Pharos Woordeboeke, het ʼn 1 000 kopieë van die boek aan onderwysers persent gegee. Maar dit is ʼn 1 000 kopieë wat staan loop kry het in klaskamers oor die hele land en hopelik daagliks deur jong, entoesiastiese taalgebruikers geraadpleeg word. Wie weet, dalk het die AWS die vroeteltol as modegier verbygesteek! #wensdenkery
In jou plaaslike of aanlyn boekwinkel gaan jy dalk nog ʼn versamelaarskopie van die eerste druk van dié jubileumuitgawe van die AWS kan opraap. Maar jy sal moet gou spring, want die Taalkommissie moes hierdie week inderhaas alle herdrukwysigings aan die uitgewer deurstuur.
Wysigings?
Die drukkersduiwel was ons besonder goedgesind, moet ek sê, maar hier en daar het tog ʼn foutjie deurgeglip. In die tweede druk (en in die aanlyn weergawes) word die foute reggestel.
Oor die afgelope vier maande was daar ses amptelike bekendstellingsgeleenthede, terwyl VivA dertien werkswinkels oor die hele land vir onderwysers, uitgewers, vryskutredigeerders en ander taalgeesdriftiges aangebied het.
ʼn Mens is baie dankbaar teenoor Pharos Woordeboeke, NB Uitgewers en Media24 wat geen moeite of geld ontsien het om die boek te publiseer en bekend te stel nie. En teenoor die SA Akademie wat oor die afgelope agt jaar meer as ʼn miljoen rand in die voortgesette werk aan die AWS belê het. En veral teenoor huidige en oud-Taalkommissielede wat na raming meer as 7 000 mens-uur in dieselfde tydperk aan die boek afgestaan het.
Maar die grootste dank en waardering gaan aan Afrikaanse taalgebruikers wat ten spyte en te midde van vlietende onthutstekens en negatiewe politieke slagspreuke oor Afrikaans, steeds Afrikaans gebruik én waarde heg aan hoëkwaliteittaalgebruik.
As ek ʼn hoogtepunt in hierdie AWS-eeufeesjaar moet uitsonder, sal dit die luisterryke bekendstellingsgeleentheid op die dak van die Media24-gebou in Kaapstad wees. Coenie de Villiers het gesing dat die buuste bewe, wyn het gevloei, en smaaklike, ooglike kanapees het die tablo passeer. RSG het die bekendstelling regstreeks uitgesaai, en dit was Magdaleen Kruger se spitsvondige opening wat die koek gevat het:
“Oukei, gentlemen en dames, kom ons begin vanaand hier by die mooi venue gesels, waar ons ʼn scoop met die eerste bekendstelling van die nuwe AWS het. En ek hoop al die tuisnywerheid-anties wat dalk nou besig is om brownies en muffins te bak, luister ook saam. Neem dáár ʼn selfie van jou en jou muffin.”
Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 02 Desember 2017 verskyn.