Hier is HAT se woord van 2017

Geplaas deur VivA-redaksie Maandag 18 Desember 2017
Gepubliseer in Nuus;

Die redaksie van die  Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal  het op Maandag 18 Desember dié woordeboek se woord van die jaar bekend gemaak.

 

HAT6 HAT2017

2017 was in vele opsigte ’n jaar van delusie, van wanbestuur en wanadministrasie. Van die internet en die sosiale media, waar elke janrap as klikjagter ontpop en met klikaas uit gratis digitale inhoud geld probeer maak het, tot by Suid-Afrika se politieke bestel, wat steeds in ’n web van leuens vasgevang was. 

Openbare bronne is misbruik en foutiewe voorstellings en bedrog ingespan om politieke mag te behou. Na die Zuptas en die Guptagate-skandaal (die staatskaping by staatsinstellings en die omstrede Gupta-familie se betrokkenheid daarby) is verskeie ondersoeke ingestel. Fopnuus is versprei en misleidende en bedrieglike veldtogte van stapel gestuur. Nie net amateurs het ooglopend onware inligting versprei nie; dikwels is feite doelbewus verdraai, joernalistieke betroubaarheid en geloofwaardigheid met opset ondergrawe. “Julle gradueer in ’n land waar gierigheid, misleiding en die misbruik van mag tot ’n kuns ontwikkel is,” het prof. Sizwe Mabizela, visekanselier van die Rhodes-Universiteit, byvoorbeeld, in April studente van dié universiteit op hulle gradeplegtigheid gewaarsku.

Die land huiwer op die rand van rommelstatus. Onlangs het die internasionale kredietgraderingsagentskap Standards & Poor’s Investors Service (S&P) Suid-Afrika se staatseffekte in rand en in buitelandse geldeenhede, sy banke en ander ondernemings se skuldbriewe met nog ’n kerf afgegradeer. Die agentskap Fitch beskou die land reeds as niebeleggingsgraad. Die derde grote, Moody’s, het ons op sy hersieningslys geplaas. En terwyl die rand nog verder kan verswak, inflasie nog verder kan styg, die verkiesing van Cyril Ramaphosa tot nuwe ANC-president vandag die finansiële markte laat asem ophou het, kom in die doodsnikke van 2017 ook nog die Steinhoff-debakel, ’n vertroude witbroodjiewêreldmaatskappy wat weens beweerde bedrieglike en onetiese boekhoudingspraktyke en korporatiewe verrotting binne enkele dae sowat R154 miljard (dit is 90 persent) van sy aandeelhouers se beleggings uitgewis het.   

In die vermaaklikheidsbedryf, nie net in die VSA nie maar ook plaaslik, en ook elders, aan akademiese instellings en in skole, kom in 2017 van slagoffers van seksuele teistering die een ná die ander ek-ook-verhaal op die lappe: oor hoe sekspeste in magsposisies vroue – en mans – seksueel teister; hoe die slagoffers van seksuele teistering traag is om sulke voorvalle aan te meld, selfs daaroor te praat, omdat hulle dikwels glo daar sal niks van kom nie; dat dit die situasie net sal vererger.

In die buiteland en in die VSA, waar pres. Donald Trump se eerste jaar in die Withuis ten einde loop, vier polarisasie hoogty. In ’n enkele jaar het dié twietende president dit reggekry “om die VSA van die Weste te vervreem, oorlog teen die vrye media te verklaar, handelsooreenkomste te kanselleer, die VSA aan die Parys-ooreenkoms oor die klimaat te onttrek, en sy land nader aan konflik met Iran en Noord-Korea te bring”, soos Beeld, Die Burger en Volksblad dit in ’n gesamentlike Kommentaar opsom. Teen Trump en Trumpisme – onkunde, bullebakkery en haatspraak – kom meer en meer mense in opstand.

Ook in Suid-Afrika is kapsie gemaak. Teen baie dinge. Protesoptogte is gehou. Gewone mense het na die Parlement gestap, na die Uniegebou; opgeruk teen die president, teen plaasmoorde ... Maar by die meeste van ons bly selfs ons grootste besware meestal maar nog tot kliktivisme beperk – die aanlyn kliek en betoog van leunstoelaktiviste wat met “hou van” en kritiseer belangrike sake van die dag “ondersteun” of hulle daarteen verset.

Wanneer ’n mens jou van die doeltreffendheid van jou hart se pompaksie wil vergewis, of van jou geestesgesondheid, kan jy jou liggaam aan ’n strestoets onderwerp. Jy kan ’n tyd lank op ’n oefenfiets trap of ’n intellektuele strestoets aflê, soos om hoofrekene te doen of uit jou kop uit ’n toespraak te hou. Op talle terreine is Suid-Afrika en die wêreld vanjaar aan ekstreme strestoetse onderwerp. In die Wes-Kaap duur die waterkrisis voort. Weens die rampspoedige droogte is ook die landbou en landbouondernemings in ’n krisis gedompel. In Gauteng neem lughawe- of taximalaria toe. Vir baie mense voel dit dalk of die jaar 2017 ons tot die uiterste beproef het.

Dan seker ook geen wonder dat die stres-woer-woer (kortweg sommer streswoer of vroeteltol) vanjaar so gewild was nie – die “fidget spinner”-speelding waaroor kinders gaande was en wat as ’n stresverligter bemark word.

Is ons sterk genoeg om ná so ’n jaar die aanslae en die krisisse van 2018 die hoof te bied?

Mag 2018 vir almal ’n jaar van hoop wees; ’n jaar wat Afrikaans se woordeskat met nuwe name en nuwe woorde met positiewer konnotasies sal verryk.

Die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal se woord van 2017 is misleiding.

Lees 6527 tye Laaste modifikasie op Dinsdag 19 Desember 2017 07:19

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK