Mag jy Kersfees smul aan 'n minnemaal

Geplaas deur Gerhard van Huyssteen Saterdag 23 Desember 2017
Gepubliseer in VivA;

My ma sê altyd: “Vetsug is nie oorerflik nie, eetgewoontes wel.” En as jy soos ek uit ʼn tradisionele, Afrikaanse familie kom, sal jy weet dat my ma die waarheid praat.

My ouma is oorlede toe ek vyf jaar oud was, en die enigste beeld wat ek nog van haar kan oproep, is hoe sy met haar forse bo-arms in die warm kombuis staan en brood knie, hoe sy geruik het soos vars, warm suurdeegbeskuit uit die ESSE-steenkoolstoof. En ek onthou die stapels en stapels kos wat by elke liewe ete die tafels laat holrug staan het. Met Kersfees was dit oordaad kwadraat: gemmerbier en vars waatlemoen wat in ʼn streepsak in die plaasdam afgekoel is, vier of vyf soorte vleis met dubbel soveel bygeregte, en les bes, die doekpoeding met ʼn versteekte bronspennie.

Ek weet as ek môreaand by my ma se tafel aanskuif, gaan dit weer so ʼn gedoente afgee: Ons eetgewoontes het ons by my ouma geërf. Psigologies dink ek dit het iets te make met die swaarkryjare van die Groot Depressie, toe my ouma-hulle sprinkane en ander eetgoed uit die veld moes kry en skilpad ʼn delikatesse by spesiale geleenthede was. Die Groot Depressie leef as ʼn meem in ons gene, en ons eet oordadig om armoede en swaarkry te besweer.

Maar daar is grense …

Woolworths ruk hierdie Kersseisoen die dam onder die eend uit. Hulle verkoop ʼn skrophoender wat met ʼn bottermengsel ingespuit is teen R109,99 per kilogram. Jy betaal dus vir ʼn hoender van twee en ʼn half kilogram so ʼn slordige R275! Dis genoeg om my uit my geengroep te laat wakker skrik.

Die vermaarde kok Marinda Engelbrecht vra die afgelope week: “Bestaan die woord ‘minnemaal’? Ek kook vir my geliefdes ʼn minnemaal. Dis my sielskos vir my beminde.” Wat ʼn pragtige woord: “minnemaal”! Net soos “hartskos”, wat ook die naam van Elmarie Claassens se kookprogram op VIA is. Beide woorde sê in een asemteug hoe diep kosmaak in ons are loop.

Afrikaans se koswoordeskat is innoverend – ryk en lekker, soos koffiekapitaal.

Vra maar vir ʼn Nederlander van watter Afrikaanse woorde hulle hou, en een van die eerstes wat genoem word, is “toebroodjie” (vir wat die Hollanders ʼn “boterham” noem). Dié innoverende woord moes juis iewers in die Groot Depressie-jare ontstaan het: In die 1931-uitgawe van die AWS staan hy nog nie, maar in die 1937-uitgawe wel. Vandag is “toebroodjie” en die informele “toebie” skering en inslag by Afrikaanssprekendes (en selfs ander Suid-Afrikaners).

Drie nuwerwetse woorde is besig om nes te skrop in Afrikaans:

  • “sjokoladebruintjie”, naas “brownie”: Die 2017-AWS erken beide “brownie” en “sjokoladebruintjie”. Die woord “bruintjie” is ʼn leenvertaling van die Engelse brownie – beide bestaan uit ʼn kleuradjektief plus verkleiningsuffiks. Brownie dateer uit die 1510’s uit Skotland.
  • “gladdejantjie”, naas “smoothie”: Ook dié twee word naas mekaar in die 2017-AWS erken. Menige taalpraktisyn skop teen die woord “gladdejantjie”, omdat dit hul insiens op ʼn foutiewe interpretasie baseer is. ʼn Persoon wat smooth is, ʼn smooth operator, word in Afrikaans ʼn “gladdejan” genoem. Een of ander innoverende taalgebruiker het dié “gladdejan” toe gaan herinterpreteer en dit in die kosdomein loop staan aanwend. Dié proses staan in die taalkunde as herleksikalisering bekend.
  • “tjalie”, naas “wrap”, “tortilla” of “voupakkie”: Die nuwe AWS wil nog niks weet van “wrap” nie, maar ons sou kon voorspel dat hy dalk ook maar iewers in die toekoms as leenwoord (net soos “tortilla”) sy plek gaan vind. Persoonlik vind ek dat iets soos “hoender-en-avokadotjalie” lekker op die tong val, en juis ook omdat dit ʼn kreatiewe herinterpretasie van die verouderende woord “tjalie” is.

Eet smaaklik en bly weg van die weegskaal! Dis volgende jaar se probleem …

Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 23 Desember 2017 verskyn.

Beeld logo

Lees 890 tye Laaste modifikasie op Saterdag 23 Desember 2017 08:33

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK