Hou julle lekker vakansie? “Ons doen!”

Geplaas deur VivA-redaksie Donderdag 28 Desember 2017
Gepubliseer in VivA;

deur Fred Pheiffer

 

Wanneer dié taalverskynsel begin kop uitsteek het, sal ’n mens net met uitgebreide taalopnames kan vasstel, maar dit het waarskynlik ná die eeuwisseling begin. In navolging van Engelse uitdrukkings soos “I do” en “It does” het veral jonger Afrikaanssprekendes “Ek doen” en “Dit doen” begin sê. Dit kom neer op ’n uitbreiding van die sintaktiese rol van doen as werkwoord. Tradisioneel en konvensioneel was doen nog altyd en is doen steeds ’n oorganklike werkwoord. In ’n welgevormde sin benodig dit dus ’n komplement, hetsy ’n voorwerp (’n naamwoord) soos in “inkopies doen”, “sake doen” of “niks doen nie”, hetsy ’n bepaler (’n bywoord) soos in “uitstekend doen”. Derhalwe is ’n sin met doen sonder ’n komplement nie welgevormd nie.

Hoe dus nou gemaak met sinne waarin doen onoorganklik gebruik word? Iemand vra byvoorbeeld vir jou of jy van sjokolade met neute hou, en jy antwoord bevestigend: “Ek doen!” Of iemand merk op die hitte en droogte skroei alles droog, en jy stem saam: “Dit doen!” Taalpuriste sal dié soort verskynsel as volstrek anglisisties afmaak, en by elke geleentheid daarop wys en dit uit die taal probeer weer. Dat dit anglisisties is, kan nie ontken word nie. “Ek doen!” volg die Engelse patroon slaafs na en vervang in dié proses uitdrukkings soos “O ja!” of “Beslis!”, en “Inderdaad!” of “Dis nie altemit nie!”

Of dié manier van praat omkeerbaar is, is twyfelagtig. Die jonger geslag Afrikaanssprekendes hoor en sien Engelse vermaak en sosiale media tot versadiging toe, en hulle lees waarskynlik gans te min Afrikaanse media en literatuur. Die onderbou van hulle taalvaardigheid word dus Engels.

Objektief gesien kom ’n mens te staan voor die onafwendbaarheid van taalverandering. Om aan die lewe te bly, moet ’n taal ’n taalgemeenskap hê waarin dit aktief gebruik word. Maar ’n taal wat só gebruik word, gaan desnoods ook verander, soos die wêreld om hom verander. Gaan staan ’n taal stil in die tyd, beteken dit dié taal verloor sy gebruike of sy gemeenskap kwyn en die taal gaan weldra uitsterf.

In ’n situasie van taalkontak soos waarin Afrikaans en die ander inheemse tale hulle met Engels bevind, vind taalbeïnvloeding en die gevolglike taalverandering uiteraard nog vinniger en diepgaande plaas. Engels is die wêreldtaal van die ekonomie en die media, die taal van globale kommunikasie. Afrikaans en ons land se ander klein taaltjies kan hoegenaamd nie op alle terreine en vlakke met Engels meeding nie. Of jy jou moedertaal bly praat en gebruik, is nie meer ’n kwessie van noodsaaklikheid nie.

Enersyds neem ’n mens met spyt waar hoe Afrikaans sienderoë onder invloed van Engels verander. Andersyds is dit vanuit ’n taalkundige oogpunt boeiend om te sien hoe Afrikaans verander. En dat die taal steeds verander, sê tog ook iets. Afrikaans word gebruik. Afrikaans lewe. Inderdaad, dit doen!

Lees 2273 tye Laaste modifikasie op Donderdag 28 Desember 2017 18:07

2 Opmerking(s)

  • Kommentaarskakel Johan Mostert Donderdag 28 Desember 2017 18:10 geplaas deur Johan Mostert

    Ek het grootgeword in die Noord-Kaap en het kort na matriek Gauteng toe getrek agter werk aan. Dit was in 1999 en ek het toe al te gehoor hoe die jong mense praat van 'dit doen'. Dit was vir my baie vreemd omdat niemand op ons dorp so gepraat het nie . Nou bly ek in KwaZulu-Natal op 'n kusdorp en hoor die stelling gereeld wanneer dit vakansietyd is en die binnelandse mense kom vakansie hou. Nouja, die taal kan seker nie anders as om te verander nie.

  • Kommentaarskakel Elza Lorenz Donderdag 28 Desember 2017 08:45 geplaas deur Elza Lorenz

    Dis inderdaad so. Sekere slaafse navolgings soos: Ek lief dit, is iets wat ek hoor en nie oor my lippe kan kry nie maar vermoed dat dit ook binnekort algemeen aanvaar en gebruik sal word. Die dinamiese aard van 'n taal is nou maar een maal soos hy is.

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK