Laat konteks bepaal wat is nommerpas

Geplaas deur Gerhard van Huyssteen Saterdag 06 Januarie 2018
Gepubliseer in VivA;

Honderd.

Dít is die syfer/nommer/getal/aantal/hoeveelheid rubrieke wat ek tot en met vandag vir Beeld geskryf het.

Watter een van die vyf keusewoorde is korrek in hierdie sinskonteks? Dink eers mooi na, voordat jy verder lees …

Ons kan hulle in twee groepies verdeel: (1) syfer, nommer en getal; en (2) getal, aantal en hoeveelheid.

Syfers (meestal digits in Engels) is streng gesproke daardie tien tekens wat die getalle nul tot nege in die Arabiese skrifstelsel voorstel: 0, 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8 en 9 is syfers. Ons kan syfers kombineer om onder meer twee ander goed te vorm, naamlik nommers en getalle (wat beide meestal vertaal word met numbers in Engels). [Let op dat daar enkele uitsonderings is. Ons praat wel van die slaagsyfer, of van die baansyfer in gholf, of van die werkloosheidsyfer in Suid-Afrika.]

ʼn Nommer is ʼn kombinasie van ʼn aantal syfers wat gebruik word om iets of iemand te identifiseer, byvoorbeeld die tien syfers in jou telefoonnommer, of die dertien syfers in jou ID-nommer. Jou motor se registrasienommer bestaan uit ʼn kombinasie van syfers en letters (of as jy windgat en ryk is, slegs uit letters).

ʼn Getal druk ʼn (hoe)veelheid of somtotaal uit. In “vyf maal vyf is vyf-en-twintig”, is “vyf” en “vyf-en-twintig” beide getalle wat deur telwoorde uitgedruk word, terwyl dieselfde getalle deur syfers uitgedruk word in “5×5=25”.

syfer 0, 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9
nommer bv. 701104 5078 0 89; 082 876 5432
getal bv. 5; 25; 258 miljoen
getal die getal telbare goed (wat reeds getel is)
aantal 'n aantal telbare goed (wat nog nie getel is nie)
hoeveelheid 'n/die hoeveelheid nietelbare goed

Nou kom ons by die tweede groepie. “Getal”, “aantal” en “hoeveelheid” is al drie selfstandige naamwoorde wat voor ander selfstandige naamwoorde geskryf kan word, byvoorbeeld “die getal studente”, “ʼn aantal studente”, of “die hoeveelheid water”. Maar wat hoort by wat, en wat is die verskil tussen die klomp?

Op die basiesste vlak kan ons sê dat ons wêreld uit telbare en nietelbare goed bestaan. Honde, stoele en verkeersknope is telbaar, en ons kan dus van “twee honde”, “twaalf stoele” en “talle verkeersknope” praat. Daarteenoor is goud, suurstof en jaloesie nie telbaar nie en kan ons dus nie maklik na “*twee goude”, “*twaalf suurstowwe” en “*talle jaloesies” verwys nie. Soort-, versamel- en maatnaamwoorde word gewoonlik vir telbare goed gebruik, terwyl massa- en abstrakte naamwoorde vir nietelbare goed ingespan word.

En al wat jy nou hoef te onthou, is soos wat “tal” by “tel” hoort, hoort “getal” en “aantal” by telbare goed. En die verskil tussen hulle? Goed wat reeds getel is, kry “getal”, en goed wat nog ongetel is, kry “aantal”. Ons verwys dus na “die getal studente wat geregistreer is” (ons weet presies hoeveel daar is), teenoor “nog ʼn aantal studente wat moet registreer” (ons is nie seker hoeveel daar is nie, maar ons sou hulle kon tel). In Engels word die onderskeid slegs met die lidwoord getref: the number of students, teenoor a number of students.

“Hoeveelheid”, daarenteen, word saam met nietelbare goed gebruik, byvoorbeeld “die hoeveelheid water wat jy nodig het”, of “die hoeveelheid stres wat jy beleef”. Die Engelse gebruik hier meestal a/the quantity of water/stress.

Hierdie selfde onderskeid tussen telbare en nietelbare goed word in Engels uitgedruk met many teenoor much: many columns provide much reading material. In Afrikaans tref ons egter nie sommer die onderskeid nie – dis gewoon “baie rubrieke wat baie leesstof voorsien”.

Die regte antwoord op die vraag?

Honderd is die getal rubrieke wat ek tot en met vandag vir Beeld geskryf het.

Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 06 Januarie 2018  verskyn.

Beeld logo

Lees 1217 tye

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK