Hoe kan 'n voël janfiskaal én laksman heet?

Geplaas deur Gerhard van Huyssteen Saterdag 13 Januarie 2018
Gepubliseer in VivA;

Vra voëlghoeroe-koekoekeloerder Sam de Beer via e-pos: “Ek is op soek na die herkoms van ʼn klompie Afrikaanse voëlname, spesifiek kemphaan, laksman, katakoeroe, nuwejaarsvoël en nimmersat. Party name lyk logies, maar is nie: Die nuwejaarsvoël is hier lank voor Nuwejaarsdag en broei ook nie oor dié tydperk nie. Ander name lyk maklik, maar ek is nie seker oor die Hollandse herkoms nie.”

Soos Afrikaanse plek-, berg- en riviername, is Afrikaanse plant- en diername getuienis van ons ryke hutspotwortels. Ons algemene woordeskat mag dalk oorwegend Diets wees, maar dis juis in die name van inheemse geplantes en gediertes wat ons duidelik sien hoe maklik Afrikaans by Khoi, Maleis, Portugees, Engels, Frans, Zoeloe, Xhosa, en so meer gaan leen.

Die standaardwerk oor die herkoms van Afrikaanse plant- en diername is die 1941-boek van J du P Scholtz, getiteld Uit die geskiedenis van die naamgewing aan plante en diere in Afrikaans. Danksy die Digitale Bibliografie van die Afrikaanse Taalkunde (DBAT) van die Noordwes-Universiteit, is die volteks van dié klassieke werk gratis aanlyn beskikbaar. Hiermee saam moet ʼn mens Afrikaanse etimologieë van SPE Boshoff en GS Nienaber (1967) raadpleeg (ook beskikbaar op DBAT), asook die Etimologiewoordeboek van Afrikaans onder redaksie van Gerhard van Wyk (beskikbaar op VivA se slimfoontoepassing, of op die webwerf van die WAT).

Scholtz onderskei tussen drie kategorieë name, te wete erfgoed (woorde wat uit Nederlands geërf is, byvoorbeeld mossie, spreeu, kraai, kwartel en reier), leengoed (veral geleen uit die inheemse tale, soos byvoorbeeld mahem) en eiegoed (wat ter plaatse in Afrikaans geskep is, byvoorbeeld geelbekeend, rooibekkie en slangvreter, oftewel sekretarisvoël).

Gegewe dié agtergrond, terug na Sam se lysie name:

Nimmersat (Johan van Rensburg op Flickr)

  • Die naam van die kemphaan (Philomachus pugnax) is oorgeërf uit Nederlands, waar “kemp” verband hou met die woord “kamp” wat “geveg; wedstryd” beteken (soos ons ook kry in die woord “kampioen”). Volgens die Nederlandse Wikipedia ding die mannetjies op “stoeiplekke” (!) teen mekaar mee om die vlerke van die toekykende wyfies – vandaar die “kemp” in “kemphaan.
  • Die laksman staan ook bekend as (jan)fiskaal. Waarom twee sulke uiteenlopende name vir dieselfde voël? Een van die vaders van die etnobiologiese nomenklatuur, Carl Linnaeus, het dié voël benoem as óf Fiscus collaris, óf Lanius collaris. Eersgenoemde dui op die feit dat hierdie voël goed versamel, net soos wat die fiskus (of ʼn fiskaal) ons belasting insamel; daarom dus die voëlnaam (jan)fiskaal. Die Latynse woord lanius beteken “slagter”, en die naam Lanius collaris dui op die feit dat hierdie voël kleiner voëlsoorte vang en verskeur; vandaar dan ook die verband met “laksman” – iemand wat ander mense teregstel. Die woord “laksman” het ons uit Maleis (laksamana) loop staan leen, en op hulle beurt het die Maleisiërs weer die woord uit die hindoe-epos Ramajana gepik: Lakshmana/Laxman/Lakhan is die bekende prins Rama se jonger broer.
  • Hoewel niemand honderd persent seker van die herkoms van die woord is nie, is katakoeroe (familie Campephagidae) na alle waarskynlikheid ʼn leenwoord. In Kaapse Khoi sou dit moontlik “duiwelsvoël” kon beteken, maar dit is meer waarskynlik dat die naam verband hou met die woorde goura-p en t’2guraa-b wat “kraai” beteken het.
  • Die nuwejaarsvoël (Clamator serratus) se naam is eg Afrikaans en tussen 1715 en 1785 hier ter plaatse geskep. Ek kon helaas geen inligting opspoor waarom dit die naam van die voël is nie – anders as die nuwejaarsafrikaner (Gladiolus cardinalis) wat in Desember/Januarie blom.
  • Op Flickr beweer die fotograaf Johan van Rensburg dat die naam nimmersat (Mycteria ibis) uit Duits geërf is, maar behalwe vir die feit dat dié voël se naam in Duits Nimmersatt is, kon ek die oorsprong nie verder verifieer nie. Die naam is waarskynlik gebaseer op die feit dat dit lyk asof hulle die hele dag na kos op soek is: Hulle is dus nimmer sat (oftewel versadig). Ander soortgelyke samestellings in Afrikaans is “flapuit” (iemand wat alles uit (f)lap), “bemoeial” (iemand wat hom met alles bemoei), “weetal” (iemand wat alles weet) en “deugniet” (iemand wat nie deug nie).

As jy dalk oor meer inligting beskik, laat hoor gerus van jou.

Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 13 Januarie 2018  verskyn.

Beeld logo

Lees 1774 tye

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK