“Bê,” sê die bok. “Huidjiehu,” sê die sprinkaan.

Geplaas deur Jana Luther Saterdag 13 Januarie 2018
Gepubliseer in VivA;

Nie alle woorde dra gewoon betekenis oor nie. Van sommige woorde word hulle betekenis ook weerspieël deur hoe hulle klink. In die poësie, waar klankelemente die basis van rym en ritme is, ja, maar nie net in gedigte nie. Ook in die gewone, alledaagse spreektaal is daar tussen klank en betekenis dikwels ’n duidelike verwantskap te bespeur; soms kan ’n mens jou dit maklik verbeel. In die prosodie, stilistiek, literêre kritiek, ook in die taalkunde, word ooreenkomste tussen die betekenis van woorde en uitdrukkings aan die een kant en klankaspekte aan die ander kant, klankuitdrukking genoem, of meer spesifiek: klankekspressie.

Hiervan word veral drie tipes onderskei.

Die menslike stem is ’n geskakeerde instrument. Met ons stemme kan ons allerhande geluide naboots. Ons doen dit van die vroegste tye af, en ons doen dit steeds. Luister maar na kinders, wanneer hulle speel. “Broem.” “Wroem-wroem.” Met karretjies, byvoorbeeld. By menige kleuter tel dit dalk onder sy of haar eerste woorde. Honde “woef”. Beeste “boe”. Koeie “moe”. Die kerkklok “dong”.

Hierdié soort klankekspressie – waar met die stem gepoog word om wat die gehoor waarneem, te reproduseer; dit weer te gee – word klanknabootsing, of onomatopee (van die Grieks onoma ‘naam’ en poiein ‘maak’) genoem. Klanknabootsende woorde word gevorm en funksioneer op grond van die ooreenkoms tussen die klank(e) van ’n woord en ’n akoestiese kenmerk van die ding wat deur die woord aangedui word. Vergelyk , , ô-ô, og-og, oi-oi, prr, tjiep, tjilp, tjirp, tjier, byvoorbeeld; ewe-eens deur en teenoor kinders gebruik, maar nie uitsluitlik nie. Hierdie klanke stem direk met geluide in die werklikheid ooreen: en word tipies met die blêrgeluide van ’n bok of skaap geassosieer; ô-ô, og-og, met die herhaalde, steunende snorkgeluide van ’n vark; oi-oi met ’n varkie wat hongerig skree. Tjiep, tjilp, tjirp en tjier is nabootsings van die dun, skerp geluidjies wat sommige diertjies voortbring; prr die geluid van ’n kat wat spin. (Vergelyk ook die sagte /x/-klank, uitgespreek soos “cchh” in Duits, wat die blaasgeluid weergee van ’n kat wat rug krom maak.)

 

 

 

Wanneer dieselfde klank herhaaldelik nageboots word, word die nabootsing gaandeweg ’n woord, tussen al die ander, gewone woorde van die taal. “Mê!” roep die bokkie agter sy ma aan. “Og-og!” snork die vark. “Oi-oi,” skree die varkie in die sprokie. “Kom, prr ’n bietjie vir die mikrofoon sodat almal kan hoor hoe ’n groot kat klink,” sê ’n radioverslaggewer aan ’n jagluiperd. In die Woordeboek van die Afrikaanse Taal lees ons van die getjiep van ’n tinktinkie; die getjiep van sprinkane wat broei; die aanhoudende getjiep-tjiep van ’n heuningvoëltjie; die klaende getjier van ’n renostervoëltjie; die getjier-tjier van stokstertmeerkatte; en meer.

Afrikaans het baie sulke woorde. Dink maar aan al die name wat ons aan die sangwysies herinner van die voëls waarna hulle verwys: “Bokmakierie,” roep die geel-groen voël met die swart keeltjie, wat ook bokmakoer genoem word. “Kokkewiet,” antwoord die wyfie, wat aan bokmakierie sy ander naam besorg.

 

      

 

Tussen die veervolk dink ’n mens ook aan die Europese koekoek. Die nabootsing van die welluidende, tweeledige fluitgeluid uit sy keel het aan hom nie net sy eie naam besorg nie, maar aan die koekoekklok ook syne. Op eie bodem kry ons van ons voorgeslagte Afrikaanse volksname soos dirkdirkie, janfrederik, jandiederik, piet-my-vrou, piet-tjou-tjou, en tiptol. In party dele van die land word die bontkorhaan, en partykeer ook die swarte, karkara genoem. In nabootsing van sy kar-kar-karak-karak-karak-rak-geluid. ’n Niealgemene naam vir die bont(kop)korhaan is katrinavoël, of kokkatrina, soos hy maak as iets hom laat skrik en hy opvlieg (deur die WAT in Steytlerville opgeteken). In nabootsing van sy geluid is die vlaktekorhaan se skertsende bynaam Bankrot.

Klanknabootsende name is ook nie net tot die groter diere en tot die voëlryk beperk nie. Ook insekte, en selfs plante, hoor ons in hulle name sing, soos die huidjiehu en die tjienkerientjee.

Huidjiehu is een van die baie name van die blaasopsprinkaan, waarvan die mannetjie, deur sy agterpote heen en weer oor ’n ry riffies langs sy agterlyf te skraap, ’n geluid voortbring wat soos sy naam klink. Huidjiehu se wyfie, meestal sonder vlerke, is stil. Dalk ook maar goed, want vir haar blaasoppie-man is daar in die WAT al meer as dertig name opgeteken: Naas huidjiehu ook hekiejee, heukieheu, heutjiehie, huidjie-eenasem, huidjie-eenderm, bêrendeenderm, goejaphonja, gonja, gonja-eenderm, katjie-eenderm, katjiepietereenderm, klaaseenderm, koffiemeul, langasem en pietereenderm. Onder meer.

Een van die min plante wat sy naam van ’n geluid kry, is die mooi maar giftige tjienkerientjee met sy kenmerkende swart oog. Van die tjienkgeluidjie wat ’n mens hoor wanneer vars tjienksteeltjies teen mekaar skuur. Nog ’n geluidnaam is ewwa-trewwa, ’n sterkgroeiende orgidee wat ook sy naam kry van die klank wanneer ’n mens twee van sy stingels, ewwa-trewwa, oor mekaar trek.

Aan die Oos-Kaapse kus, in die historiese natuurlandstreek Pondoland, is daar ten slotte ook ’n dorpie. Lusikisiki. Lusikisiki, die fluistering van gras en riete in die wind.

Volgende keer skryf ek verder, oor ander vorme van klankekspressie: bewegingskildering en klanksimboliek.

Lees 1929 tye Laaste modifikasie op Sondag 14 Januarie 2018 10:00

1 kommentaar

  • Kommentaarskakel Annette odendaal Vrydag 14 September 2018 20:49 geplaas deur Annette odendaal

    Ek wag in spanning vir die opvolg hiervan...

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK