Taalsuiwerheid – kry jou anglisisme aangespreek en jou lingo in lyn

Geplaas deur Sophia Kapp Donderdag, 25 Januarie 2018
Gepubliseer in Nuus;

Daar is kwalik beter klikaas op ʼn taalforum as die woord "anglisisme". ʼn Mens begin nog net met die gesprek, dan is iemand al kwaad. Tien kommentare later, en die baklei is volstoom aan die gang. In die een hoek van die kryt is die behoudendes wat vaandels swaai en jaloers waak oor erfgoed, en in die ander hoek is die libtaliges wat glo die mag lê by die mense, ongeag dié mense se bevoegdheid. Hulle het natuurlik albei ʼn punt beet, dié twee groepe, en ʼn rol in die gesprek te speel. In die taalsuiwerheidsdebat is niemand se stem onbelangrik nie, en niemand se mening die begin en die einde van die gesprek nie. Dis belangrik dat ons met mekaar praat, maar dis net so belangrik dat ons na mekaar moet luister en mekaar moet verstaan.

Voor ons begin gesels oor taalsuiwerheid, is daar ʼn paar terme wat ons moet bemeester sodat ons ten minste almal dieselfde ding begryp wanneer ons ʼn ding sê. Hier is ʼn blitsgids om jou deur die doolhof te help:

Anglisisme. ʼn Anglisisme is ʼn direkte oorklanking van ʼn Engelse taalbousel. Dit lyk en klink soos Afrikaans, maar is in stryd met die Afrikaanse idioom en verdring ʼn Afrikaanse taaleie konstruksie. "Die tyd hardloop uit" is ʼn anglisisme ("time is running out"). Om ʼn probleem "aan te spreek" ("address a problem") ook.

Leenwoord. Leenwoorde is woorde wat uit ʼn ander taal oorgeneem word. Dit kan gestandaardiseer wees (geskik wees vir gebruik in standaardtaalfunksies), of dit kan nog gemerk wees en deur leksikograwe en taalnormeerders beskou word as ongeskik vir gebruik in formele tekste. "Venue", "sushi" en "charcuterie" is van die leenwoorde wat onlangs deur die Taalkommissie in die Afrikaanse woordelys en spelreëls opgeneem is. Woorde soos "great", "gross", "scary" en "awesome" wat in Afrikaanse tekste en gesprekke voorkom, is ongestandaardiseerde leenwoorde. Dit beteken nie die weerlig gaan jou slaan as jy dit gebruik nie, maar dié woorde merk jou wel en beperk die kontekste waarin jy jou teks kan benut.

Leenvertaling. ʼn Leenvertaling is ʼn leenwoord wat (in spelling en uitspraak) verafrikaans word. ʼn Woord soos "barok" is ʼn verafrikaansing van die Franse woord "baroque". Baie van die woorde wat Afrikaans via Nederlands uit Frans gekry het, is op hierdie manier verafrikaans: "evalueer", "repudieer", "assesseer", "filosofie" en "intervensie" is voorbeelde van sulke leenvertalings. Dit is ʼn algemene wanopvatting dat enige woord in Afrikaans wat klink asof daar ʼn Engelse ekwivalent is, per se ʼn anglisisme is. Dit is nie waar nie – hierdie woorde is so Afrikaans soos "biltong" en "melktert", hulle het net ʼn Romaanse oorsprong.

Jargon. (Spreek dit op Afrikaans uit, met ʼn harde r en frikatiewe g.) Dit is ʼn ander woord vir "vaktaal" en ek noem dit hier, want dit sluit aan by Romaanse leenvertalings. Vakkundiges benodig terminologie wat eenduidig en behoorlik gedefinieer is sodat hulle binne hulle vakgebied met kollegas en studente oor goed kan praat sonder dat hulle misverstaan word. As ʼn sielkundige sê iemand is "neerslagtig" beteken dit een ding. As dieselfde sielkundige oor dieselfde persoon sê dié het "depressie", beteken dit iets anders. Dit is ʼn algemene neiging in Afrikaans dat vertalings van vaktaal naby aan die brontaal bly. Dokters sal byvoorbeeld in ʼn akademiese omgewing eerder van "rubella" as "Duitse masels" praat, en taalkundiges hou hulle besig met "linguistiek" eerder as "taalkunde". Dis nie van slimgeit wat hulle so klink nie, dis omdat "taalkunde" in die volksmond ʼn klomp betekenisonderskeidings bygekry het wat nie in ʼn akademiese wêreld ter sprake is nie.

Sleng. Ja, jy mag die woord gebruik; dit is ʼn erkende leenvertaling. Sleng kom voor in informele geselstaal. In Afrikaans is dit dikwels baie Engels. Die immergroen "bra" is ʼn voorbeeld van sleng. Sleng is ook by uitstek die woorde wat solidariteit in ʼn bepaalde groep in ʼn taalgemeenskap skep. Studente wat byvoorbeeld in koshuise gaan woon, leer dadelik die slengwoordeskat van die koshuis en die kampus aan – daarmee word hulle deel van die studentegemeenskap en kan hulle hulle nuutgevonde onafhanklikheid tydens vakansies by die huis gaan afwys.

Variant. ʼn Variant is ʼn ander vorm van ʼn woord of ʼn uitdrukking wat in ʼn taalgemeenskap bestaan. Verskille in uitspraak is gewoonlik die opmerklikste variante – jy hoef bloot te luister na hoe verskillende sprekers van Afrikaans die woord "ek" uitspreek om dit raak te hoor. Maar variasie kom ook op ander taalvlakke voor: Sommige sprekers skryf "nogal", ander skryf "nogals". Sommige sê hulle het hard "geprobeer", ander het net "probeer" (albei is reg!). Baie van die variante wat in Afrikaans opgeteken is, is kenmerkend van streektaal.

Variëteit. As ʼn groep sprekers ʼn klomp variante in hulle taalgebruik deel, word daardie groep se taal ʼn variëteit. Afrikaans het verskeie variëteite, waarvan Kaaps die sterkste is. Oranjerivierafrikaans, Griekwa-Afrikaans en Tienerafrikaans (wat hoofsaaklik bestaan uit "cute" en "awesome") is van die ander variëteite wat in die taal voorkom. Dis baie belangrik om te verstaan dat variasie in ʼn taal nie ʼn swakheid is nie, maar ʼn teken van krag, vernuwing en groei. ʼn Taal wat net in ʼn standaardvorm bestaan, is dood.

Standaardtaal. Mense se opvattings oor wat die standaardvorm van ʼn taal is (en wat dit behoort te wees) verskil drasties. Selfs taalkundiges stem nie altyd saam oor wat in die definisie van "Standaardafrikaans" hoort nie. Die belangrikste ding wat jy moet begryp, is dat beheersing van die standaardvorm nie ʼn vereiste is vir lidmaatskap van ʼn taalgemeenskap nie. Selfs tieners wat praat van "cute" en "awesome", en Bolanders met hulle "iek" en Pretorianers met hulle "aek", is almal Afrikaanssprekers. Ons mag maar so ʼn bietjie oor en weer spot, maar niemand is hulle plek in die son of in die taalgemeenskap kwyt omdat hulle nie soos ʼn ander spreker klink nie. Die nut van ʼn standaardvorm het te doen met sy "algemene" bruikbaarheid. Dit is die vorm wat niemand kwaad maak of merk nie, dit is die vorm wat almal verstaan en wat sprekers in staat stel om hulle boodskap ten beste oor te dra. So oulik as wat dit byvoorbeeld is om te weet "pramhalter" is ʼn ander woord vir "bra" (deur Anton Prinsloo opgeteken in Annerlike Afrikaans), gaan dit waarskynlik nie deug as Woolies hulle eksklusiewe reeks onderklere adverteer as "sexy pramhalters" nie. Wanneer die boodskap moet voorrang geniet en nie die boodskapper of die medium waarin die boodskap geskryf is nie, is die standaardvorm die verstekvariëteit.

Mag ons mekaar oor die taal in die taal verstaan.

VivA-groete

Sophia 

Lees 1915 tye Laaste modifikasie op Donderdag, 25 Januarie 2018 18:45

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK