In woordeboeke soos die HAT en die WAT is talle klanknabootsende woorde opgeteken, nie net woorde wat die geluide van lewende dinge weergee nie; ook woorde waarin die geluide van nielewende dinge eggo: Die getjier van ’n kruiwawiel. Die klingeling van ’n voorbok se klok. Die klang! klang! van ’n windpomp in die nag. Die getjingel van ’n Hollandse straatorrel. Die ketakke, tikketak-tikketak van treinwiele op ’n spoor. Die trieng van ’n deurklokkie. Die tieng-tieng van ’n kasregister of trem. Die tieng-tong van die bure se seun wat klavier oefen.
Wie kan nou slaap met so ’n gedoef-doef heelnag bo jou kop? Flaps-flaps stap sy met haar stewels deur die water. Ons hoor sy rolstoel gierts-gierts aankom. Girts! word ’n vuurhoutjie in die donker getrek. Ghoemps! spring die vis terug in die water. Kaplaks! loop sy in die ruit vas. Kirts-kirts krap die kat teen die nuwe rusbank. Die hael kletter op die sinkdak. Elke keer as ’n vragmotor verbykom, rittel die ruite in hulle rame, ratel die breekgoed op die rak.
Sulke direk en indirek klanknabootsende woorde is egter nie al vorm van klankekspressie nie. ’n Tweede tipe klankekspressie kry ’n mens by woorde wat nie ’n bepaalde geluid oproep nie, maar ’n bepaalde beweging of handeling aandui; woorde wat – wanneer ’n mens hulle hardop sê – klankmatig ’n beeld suggereer wat met hulle betekenis ooreenstem. Woorde soos slinger, swiep, wapper . . .
In sulke woorde word die begrip en beweging – die betekenis wat oorgedra word deur die samevoeging van die spesifieke letters tot ’n woord – ook vasgevang en weerspieël in hoe die gesproke woord klink. Nog voorbeelde hiervan is kriewel en wriemel, sidder, skommel en wikkel. In nie een van dié woorde is daar ’n spesifieke geluid te identifiseer nie, maar elkeen “skilder” deur sy uitspraak, op ’n unieke manier, die beweging wat hy aandui. By die aanhoor van flikker en flits kan ’n mens as ’t die ware die ligprikkels sien.
Hierdie tipe klankekspressie word klankskildering genoem.
Deur kort vokale vir vinnige bewegings te gebruik, lang vokale en diftonge vir stadige bewegings, kort en lang klanke af te wissel, letters en klankgrepe te herhaal om aan te dui dat ’n beweging herhaal word of voortduur, konsonante opeen te hoop sodat die stadiger, moeiliker uitspraak ’n vertragende effek het om ’n moeisame gang te suggereer, en so meer, skilder ons terwyl ons praat, beweging ook in klank.
Volgende keer skryf ek verder, oor die derde vorm van klankekspressie: klanksimboliek.