Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde:
- hoëhakskoen
- korttermynversekering
- plaaslikeregeringsverkiesing, en my gunsteling:
- konstantesnelheidslasas
Min mense sal sommer die woord “hoëhakskoen” as “hoë hakskoen” skryf, al kan hulle nie altyd vir jou sê hoekom nie. Die rede hiervoor, soos ek hier bo aangedui het, is dat die woord “hoëhakskoen” bestaan uit die woordgroep van ’n byvoeglike naamwoord in attributiewe vorm (hoë) plus ’n selfstandige naamwoord waarop die byvoeglike naamwoord betrekking het (hak) en nog ’n selfstandige naamwoord (skoen). As jy nou na “hoëhakskoen” in sy geheel kyk, sien jy dat die woorddeel “hoë” spesifiek betrekking het op “hak” en nie “skoen” nie, anders sou dit dalk beelde oproep van mense op stelte by ’n sirkus. Dus, om seker te maak die leser weet dat die hak hoog is en nie die skoen nie, skryf ons die woord vas.
Dié verskynsel is nie uniek aan Afrikaans nie. In Nederlands skryf jy byvoorbeeld ook “klassiekemuziekkenner” en “roodewijnglazen”. In Engels, waar samestellings gewoonlik los geskryf word, maak ons van ’n koppelteken gebruik, byvoorbeeld “high-impact plastic”.
Nou, wanneer so ’n samestellende samestelling aan die kort kant is, het minder mense probleme om sulke woorde vas te skryf, maar wanneer hulle langer word, soos in die geval van “plaaslikeregeringsverkiesing” of “ekonomieseklaspassasier” begin mense twyfel. Waarskynlik omdat ’n mens feitlik nooit sulke lang woorde in Engels kry nie en aangesien ons almal met Engels te doen kry, wil ons dikwels Engelse reëls op Afrikaans toepas. In Afrikaans en ander Germaanse tale, soos Nederlands, Duits, Sweeds, Deens en Noors, skrik ons egter nie vir lang woorde nie – ons is mos Afrikaans!
Maar goed, nie almal voel so nie en veral as ’n mens in die pers werk, gaan jy voor jy jou oë kan uitvee met ’n spasieprobleem te doen kry. Dan moet jy hierdie lang woorde iewers afkap. Daar bestaan egter ’n reël oor die afkap van samestellende samestellings en dit is dat jy dit nie tussen die eerste twee woorddele (die byvoeglikenaamwoord-deel en die eerste selfstandigenaamwoord-deel) moet doen nie, behalwe as jy met ’n opeenhoping van klinkers te doen kry, byvoorbeeld “hoë-impakveldtog”. In alle ander gevalle is dit gewens om samestellende samestellings af te kap tussen die twee selfstandigenaamwoord-woorddele, byvoorbeeld “ekonomieseklas-passasier”.
Nog ’n rede hoekom mense twyfel oor die vasskryf van samestellende samestellings is moontlik omdat daar ’n paar voorbeelde is van wanneer ons met eiename of geografiese name te doen het, doen ons dinge anders. Hier is hulle:
- Middellandse Seegebied
- Demokratiese Partykandidaat
- Tweede Konsiliebesluit
Anders as by die voorbeelde vroeër in die artikel, word bostaande voorbeelde met hoofletters geskryf, wat uiteraard betekenisverwarring uit die weg ruim.
Ons het egter nie almal tyd om vir onsself uit te redeneer of ’n woord ’n samestellende samestelling of net ’n gewone kombinasie van ’n byvoeglike naamwoord en samestelling van selfstandige naamwoorde is nie. Die maklikste manier om te toets, is om te kyk of die byvoeglikenaamwoord-deel betrekking het op die eerste of tweede selfstandigenaamwoord-deel. Indien dit op die eerste selfstandigenaamwoord-deel betrekking het en daar is nie hoofletters ter sprake nie, skryf vas!