Kyk, as jy nou nog nooit ‘n klomp slimmige woordeboekmakers en bleeksielige akademici in aksie gesien het nie, sal jy nie weet dat daar nie sommer dadelik eenstemmigheid sal wees nie. Elke liewe woord word beproe, herkou en uiteindelik ingesluk of uitgespoeg: Vir dié een werk “taal of ʼn taal” nie, daai ene wonder oor “letters en diakritiese”. En so kluif ons elf e-posse lank.
Een kernkwessie waaroor uitsluitsel gekry moet word, is oor waar spelling in die breë prentjie van taal pas. Tradisioneel word spelling nie gesien as taal nie: Dis iets arbitrêrs wat deur ʼn klomp gryskoppe in ‘n stowwerige ivoortoring uitgedink word. Maar moderner mense dink daar anders oor.
Soos die taal wat in jou kop is, kan uitkom as gesproke klanke, net so kan dit uitkom in geskrewe tekentjies (ook bekend as gliewe, soos in hiërogliewe, waar daardie “hiëro-“ verwys na “heilig”; hiërogliewe is dus letterlik “heilige skrifteken”). En elke taal het ʼn eie, unieke manier hoe hierdie klanke en tekens ingespan word om die betekenisse en bedoelings in jou kop oor te dra.
Hierdie paragraaf is vir die leser wat hou van tegniese raaisels: Klanke = fone en foneme, en word onderskeidelik in die fonetiek en fonologie bestudeer. As tekens = grawe en grafeme, en grawe word in die grafetiek bestudeer, in watter studieveld word grafeme bestudeer? Die logiese afleiding sou wees … grafologie. Maar nee, grafologie is daardie pseudowetenskap waar jou handskrif ontleed word en dan alles oor jou bekend word, tot in jou derde en vierde geslag in. Aangesien die term grafologie reeds daarvoor gebruik word, moes ander plan gesien word. Toe kies ons vir grafemiek. Lekker maklik (!).
Die konvensies van hoe grawe (grofweg letters, diakritiese tekens en simbole) georganiseer word in ʼn spesifieke taal, word gewoonlik in ʼn taal se spelreëls (oftewel ortografie) weergegee. Die WAT definieer ortografie as die “stel konvensies om in 'n taal te kan skryf, wat insluit spellingnorme, beginsels oor skryfwyse, die gebruik van koppeltekens en hoofletters, die afbreek van woorde, klem en punktuasie”, maar ook die “juiste, korrekte spelling volgens aanvaarde of gevestigde gebruik”. (Ek beskou wel “die gebruik van koppeltekens en hoofletters” as ʼn onderdeel van skryfwyse, net soos los of vas skryf ook daaronder hoort.)
Só gesien is die ortografie van ʼn taal nie net die manier waarop geskryf word nie, maar óók die manier waarop korrek geskryf word. Die woord “ortografie” kom uit die Griekse orthos wat “korrek” beteken (soos ook in “ortodontis” en “ortopeed” – hulle maak onderskeidelik jou tande en voete “korrek”), plus die wortel van graphein wat “om te skryf” beteken”.
Spelling hoort dus tuis onder die ortografie van ʼn spesifieke taal (nie taal in die algemeen nie). En met die res van die inligting in pag, herformuleer Frikkie ʼn voorlopige definisie:
spelling: Manier waarop woorde van ‘n taal gespel en sodanige woorde deur letters en diakritiese tekens voorgestel word.
En wat beteken die woord “gespel” in die definisie? Voorlopig staan in die WAT by spel: “Die letters van 'n woord een vir een in volgorde sê, skryf of op 'n ander manier weergee.”
Luister ook na die podsending wat oor hierdie rubriek handel.
Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 10 Februarie 2018 verskyn.