(Ver)gissings oor gender

Geplaas deur Sophia Kapp Donderdag 15 Februarie 2018
Gepubliseer in Nuus;

Kry vanoggend ʼn navraag: Hoeveel van die "tradisionele" genderbenamings behoort leerders nog te ken? (Over geset synde: Wat hoort alles in daardie tradisionele lys van "manlik en vroulik" wat ons almal op skool moes memoriseer?) Is dit hoegenaamd nog iets wat in ʼn skoolhandboek hoort, of gryp ons gendergelykheid aan en smyt ons die hele sous by die deur uit?

(Laat ek net gou hier op ʼn syspoor stap oor die woord "gender", want ek weet iemand is nou al klaar daaroor opgeruk. Dit is ʼn aanvaarde leenwoord in Afrikaans, en ons spreek dit met ʼn harde g- en -r uit. Volgens die WAT se definisie het "gender" te doen met die "identiteit wat deur die seksuele selfbeeld van mense bepaal word"; "geslag", daarteenoor, is biologies.)

Dis nogal ʼn ingewikkelder kwessie as wat dit op die oog af blyk te wees. Genderstereotipering is ʼn werklikheid, en dit is noodsaaklik dat ons ʼn jonger geslag taalgebruikers oplei om daarop bedag te wees. Maar dit is ook opmerklik dat enige gesprek oor gender die geneigdheid het om binne drie of vier gespreksbeurte in ʼn bakleiery te ontaard.

Aan die een kant het jy die vuurvreters en baanbrekers (uit alle genders) wat glo die binêre skeiding van manlik x vroulik is uitgedien. Hulle werk hard en toegewyd daaraan om genderneutrale tekste te skep, en sal byvoorbeeld vinnig beswaar maak indien manlike voornaamwoorde gebruik word om na onsydige voorwerpe te verwys: "Stefan maak die boek toe en gooi hom op die bedkassie neer." (Dit is, terloops, heeltemal aanvaarbaar om in Afrikaans so te praat en te skryf. Taalkundig is daar met die "hom" in die voorbeeldsin niks verkeerd nie.) Die beswaar hier is dat dit paternalisme in die hand werk as ons aanvaar dat enige onsydige entiteit sommer by verstek manlik is.

Aan die ander kant is daar die tradisionaliste wat verbete vasklou aan woorde soos "maatskaplike werkster", "aktrise" en "sekretaresse". Geslagtelikheid is ʼn biologiese feit, is die redenasie, en dit is kunsmatig om te dink dat dit nie in taalgebruik neerslag gaan vind nie. Bowendien beteken die feit dat ʼn mens geslagtelikheid erken mos nou nie dat ʼn mens ipso facto genderdiskriminasie aanmoedig nie.

Die twee groepe is natuurlik albei reg én verkeerd. Niks is uitgedien totdat ʼn ganse taalgemeenskap dink dis uitgedien nie; as ʼn deel van die taalgemeenskap nog onderskei tussen die manlike en vroulike weergawe van ampte, moet kinders die woorde leer. Aan die ander kant is genderdiskriminasie en -stereotipering iets wat ons met moedersmelk inkry, en as ons nie iewers daaraan ʼn einde maak nie, gaan dit vir ewig voortduur.

Jy dink ek vergroot? Toets ʼn bietjie jou eie opvattings. As ek vir jou sê "sekretaresse", wat sien jy voor jou geestesoog? Kom ek raai. Dis een van twee goed: ʼn wulpse jong popsie met ʼn opgekamde kapsel en ʼn bol pienk kougom in haar mond, of ʼn postmiddeljarige draak met ʼn moesie op haar bolip en 'n goueraambril wat aan ʼn kettinkie om haar nek hang. Wat sien jy as ek sê "sekretaris"? ʼn Stroewe man in ʼn driestukpak met ʼn vervelige das en ouderlingskoene. (Terloops, ek het die woorde onder my negentienjarige kind se vriende getoets en dié beelde by hulle gekry. Genderstereotipering is lewend onder die jonger geslag.)

Maar wat nou gemaak met die lys? Hoe moet ons daaroor dink en wat moet ons van ons kinders verwag? Hier is ʼn paar riglyne wat ek toepas as ek daaroor besluite moet neem:

  • Geslagtelike onderskeid by diere is ʼn gegewe. Dis ook belangrik; ʼn varkboer moet weet dat hy bere en sôe het, anders boer hy agteruit. Ek kan nie voorsien dat dit vinnig geskrap gaan word nie; leer dit gerus aan.
  • Sommige terme word in vaktaal gebruik en is in bepaalde kontekste van belang. Dit is byvoorbeeld in ʼn regsomgewing belangrik om te onderskei tussen ʼn "klaer" en ʼn "klaagster", en ʼn "testateur" en ʼn "testatrise". Om sommer daar links en regs genderneutrale terme te kies (of om te besluit dat die manlike vorm die genderneutrale term is), is gevaarlik.
  • Sommige onderskeide is aan protokol verbind, en beduidend as ʼn mens dié protokol ken. ʼn Britse koningin is byvoorbeeld die regentes, of sy is die vrou van die regent. ʼn Koning kan net die regent wees; ʼn man wat met ʼn koningin trou, is ʼn prins. Adellike titels soos "hertog/hertogin", "graaf/gravin" en "markies/markiesin" het dieselfde soort implikasies, en die genderonderskeid raak daarom oor ander redes belangrik.
  • Formele aanspreekvorme is baie sterk gemerk. Die enigste raad wat ek het, is dat ʼn mens jong skrywers moet aanmoedig om so ver moontlik vas te stel met wie hulle kommunikeer. Dit is byvoorbeeld aanvaarbaar om ʼn brief aan ʼn sestienjarige meisie te skryf om haar te laat weet sy het verblyf in ʼn koshuis, en om haar dan aan te spreek as "mejuffrou Coetzee". Dis minder gaaf om ʼn sewentigjarige oudminister te laat weet sy het verblyf in ʼn aftreeoord en om haar dan aan te spreek as "mejuffrou Coetzee". En net voor jy dink vroue is kleinserig oor hulle titels, kyk ʼn bietjie wat gebeur as vir ʼn manlike professor ʼn brief skryf en dit begin met "Geagte mejuffrou Coetzee". Jy gaan baie vinnig op jou plek gesit word!
  • Daar is sekere poste waar die onderskeid tussen die manlike en vroulike vorm steeds getref word. Dit is byvoorbeeld vir almal natuurlik om van ʼn "vlugkelner" en ʼn "lugwaardin" te praat, maar dan na die groep te verwys as "vlugpersoneel". Dieselfde geld vir "verpleegster" en "verpleër". Dit sal dalk in die toekoms verander, maar dit is nou nog onproblematies.
  • Daar is poste wat tradisioneel deur mans gevul is, maar wat deesdae vir enigeen toeganklik is. Hoedanighede soos "skoolhoof", "chirurg", "landmeter" en "advokaat" was lank manlike domein, maar dis deesdae genderneutrale posbenaminge. Ek verkies om dieselfde te doen met "maatskaplike werker",
    "apteker" en "voorsitter". Ek skrap "ombudsman" baie vinnig en gebruik eerder "ombud" of "ombudspersoon".
  • Die werklike kwellings kom in by terme soos "aktrise" en "sekretaresse", juis omdat die genderstereotipes soos nat jasse daaraan hang. In my jong dae was ʼn "aktreuze" iemand wat met ʼn donkerbril en ʼn breërandhoed onderhoude toegestaan het. Sy was ʼn formidabele vrou, maar eksentriek. ʼn Akteur was iemand soos Sir John Gielgud, wat gemoduleerde Engels gepraat en Oscars gewen het. Ek glo nie "aktreuze" het al daardie belasting afgeskud nie, en solank dit nie die geval is nie, wil ek nie hê jong taalgebruikers moet daaraan deelneem nie. Ek ken wel die woorde en die spelling, maar ek vermy sulke stereotiperende terme so ver ek kan.

My raad aan die opleiers van die jonger geslag is om leerders sensitief te maak vir wat taal doen. Dit is ʼn kommunikasiemiddel, ja, maar dit kommunikeer soms meer as wat ons besef, en dit is ons verantwoordelikheid as opvoeders om jong taalgebruikers daarop bedag te maak. As ek weet daar is probleme met genderstereotiperende terme en ek dring aan daarop om na iemand as ʼn "voorsitster" te verwys, sê dit minder oor die voorsitter as wat dit oor my sê. Kinders moet dit weet, want hulle moet besef dat hulle taalgebruik nie net hulle omgewing nie, maar hulle self stereotipeer. Hulle is per slot van rekening in die skool om te leer dink, nie om (net) te leer wat die vroulik vorm vir "kok" is nie. (Vir dié wat dit nie weet nie, dis "kokkin", en ja, dit was vroeër so in skoolhandboeke opgeneem.)

VivA-groete

Sophia

Lees 2866 tye

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK