Hoe lank voor ons ook sê: "We prefer English"?

Geplaas deur Gerhard van Huyssteen Maandag 19 Februarie 2018
Gepubliseer in VivA;

 

So byna tien jaar gelede had ek die voorreg om by die eens glorieryke Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) te werk. Die twee jaar “diensplig” daar was besonder leersaam, nie net ten opsigte van navorsing en tegnologie nie …

Ek bevind my in ʼn ryke multikulturele en veeltalige omgewing. As taalkundige boei die talige taferele wat voor my afspeel, my eindeloos. Ek sien die uitdagings en interessanthede van Engels as lingua franca. Terselfdertyd probeer ek ʼn bietjie van die ander mense se tale leer, om darem ten minste “hallo” en “totsiens” vir my kollegas te kan sê.

My direkte hoof is mevrou Kagiso Chikane, eggenoot van die apartheidstrydros eerwaarde Frank Chikane wie se voete destyds deur oudminister Adriaan Vlok gewas is. Sy is ʼn waardige vrou; altyd voortreflik geklee as sy uit haar blink Mercedes-Benz klim.

In die eerste paar weke wat ek daar werk, groet ek haar in die verbygang altyd vrolik met ʼn Setswana “Dumela, Mofumahadi Chikane”, gewoon omdat dit die Afrikataal is wat makliker oor my tong rol.

Dan groet sy styf-vriendelik terug: “Good morning, Gerhard.”

Ek vermoed heimlik dat sy dalk nie van die gesetswanary van my hou nie, dalkies omdat haar moedertaal – as ek reg onthou – Xitsonga is. By die eerste en beste private gesprek wat ons het, vra ek haar uit oor die kwessie.

“Beskou u my as respekloos as ek u in Setswana groet, mevrou?” vra ek in my beste Pretoria-Engels.

“Well, yes, I don’t like it.”

“So, leer my dan om u in Xitsonga te groet. Ek leer graag!”

Sy verskuif ongemaklik agter haar lessenaar.

“Actually, I would prefer it if you greet and address me in English.”

En net daar het ek een van die interessantste en insiggewendste gesprekke oor taal.

As selfopgelegde (sover ek kan agterkom) uitgewekenes in Amerika, het sy en die eerwaarde eintlik heeltemal verengels. Selfs ná hulle terugkoms na Suid-Afrika het Engels hulle huistaal gebly.

“I never speak anything else but English with my children and grandchildren. That is our language now.”

“En met ander Afrikane hier in Pretoria? Byvoorbeeld met die pompjoggie by Caltex, of die kassier by Spar?”

“Never! That would be a sure sign of disrespect.”

My bek hang letterlik oop: “Hoe bedoel mevrou nou?”

“You see, back in those days, you white people wanted us to speak African languages, far away in the homelands you created for us. That was a way of keeping us uneducated, of depriving us of opportunities. So, if you couldn’t speak English, you were a second-hand citizen, and you would receive second-hand treatment. And it is still like that today. If I speak Xitsonga with the car guard, I get second-hand treatment. And if I speak English with him, I show him that I respect him as a human in his own right.”

21 Februarie is jaarliks Internasionale Moedertaaldag en daarom is Februarie moedertaalmaand by Afrikaans.com. Gaan lees, kyk en luister gerus op hulle webblad na al die insiggewende perspektiewe.

Maar in my binnekamer wonder ek stil-stil hoe lank dit nog gaan duur voor Afrikaanse mense ook sê: “We prefer English, because we don’t want to be second-hand citizens.

Luister ook na die podsending wat oor hierdie rubriek handel.

Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 17 Februarie 2018 verskyn.

Beeld logo

Lees 469 tye Laaste modifikasie op Maandag 19 Februarie 2018 08:43

1 kommentaar

  • Kommentaarskakel Marc Sacco Vrydag 23 Februarie 2018 12:17 geplaas deur Marc Sacco

    Ek is n Engelssprekende Suid Afikaner wat nou al 30 jaar in Amerika gewoon het. In die laaste fyf jaar(ek is nou 60) het ek begin om Afrikaans te praat. En die rede daarvan is dat ek Afrikaanse poesie ontdek het- Jonker Breytenbach Van Wyk Louw Opperman Antjie Krog
    ens. Afrikaans gaan nooit nie sterf nie- hierdie klomp mense het daarvan seker gemaak

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK