Afrikaans is toe al die tyd eintlik nooit onderbreek nie

Geplaas deur Gerhard van Huyssteen Saterdag 24 Februarie 2018
Gepubliseer in VivA;

“Sal jy asseblief stilbly terwyl ek besig is om jou te onderbreek?” – Todd Rockefeller

Die afgelope Woensdagaand was ek ʼn genodigde spreker by AfriVriendelik se jaarlikse Tinteltong Toekennings. Aanvanklik wou ek die uitnodiging van die hand wys, want my eerste reaksie was dat “Tinteltong Toekennings” vas geskryf moet word. Ek besef toe dat hulle hulle waarskynlik slimweg op reël 15.6 van die Afrikaanse woordelys en spelreëls beroep het, want daarvolgens is “Tinteltongtoekennings” en “Tinteltong-toekennings” en “Tinteltong-Toekennings” én “Tinteltong Toekennings” korrek. Ek aanvaar toe maar die uitnodiging taalkundig eervol.

Met die Tinteltong Toekennings word erkenning gegee aan sakeondernemings wat Afrikaans as dienstaal gebruik, ondersteun en uitbou. 15 toekennings word gemaak: van beste logo tot beste slagspreuk; van beste kliëntediens tot beste uitgewer.

Terwyl ek stort en skeer, sien ek swaar op na die aandjie. Ek verwag ʼn gelaertrekkery deur ʼn klomp óú, stroewe en stoere Afrikanersakelui, ortodoks gebaadjie en gedas, met gesprekke wat hoofsaaklik handel oor die agteruitgang van Afrikaans as gevolg van die regering se miskenning van Die Taal.

Moes ek lelik op my neus kyk!

Die venue is een van die sjiekstes in Pretoria, duur sjampanje en opgesmukte kanapees word by aankoms bedien, en oral staan mense in groepies en lag – opgetof en uitgevat, kleurvol en gesellig. (Aanvanklik sukkel ek om te onderskei tussen boerebaard en hipsterbaard, maar deur die loop van die aand word dit duidelik dat 98% van die baardgesigte wél hippe hipsters is.)Kallie Kriel, Gerhard van Huyssteen en Willie Spies

My vooropgestelde stort-en-skeerverwagtinge word van alle waarheid ontdaan:

  1. Daar is geen gelaertrekkery nie. Sakeondernemings met Engelse name word genomineer en wen pryse. (Hopelik sien ʼn mens wel in die toekoms ook meer bruin, Indiër- of swart Afrikaanse entrepreneurs by die geleentheid.)
  2. Niemand is oud, stroef en stoer nie. My selfvermeende jeugdige laatveertigs ten spyt, ek tel onder die oudste 20% van die genodigdes. Die gaste se gemiddelde ouderdom is waarskynlik 30, want die pryswenners en hulle modieuse entourages is almal nog bietjie baard maar klipsteenhard. Jong mense (en verál jong vroue) in die sakewêreld is klaarblyklik doenig in Afrikaans, terwyl ek eintlik gedink het dis Engels, Engels, alles Engels daarbuite.
  3. En niks se gesanik oor die behoud of bedreiging van Afrikaans nie …

Nog ʼn verrassing is dat ek twee van my studentedaevriende raakloop: Willie Spies (van Hurter Spies Inc. en Pretoria FM) en Kallie Kriel (van AfriForum). Ons is almal ʼn paar kilogramme gewigtiger (Willie miskien die minste), meer beplooid (Kallie gewis die minste) en ewe swaar bebrild. Ons groet mekaar hartlik en neem ʼn selfie.

Nou ja, “studentedaevriende” is perdalkies ʼn groot woord om die drie van ons te beskryf. Toentertyd het ons saam op die studenteraad gedien, maar oor-en-weer-kuiervriende was ons nou nie juis eintlik nie. Sien, ons het toe al hemelsbreed van mekaar se politieke standpunte verskil.

En hoekom kan ons vandag nog opreg vriendelik en hartlik saam ʼn selfie neem? Want van destyds af het jy stilgebly as een van die ander jou onderbreek het. Of dalk het ons mekaar nooit onderbreek nie? Of dalk was dit gewoon omdat ons altyd met mekaar kon spot en saam kon lag, met ʼn angel wat ontbreek …

Luister ook na die podsending wat oor hierdie rubriek handel.

Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 24 Februarie 2018 verskyn.

Beeld logo

Lees 643 tye

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK