Taalskatte laat tone en hare krul van plesier

Geplaas deur Gerhard van Huyssteen Saterdag 10 Maart 2018
Gepubliseer in VivA;

Kyk, as jy vir my wil vang, hoef jy nie ʼn wip te stel nie: Sê net vir my daar is iewers ʼn skryfbehoefte- of ysterwarewinkel, en jy kan my Simsonlokke met ʼn stomp skêr afskeer. Ek weet nie wat die bekoring is nie – dalk maak dit my verlang na kleintyd se speel in die stoor op ons plaas, of na my en my niggie se biblioteek-biblioteekspelery. (Ons het slegs één keer gewaag om dokter-dokter te speel; daarna moes ons noodgedwonge opgradeer …)

In ysterwarewinkels (oftewel “hardewarewinkels” vir die minder puriteinses onder ons) stel ek belang in die skroefietjies en moerietjies, die handvatsels en toiletsitplekke, houtdeure en -geure, verwe, gomme, tuinstelle, goggadoders, swembadware, lappe, tuinhandskoene en iets vir die honde. (By my om die hoek is nog so ʼn ouwêreldse ysterwarewinkel met twee ervare omies wat rooi voorskote dra en sleutels sny.)

In die ysterwaresupermarkte hou ek egter altyd links verby die Masjiene. Ek weet nie wat dit is nie, maar die Masjiene intimideer my. Byvoorbeeld: Ek het ʼn paar maande gelede ʼn elektriese skroewedraaier gekoop; tuis gekom het ek die skroewe van my splinternuwe vensterrame in hulle peetjie in verdraai; toe maar weer die ding gaan teruggee en so half-half gejok dat ek dit as ʼn geskenk vir iemand gekoop het, maar dat die persoon al ene het, baie dankie. Ek bly dus weg van die Masjiene.

Stuur Maarten Venter hierdie week vir my ʼn skakel na Adendorff Machinery Mart se webwerf, met die opdrag om hulle Afrikaanse brosjure af te laai en te bestudeer.

Nou kyk, in my tipe beroep ontvang ʼn mens byna daagliks klagtes van ontsteldes en omgekraptes oor die taalgebruik in die-en-daai se publikasie, of dese-en-gene se TV- of radioprogram. Ek verwag dus die ergste.

Heel bo staan: “Sien ons webtuiste vir volledige kontakbesonderhede, wenke, video’s, meer produkinligting en bepalings en voorwaardes.” Ek lees weer. Daar is dan nie ʼn én-ké-lé fout nie?! Wat het geword van “termes en kondisies” wat ons deesdae oral lees en hoor? Wanneer laas het jy gesien dat iemand “kontakbesonderhede” en “produkinligting” korrek skryf? Dit is gewoon ongehoord om ʼn sin sonder ʼn fout te kry! (Nou ja, die punteneuriges sou kon sê dat daar ingevolge 13.35.d van die Afrikaanse woordelys en spelreëls ʼn komma voor die eerste “en” hoort, maar diesulkes is maar vitterig, as jy my vra.)

Dwarssleebankskroewe

En so raak ek verdwaald in die brosjure van ʼn volledig tweetalige sakeonderneming wat duidelik nie skroom om geld aan ʼn goeie vertaler en/of taalversorger te bestee nie. Daar is nie ʼn koppelteken, komma of punt uit sy plek nie. Van “62-stuk-gereedskapstel” en “50 mm-waterpomp”, tot “snytap- en splitdraadsnymoerstelle”. Só geskrywe, sonder die vermaledyde verdommingskoppelteken! My tone én hare begin van lekkerkry krul.

En die name van al die Masjiene:

Vasstamper; wisselrigter-sweismasjien; vinnigruilbeitelhouer; metaaldraadsnydraaibank met gangwissel; hidrouliese bandsae (nié *hidroliese nie); pneumatiese naelklinkers; suigtoevoersproeispuite; freesmasjiene (nee, vreesmasjiene is iets anders); voetknipmasjien; kis- en panplaatmetaal-voumasjiene; gliprollers; draaiflensbuigmasjien; banktapgatmasjien; bossiekappers; awegaars; draagbare loopteleskoop.

Ek lees my in ʼn asmatiese euforie in, my vrese vir die masjiene vir ewig verby.

Kan iemand asseblief reël dat dié mense ʼn paar liters Bell’s kry?

Luister ook na die podsending wat oor hierdie rubriek handel.

Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 09 Maart 2018  verskyn.

Beeld logo

Lees 824 tye Laaste modifikasie op Saterdag 10 Maart 2018 05:55

1 kommentaar

  • Kommentaarskakel Christine Marais Dinsdag 13 Maart 2018 10:18 geplaas deur Christine Marais

    Werklik prysenswaardig!! Stel asseblief 'n termlys saam van hierdie terme met hul Engelse ekwivalente ... Die vertaler of taalversorger beskik dalk oor 'n skatkis van sulke terme - hark hom/haar nader vir meer, selfs al kos dit nog meer Bell's ; )

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK