Dié vroue was reuse in taal se ontwikkeling

Geplaas deur Gerhard van Huyssteen Sondag 18 Maart 2018
Gepubliseer in VivA;

ʼn Leemte in die geskiedskrywing oor Afrikaans is die rol wat vrouetaalkundiges in die ontwikkeling van Afrikaans gespeel het. Na my wete en snuffele is daar nog geen navorsing oor dié onderwerp gedoen nie, in teenstelling met navorsing oor die rol van literatrises (!) en ander vrouebydraers in die ontwikkeling van Afrikaans.

Anna de Villiers kan as die eerste regte-egte Afrikaanse vrouetaalkundige beskou word. Sy was ʼn merkwaardige vrou wat reeds in 1927 by die Buro van die WAT as assistent aangestel is en later ook as die eerste vroueredaksielid van dié woordeboek. In 1934 behaal sy haar doktorsgraad aan die Universiteit Stellenbosch, en haar proefskrif (Die Hollandse taalbeweging in Suid-Afrika) word in 1936 deur Nasionale Pers gepubliseer. By haar afsterwe in 1979 beskryf die destydse Oggendblad haar as ʼn “vroue-taalreus”.

(Terloops, Terloops, sy vertolk ʼn kameerol in die baie ingewikkelde en befaamde liefdestrilogie/-kwartet/-kwintet/-sekstet/-septet/ens. van die 1930’s, waarvan onder andere Hettie Smit, WEG Louw, Fred le Roux (ook bekend as Kees Konyn!) en Truida Pohl deel was. Sien, onse Dok Anna was kortstondig verloof aan die digter ID du Plessis (skrywer van onder andere Vreemde liefde en – hou vas! – Hasie by die dam). Ná verbreking van die verlowing word … Nee wag, ek dwaal skinderagtig af!)

Vóór haar het Lydia van Niekerk al in 1916 aan die Universiteit van Amsterdam gepromoveer met 'n proefskrif oor letterkundige voortbrengsels van die eerste Afrikaanse taalbeweging. Sy spesialiseer dus eintlik meer in die letterkunde en word later ook die eerste vrou wat as professor aan die Universiteit Stellenbosch aangestel word.

Nog ʼn Afrikaanse vrouetaalreus wat eers in die letterkunde rondgekuier het, maar toe die Smal Pad van die Taalkunde gevind het, is Edith Raidt, wat in 1965 aan die Universiteit van Kaapstad promoveer met ʼn proefskrif oor die geskiedenis van die byvoeglike verbuiging in Nederlands en Afrikaans (in 1968 gepubliseer by Nasou). Sy trap diep spore in die Afrikaanse historiese taalkunde, en iewers gedurende 2018 (meer as ʼn halfeeu ná haar taalkundige debuut) sal deel 2 van haar en Wannie Carstens se Die storie van Afrikaans verskyn.

Vroue soos De Villiers en Raidt was indertyd die alleenlopers in ʼn manswêreld, maar intussen is die bordjies verhang. Uit ʼn aanlyn blitsondersoek oor Afrikaanse taalkundiges aan ses universiteite blyk dit dat die verhouding mans:vroue in 2018 ongeveer 40:60 is.

In die Taalkommissie is tweederdes van die lede deesdae vroue, insluitende die ondervoorsitter en sekretaris. Dit het egter meer as 75 jaar vanaf dié liggaam se totstandkoming geduur voordat die eerste vroue (Ilse Feinauer en Joey Swanepoel) in 1992 daarin benoem is. Ná hulle volg talle vrouetaalreuse, soos Anna Coetzee, Adelia Carstens en Mariëtta Alberts (om maar drie te noem).

Lesers van hierdie rubriek sal voortaan ook die stem van ʼn ander bekende vrou in die Afrikaanse taalwêreld hoor. Vanaf volgende week sal ek en Jana Luther hierdie rubriekruimte met ongereelde afwisseling deel. Jana is ʼn senior taalpraktisyn by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, redakteur van die HAT en nuutverkose sekretaris van die Taalkommissie. Sy is ook deel van die Twitterati; volg haar solank by @janaluther en @viva_afrikaans.

Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 16 Maart 2018 verskyn.

Beeld logo

Lees 360 tye

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK