Ontmoet ons uitblinkers - VivA-beurshouers 2018

Geplaas deur Sophia Kapp Vrydag 23 Maart 2018
Gepubliseer in Nuus;

VivA het hierdie jaar weer studiebeurse toegeken aan topstudente dwarsoor die land wat in hulle derde- of honneursjaar in Afrikaanse taalkunde spesialiseer. Ons is baie trots op ons beurshouers en spog graag so ʼn bietjie met hulle in hierdie blog.

kinders

In die middel is Carla Lindt, en dan kloksgewys van bo links: Nicolette Harmse, Monique Rabé, Anneke Luijk, Cherylee Frantz, Amoré Blignaut en Roné van Wyk.

Carla Lindt het reeds in haar voorgraadse jare ʼn VivA-beurs ontvang, en doen nou haar honneurs in Afrikaans by UWK. Sy sê haar dosent, prof Frank Hendricks, het haar geïnspireer, en veral die studie oor kontekstuele taalkunde was vir haar baie interessant omdat dit Kaaps ondersoek het, die variëteit van Afrikaans wat sy self goed ken. "Dit maak nie saak of jy Afrikaans- of Engelssprekend is nie, jy kan nog steeds die taal leer en daarin presteer. Die meeste Afrikaansprekendes is die ongelooflikste mense," sê sy.

Nicolette Harmse is die ander beurshouer wat vantevore ʼn VivA-beurs ontvang het. Sy doen haar honneurs in Afrikaanse, Nederlandse en Duitse linguistiek aan die NWU in Potchefstroom. Sy het groot planne vir verdere studie, was reeds ʼn uitruilstudent in Duitsland, en wil graag eendag ook akademiese bande met Nederland smee. "Ek het nog altyd 'n passie vir tale, en in besonder vir my moedertaal - Afrikaans! Afrikaans is ʼn gevoel van behoort," sê Nicolette.

Amoré Blignaut doen tans haar honneurs aan UJ. Sy wou aanvanklik drama studeer, maar het later besef onderwys is haar roeping, en Afrikaans haar passie. Sy het al verskeie geleenthede gehad om uit te blink, en het onder andere saam met die legendariese prof Jac Conradie ʼn kongres in Nederland bygewoon. "Afrikaans is soos poeding," sê Amoré. "Dit is lekker en proe nooit soos werk nie."

 

Nog ʼn NWU-honneursstudent in Afrikaans, Monique Rabe, se kop staan ook onderwys, en moontlik later akademie toe. Sy wil haar graag toespits op toegepaste taalkunde. Haar raad aan voornemende studente is om hulle geleenthede in Afrikaans aan te gryp. "Daar is tans eindelose geleenthede en werksmoontlikhede wat Afrikaanse taalkunde betref. Daarom sal ek enige een wat daaraan dink om hul studies voort te sit met 'n toepaslike graad in Afrikaans, ten sterkste aanmoedig om dit te doen."

 

"Afrikaans is baie wyer as wat ’n mens op skool geleer is. Op universiteit kyk ons baie dieper na die taal se geskiedenis, die woorde, die literatuur en natuurlik vertaling en redigering. Jou uitkyk verander heeltemal en jy leer verstaan hoe die taalkwessies in ons eie land werk." Só sê Anneke Luijk, 'n derdejaar aan die US, wat ook mal is oor skryf. Sy wil graag 'n taalpraktisyn word en beoog om 'n honneurs in redigering en vertaling aan te pak.

 

Haar onderwysers op hoërskool was haar inspirasie om verder te studeer in Afrikaans, sê Roné van Wyk van die NWU se Potchefstroomkampus. "Afrikaans was nog altyd my passie, dis die taal waarin ek my effektief en akkuraat kan uitdruk," sê sy. "Afrikaans is 'n taal wat onlangs gekritiseer is en baie druk ervaar. Dit is juis dan die verantwoordelikheid van diegene wat die taal liefhet en geniet om  te help ontwikkel aan 'n nuwe beeld vir Afrikaans – een waarop elkeen kan trots wees."

 

Cherylee Frantz is tans 'n derdejaar aan die US. "Afrikaans is my huistaal. Dis die taal waarin ek praat, lag en leef. Ek het grootgeword in ʼn Afrikaanse familie en met my eerste kennismaking met Afrikaans op laerskool het ek geweet dat dit ʼn spesiale plek in my lewe sal hê," sê sy. Sy wil graag ʼn joernalis word, of dalk ʼn onderwyser, sodat sy haar passie met ʼn volgende generasie kan deel. "Afrikaans is nie net ʼn taal nie. Dis ʼn kultuur en vorm deel van wie en wat jy is; so dit speel ʼn groter rol in jou lewe as wat jy dink. As jy regtig passievol oor Afrikaans is, moet jy iets doen wat jou toelaat om daardie passie uit te leef. Moet nooit skaam voel om Afrikaans te wees nie."

 

Ons wens al hierdie uitblinkers alles van die beste toe, en glo dat hulle nog diep spore in die Afrikaanse taalwêreld gaan trap.

 

VivA-groete

Sophia

Lees 2174 tye Laaste modifikasie op Vrydag 23 Maart 2018 14:54

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK