Van huisraad tot kos, waarom nie ook retro-taal nie?

Geplaas deur Jana Luther Vrydag 23 Maart 2018
Gepubliseer in VivA;

Hierdie blog is ’n uitgebreide en verrykte weergawe van ’n rubriek wat op Vrydag 23 Maart in Beeld verskyn het, en wat jy hier kan lees.

 

Seisoen ná seisoen bly retro-giere en retro-modes in die nuus. Retro – van die Latynse voorvoegsel re-, wat “opnuut”, “van voor af” beteken, en die bywoord retro,agtertoe”, “terugwaarts”. Retro is ook ’n verkorting van die byvoeglike naamwoord retrospektief met die sinoniem terugskouend. Want ons kyk graag terug.

Van die 1970’s al verwys die woord retro na die nabootsing van voorkomste wat in vroeëre eras, in toeka se tyd, gewild was. Blaai ’n mens deur ’n stapel ou tydskrifte kom jy dit gou agter:

“Ons keer terug na die veertigs met getailleerde pakke …

“Daar’s die retro-boetiek met die goed uit die vyftigs. Dis nou rêrig mooi; só in die mode …

“Die geometriese patrone van die smeulende sestigs is terug …

“Retro-fietse uit die sewentigs is weer in in Brittanje …

“Dra jou denims met ’n tikkie retrosjiek …

“Goeie nuus! Dié retro-lipstiffie sal by ál jou uitrustings pas …”

Retro-bekers, -kleure, -kolle, -kussings, -lampe, -stoele; retro-haarstyle, -beenkouse, -broeke; van retro-suède-tekkies tot retro-popmusiek; retro-armbande en -oorbelle en antieksjiek nommertjies tot retrotrouvenues en retro-klassieke geregte.

Op Facebook is Ali en Magriet se Huisraad Quirky Finds and Collectibles een van my gunstelinge. Van “gatskop- ou radio’s”, retro-TV-trollies en “windgattafeltjies” uit die jare vyftig kom verby, “kaaltannieskilderye” tot art deco-pronkstukke.

 

Soos Laurika Rauch sing: “Ons gee ons oor aan die nostalgie.”

So, hoekom nie uit dié oude doos, terselfdertyd, ook sommer ’n paar ouma- en oupawoorde afstof nie? Soos die naam van nog ’n sosialemediablad met digby die 10 000 lede dit stel: Argaïese Afrikaanse uitdrukkings is cool!

Og, ja, nou nie álmal nie. Uit die sesde papieruitgawe van die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal is altesame 3 246 Noagwoorde weggelaat, en al staan baie van hierdie oues nog in HAT Aanlyn (wat jy ook in VivA se woordeboekportaal kry), wek nie almal ewe veel nostalgie nie: Niemand bel meer aan as hy of sy die deurklokkie lui nie. Iemand is dalk lief, maar nie aanminlik nie. As jy vra of jy jou hand mag gebruik om ’n beentjie af te kluif (“kou”), of in Ouma se babbeljoentjie (“hemelbed”) mag slaap, sal mense gou-gou sê jy basel (“praat kaf”).

Wie word nog gebenedy (“geseën”)? Van vlugtelinge wat berooid (“van hulle aardse besittings gestroop”) oor die aardbol swerf, hoor niemand nie. Ons word dalk besteel, maar bestolenes is ons nie. Heilgimnas en heilgimnastiek vir fisioterapeut en fisioterapie? Kinderskaar vir ’n groep kinders, kloekmoedig vir dapper, kondoleansie vir medelye, pompelmoere vir appelliefies? Sak, Sarel.

Nie elke oue is ’n goue nie, nee sekerlik nie. ’n Lewende taal word daaraan uitgeken dat dit verander. Laat ons niks verwerp omdat dit nuut is nie! Piet Verdriete se sikkeneurigheid oor elke pikkedil, pikeer net soveel as mense wat vir woorde soos sikkeneurigheid (“foutvinderigheid”), pikkedil (“kleinigheid”) en pikeer (“irriteer”) (nie almal in dieselfde sin nie) hulle wenkbroue lig.

Ten opsigte van eietydse taalgebruik is hiperkritiese houdings, taalluiheid en mense wat gedurig daarop uit is om vir ander oor hulle taalgebruik te lag, ewe ongewens. As gevolg daarvan word ouer maar steeds bruikbare woorde in die doofpot gestop, en as bruikbare woorde en betekenisse wat verdwyn, nie deur ander woorde met dieselfde betekenis vervang word nie, verarm die taal, verloor dit seggingskrag.

Tooi gerus dus jóú Afrikaans, nes jou huis en jou lyf, na jóú sin. En doen dit ook met ’n tikkie retro, as jy wil. Wat van bebrou? Piet bebrou alles. Beknor? Daardie twee beknor mekaar al die hele week. Bral? E. se gebral (‘gespog’) staan my nie aan nie. Wys my wie’s nie moeg vir gluiperige (‘huigelagtige’) politici nie? Sy kan T. se glunderende (‘selfvoldane’) bakkies nie langer verduur nie. Gerda is vandag weer uiters kittelorig (‘opvlieend’). Die kinders ravot (‘speel uitbundig’). Ek het al weer my tyd hier sit en verbabbel. Die dief is geswind (“gedenk aan Klaas Geswind syn perd”, “rats”) oor die muur.

Ouderwets? Dalk. Maar beskou dit as ’n nostalgie-ding. Verhinder niemand om sy of haar dubbeltjies in Afrikaans se armbus te gooi nie, en spits gerus die ore: ’n Taal met byderwetse ritmes en hier en daar ’n retro-klank is jonk en funky.

Lees 1615 tye Laaste modifikasie op Vrydag 06 April 2018 09:37

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK