In Afrikaans slaag talle uitinge wat geen vokale bevat nie, die woordtoets. Vergelyk die “mmm” van iemand wat oor iets wonder of peins; die ingesuigde “t”-, “ts”- of “tsk”-klank wat van ontevredenheid getuig, of wat herhaal kan word om spyt of jammerte te laat blyk: “t-t-t” of “tsk, tsk”. Dikwels met ’n tikkie sarkasme daarby. Soos in die volgende voorbeelde uit van ons fiksiekorpusse:
“Tsk, tsk, tsk,” sê die man en skud sy kop bejammerend.
“Tsk, tsk. Wie het jou dan so verskriklik seergemaak, h’m?”
Tsk! dink Thandiwe. Ons moes nooit hier kom woon het nie!
“Tsk, hy sal weer afkoel,” sê Rikki dikmond.
Klinkerawesigheid kom in Afrikaans net by uitroepe voor. Vergelyk byvoorbeeld ook die stilblyopdrag “sjt!”. In dié tussenwerpsel hoor ’n mens nie regtig ’n “u”-klank nie, al skryf ons liewer “sjuut”. Ons skryf “sjuut”, want “sjt” lyk waarskynlik vir ons vreemd. Die spelling van sulke tussenwerpsels – woorde sonder klinkers – is dikwels veral vir fiksieskrywers en hulle redakteurs problematies. So, hier is ’n paar riglyne.
Vergelyk die “b’r” van koud kry. Is dit baie koud? Voeg dan nog ’n “r” of twee by: “b’rrr”. Maar nooit meer as drie nie. (Verwant hieraan is klanknabootsing, byvoorbeeld: “Hy draai die sleutel en brrrrmmm-brrrrmmm brul die lorrie.” Ook in dié sin is drie “r’e” en drie “m’e” vir die onomatopee oorgenoeg. Meer is meestal te veel.)
“Pst!” trek iemand se aandag. As die persoon horende doof is: “Pssst!” (’n Kombinasie van medeklinkers wat ewe-eens klanknabootsend gebruik kan word, soos hier deur P.H. Nortjé in Wellington se suiker: “Toe ons weer sien, loop my vrou koes-koes tussen die bome deur met ’n blikkie insekdoder en sy spuit sover sy gaan. Psst! Psst! Die perdebye lag haar uit.”)
Dan is daar die ontevrede suig-klap-kiesklank, wat ’n mens in die plek van “ag!” of “ai!” kan gebruik: “Ag, kyk wat het ek aangevang!” Dié geluid kry selfs die knapste skrywer moeilik neergepen. Wyle Johan Combrink het voorgestel dat ons in skrif ’n “x” gebruik om dié tussenwerpsel weer te gee, maar dit het ek nog nooit teëgekom nie. Die meeste skrywers sê hier maar net dat dié of daardie karakter (met) sy of haar tong klik.
Naas “mmm” is ’n gewilde, universele tussenwerpsel “huh”. Dit word in vele tale gehoor. Die Nederlandse taalwetenskaplike Mark Dingemanse en ander het van “huh” ’n hele studie gemaak (kyk sy TED-video hier bo).
As iemand, veral ’n kind, nie hoor nie, hoor ’n mens dikwels: “Huh?”
Die vraag het haar onkant gevang. “Huh?” “Huh! Wat?”
“Uh, huh, o, hallo.”
“Huh” word gebruik om verbasing te laat blyk: “Huh? Laat ek sien, dis onmoontlik.” (Baie verbaas: “Huhhh?”)
Om vrae te stel: “Huh, John. Wat dink jy?” “Pa, wat gaan aan met daai plante, huh, Pa?” “Huh? Wat bedoel jy?”
Om uit te trap: “Vir wat sleep jy die kind saam, huh? Kan jy nie van beter geweet het nie?”
Om instemming te betuig, kan ’n mens se “huh” “uh-huh” word: “Kom jy môreaand?” “Uh-huh.”
“Uh-huh” kan ’n mens ook gebruik om te kenne te gee dat jy gehoor het, al stem jy nie saam nie.
Voeg ’n vraagteken by en dit word: “O, nè?”: “Ek praat nooit weer met jou nie.” “Uh-huh?”
By “huh” en “uh”, nes by “mmm” en die meeste ander tussenwerpsels, speel intonasie ’n belangrike rol. Laat daal of styg jou stem gepas, soms net ’n heel klein bietjie, en die betekenis verander.
Maar onthou daarby ook dié spreekwoord van Gerhard van Huyssteen: Net ’n aap “huh” as hy “ ’n” (al sal Mark Dingemanse en sy kollegas nie noodwendig hiermee saamstem nie).
Afrikaans het ten slotte ook die tussenwerpsel “ ’n-’n”. “ ’N-’n” word as ’n schwa-klank uitgespreek, soos die “i” in “sit”. Om te verstaan hoe “ ’n-’n” werk, moet ’n mens dit eintlik hardop sê. “H’m-’m.” Met jou mond toe. As jy jou mond effens oopmaak, verander die klank: “H’n-’n. H’ng-’ng.”
Vir elkeen van dié drie reduplikasievorme (die tweede deel is ’n gedeeltelike herhaling van die eerste) is daar ook ’n parallelle reduplikasievorm as wisselvorm sónder die “h”: “ ’m-’m”, “ ’n-’n” en “ ’ng-’ng”. Al ses beteken “nee”, met net effense nuanseverskille.
Maar laat jou nee, jou nee wees, en jou ja, ja. Vir elke “nee” hier bo is daar ’n ooreenstemmende simpleks (wat uit net die eerste deeltjie bestaan), wat “ja” beteken:
“H’m-’m” (nee) en “h’m” (ja); “ ’m-’m” (nee) en “ ’m” (ja), en so meer.
Die dubbelvorm beteken elke keer presies die teenoorgestelde as die enkelvorm.
Is jy verbaas, wil jy iets weet? Verander net jou intonasie. Laat die simpleksklank styg, en vra: “H’m?”
H’n?