Belt en kruisbande

Geplaas deur Jana Luther Saterdag 14 April 2018
Gepubliseer in VivA;

Hierdie blog is ’n uitgebreide en verrykte weergawe van ’n rubriek wat op Vrydag 13 April in Beeld verskyn het, en wat jy hier kan lees. 

WindhondBelt en kruisbande. Dit is ’n uitdrukking wat my pa graag gebruik het wanneer hy dubbele voorsorg getref het dat iets gebeur of onthou word. Net so is Afrikaans met sy dubbele nie ’n belt-en-kruisbandetaal. Dikwels is twee nie eens genoeg nie, want hoor ’n mens nie soms: “Julle vertel my ook nooit niks nie!”?

Dit kom voor of ons ’n onbewuste, ingebore drang tot nadruklikheid het wat ons nie suinig met woorde maak nie. Ons maak seker ons word begryp. Dubbelseker. 

Haar pa is skat-skatryk. Die muisie is piep-piepklein. Die beskuit is klip-kliphard. Aan die ander kant van die draad is die wêreld gras-grasgroen.

In teenstelling met Nederlands en Afrikaans se ander Europese stamtale is reduplikasie in Afrikaans hoogs produktief.

Ons vra baie, baie mooi. Ons sê baie, baie dankie. Ons word een keer siek en twee keer gesond. Ons gaan een keer weg en kom twee keer terug:

Het Jan-Jan al masels gehad?

Ja, maar hy was gou-gou (weer?) beter.

Hulle ry Vrydag en kom Sondag (weer?) terug.

Dis ’n klein tafeltjie, ’n klein blommetjie, ’n klein(-klein) mensie. Ons verklein ook sommer twee (of drie) keer. Om nie te praat van die persoon wat ek op Facebook sien skryf van sulke klein ou mensietjies(?!) nie.

Gooi die bestanddele in ’n bak en meng dit goed (saam?). Sy wil nie inmeng nie; haar kinders moet (self?) hulle (eie?) probleme oplos, (self?) hulle (eie?) besluite neem. Hulle het van Johannesburg (af?) tot in die Kaap gery. Wanneer kom jy weer na die klub (toe?). Pak die koekies om die rand van die pan in ’n “ronde sirkel”, sê Sarie in haar Charlotte Russe-resep. Smul lekker (?) by Huis Uitsig se basaarfees, nooi TygerBurger. In Januarie het Suid-Korea se president voorgestel dat sy land se gesamentlike militêre oefening met die VSA ter wille van die Olimpiese Winterspele “tot later (?) uitgestel word”. Landbou.com berig verlede week dat boere by ’n depot betoog het nadat mielieaankope tydelik (?) opgeskort is omdat die skure te vol was. Kalahari Bulletin berig vandeesweek: “Die kluis was oop, maar egter (?) leeg.”

Afrikaanspraters is dubbelpraters. Ons druk graag met pleonasmes soos hier bo één betekenis twee keer uit. Ook met toutologieë – saamgestelde woorde waarvan die dele dieselfde betekenis herhaal: “Bou goeie menseverhoudings met medekollegas en bou gemeenskapsbande,” deel ’n onderwyser haar suksesresep. “Dit is moeilik om in onsekere omstandighede verstellings aan toekomsbeplanning te doen,” haal Netwerk24 iemand oor die waterkrisis aan. Toutologieë soos “medekollegas”, “toekomsbeplanning”, “vooruitbeplanning”, “opsionele keuses”, en so meer, het wyle Johan Combrink gesê, “is plek- en tydvreters sonder werklike kommunikasiebydrae”.

Nog ’n voorbeeld is kleinhoewe, waarvan die hoewe-deel reeds “klein plasie” beteken, gaan kyk maar in die HAT by hoewe. ’n Kleinhoewe is dus ’n klein-klein plasie, maar dié staan reeds so in die AWS, want toutologieë raak ingeburger.

Baie van hulle gebruik ons in Afrikaans onwetend, wanneer een van die dele van so ’n toutologie as selfstandige woord uitgesterf het. Voorbeelde van historiese (etimologiese) toutologieë, wat dan natuurlik nié meer swak styl is nie, is: boepens, diefstal, morsdood, tortelduif, volstruis, windhond, winkelhoek ...

Tortelduif bestaan uit tortel plus duif, waar tortel, van die Latynse woord turtur, reeds “duif” beteken. ’n Tortelduif is dus ’n “duifduif”, nes ’n volstruis ’n “voëlvoël” is, want vol kom van die Nederlandse vogel en struis van die Griekse woord strouthous wat oorspronklik “mossie” beteken het, maar later ook na ander voëls verwys het.

Windhond se wind was oorspronklik wint, en die hond-deel het eers later bygekom. Die wint was ’n hond van die Wende, ’n Slawiese volksgroep, en wint het reeds “hond” beteken.

Diefstal se stal was eens die handeling of daad van steel, diefte was ’n stelery. Nou steel ons twee maal. 

’n Lintwurm se lint kan ’n mens nie om jou hare bind nie, want dié lint was oorspronklik linkt, ’n (lenige) wurm of ’n slang of ’n draak. En wurm (met die oerbetekenis “draai”) beteken dus min of meer dieselfde. (Terloops, die Latynse woord vir wurm is vermis. En vermicelli, wat ons ook as fynhaarpasta of glasnoedels ken, is in Italiaans, ’n soort moderne Latyn, dus “klein wurmpies”.)

Boepens se boe is ’n verkorte vorm van dié boek wat in ou Nederlandse dialekte ’n wisselvorm van buik was. ’n Persoon met ’n boepens het dus ’n buik van ’n pens.

In Afrikaans gebruik ons dood om baie dinge te versterk. Iets kan doodgoed wees, of doodsleg. ’n Mens kan jou doodlag, of jy kan jou doodhuil. Maar hoe word dood self meer intensief? Hy gaan soek in Latyn. In Latyn is mors dood. As iets dooddood is, is dit morsdood.

Pleonasmes en toutologieë kán nuttig wees, veral as ’n mens dink mense gaan jou die eerste keer nie goed begryp nie. Daarom val die verskynsel veral in die spreektaal op. Hoe informeler ’n mens praat, hoe lekkerder jy gesels, hoe meer herhaal jy. Niks fout daarmee nie. Daarteenoor is pleonasmes in die skryftaal, en veral in professionele skryfwerk, dikwels ’n teken dat helder denke by sowel die skrywer as die subredakteur ontbreek het. Wie betaal word om inhoud te skep waarvoor lesers betaal, moet gereeld vra: Verseker ek dat doeltreffende kommunikasie plaasvind? Span ek stutte in omdat ek die seggingskrag van my woorde nie vertrou nie (en tyd my ontbreek)? Of is my taalgereedskap gewoon stomp en my denke slordig?

Lees 937 tye Laaste modifikasie op Woensdag 18 April 2018 18:25

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK