Gemaak en laat staan, dit is Afrikaans nog lank nie

Geplaas deur Jana Luther Saterdag 21 April 2018
Gepubliseer in VivA;

Hierdie blog is ’n uitgebreide, verrykte weergawe van ’n rubriek wat op Vrydag 20 April in Beeld verskyn het, en wat jy hier kan lees.

Een van die lekkertes van my werk by VivA is om dop te hou hoe Afrikaans verander. As ek herhaaldelik ’n nuwe woord sien: in verskillende publikasies, in die sosiale media, in blogs ... Herhaaldelik ’n nuwe woord hoor: oor die radio, in podsendings ... Herhaaldelik bestaande woorde in nuwe betekenisse gewaar ... Dan maak dit my bly, want Afrikaans word verryk en ek kan my vonds in VivA se woordeboekportaal gaan opteken.

Saam met elke dag se nuus kry Afrikaans nuwe woorde by. Ons leen, ons vertaal, ons skep self. Want so gemaak en so gelaat staan, is Afrikaans nog lank nie. Verslaggewers wat daagliks oor nuwe ontwikkelings, uitvindings, ontdekkings berig, speel ’n onmisbare rol om woordeboekmakers se aandag op nuwe woorde en nuwe betekenisse te vestig. Hier is ’n paar van my waarnemings van die afgelope week:

In April se Sarie gee Suzette Truter ’n oorsig van digitale geldeenhede. Haar artikel wemel van woorde soos “kriptogeld”, “kriptogeldeenhede”, “blokkettings” en “bitcoinmyners”. In Afrikaanse verklarende woordeboeke moet die jongste betekenisuitbreiding van die werkwoord “myn” nog verreken word, besef ek toe ek dit lees. Want “myn” het dan nou drie betekenisse: om diamante, goud en ander minerale uit die grond te grawe; om belangrike inligting tussen ’n klomp ander data te vind; én deesdae ook om deur ’n kriptografiese proses meer eenhede van ’n kriptogeldeenheid te verkry.

Laas Sondag berig Johan Eybers vir Rapport dat pasiënte by staatsklinieke binnekort nie meer ure in rye vir chroniese medisyne sal hoef te wag nie, danksy nuwe “kitsbank-apteke”, of “kitsbankklinieke”. Hy gebruik daarvoor ook die woorde “OTM-apteek” en “OTM-kliniek”, want die medisyne kom uit ’n masjien, soos geld uit ’n OTM. Dus: vier nuwe woorde vir een nuwe ding. Maar waarom “bank”? Dis nie ’n bank nie, ook nie ’n kliniek nie, want by ’n kliniek word mense ook ondersoek en van raad bedien. As jy my vra, is dit gewoon ’n kitsapteek, of dalk ’n OMM (’n outomatiese medisynemasjien).

Vir Huisgenoot gesels Richard van Rensburg met Johan Badenhorst van Voetspore-faam. Badenhorst gaan in ’n nuwe reeks vir VIA Suid-Afrikaanse mikrobrouerye se biere beproef, maar “beslis nie ‘boetiekbier’ nie”, sê hy: Hy, die skrywer Johan Bakkes, en Ampie Kruger van die Wild Clover-brouery op Stellenbosch verkies “vakmansbier”, want “dis immers ’n vakman wat daaraan werk, en dit word behoorlik bewerk”.

Oor “boetiekbier” stem ek saam met hulle. Ek hóú van “vakmansbier”, maar gebruiksfrekwensie bepaal wat uiteindelik in die HAT staan. In die omgang is “boetiekbier” al taamlik gevestig. Gaan “vakmansbier” daarnaas vastrapplek kry? Die tyd sal leer. Ook wat vrouebiermakers van dié woord dink. (In Nederlands word “ambagtelike bier” gebruik. ‘n Mens sou dus ook van “ambagsbier” kon praat.)

’n Omstrede “selfdoodkapsule” was in die nuus; nie die medisynesoort nie, maar een wat soos ’n ruimtetuigie lyk. ’n Genadedoodaktivis wil desperate mense help om dit in 3D te druk sodat hulle daarin kan klim, ’n knoppie kan druk en hulle lewe met stikstof kan beëindig. Selfdood.

In Taalbank.nl  – die woordblog van Ton den Boon, hoofredakteur van die driedelige Groot Woordenboek van de Nederlandse taal, die Dikke van Dale – was “wanhoopsdood” onlangs die “woord van die dag”, ook “wanhoopsterfte” – uit ’n onderhoud van die Nederlandse Algemeen Dagblad met die Nobelpryswenner Sir Angus Deaton oor armoede. Den Boon definieer “wanhoopsterfte” as die dood van iemand wat weens uitsiglose lewensomstandighede sy/haar eie dood bewerkstellig deur ’n ongesonde lewenstyl, dwelmgebruik, alkoholgebruik of selfdood.

Bruikbare woorde, het ek gedink.

Hier is nog ’n paar uit Den Boon se Taalbank: “privaatheidskrisis” (ná die Facebookskandaal); “spieëldieet” (minder in die spieël kyk sodat ’n mens minder beswaard hoef te wees oor hoe jy lyk en minder skadelike grimering hoef te gebruik); en “berustingsindroom”, of “apatiesindroom”, waargeneem by vlugtelingkinders wat in hulleself gekeer raak en in ’n soort koma versink.

’n Nederlandse nuutskepping wat vir my interessant was maar wat waarskynlik nié sommer in Afrikaans inslag sal vind nie, is die woorddeel “joga-” as metafoor vir ’n gesonde, aandagtige lewenstyl, wat deesdae in Nederlands glo negatief gelaai word deur dit in samestellings te verbind met ’n tipe skadelike gedrag wat ’n mens nie gewoonlik sal verwag by iemand wat bewustelik gesond leef nie. So word ’n iemand wat gedurende die week ’n hipergesonde leefstyl handhaaf maar hom/haar dan oor naweke aan alkohol vergryp, ’n “jogadrinker” genoem, of ’n persoon wat van tyd tot tyd kokaien snuif maar andersins gesond leef, ’n “jogasnuiwer”.

Gewaar jy ook in die media, in berigte en artikels oor nuwe ontwikkelings, uitvindings en ontdekkings, nuwe Afrikaanse woorde en betekenisse wat nog nie in VivA se woordeboekportaal opgeneem is nie?

Kom meld hulle aan. By https://viva-afrikaans.org/varsgebek! 

Lees 895 tye Laaste modifikasie op Saterdag 21 April 2018 10:45

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK